Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 105

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die ontstaan van die sonnestelsels

105 (Die Heer:) "Kyk, soos wat die mense nou deur eieliefde, selfsug, hoogmoed en die daaruit voortvloeiende heerssug dermate materialisties word dat hulle hulleself nie gedurende talle duisende jare volledig daarvan sal kan bevry nie – net so was daar eens oorspronklik geskape geeste wat ook deur die bekoorlikheid wat aan hulle gegee is, te egoïsties, selfsugtig, hoogmoedig en uiteindelik heerssugtig geword het, en die gevolg daarvan was dat hulle in pure materie verander het.

[2] Hulle het hulle in groot gemeenskappe so ver van mekaar gevestig, dat die afstande vir julle onvoorstelbaar groot is. Elke gemeenskap wou niks meer van enige ander hoor, sien en gewaarword nie, om hulle tog maar algeheel te kon oorgee aan die eieliefde. Deurdat hulle steeds meer opgaan in eieliefde en selfsug, in die hoogmoed wat daardeur in toenemende mate ontwaak en die absolute heerssug, verskrompel die ontelbaar baie lewensvorms ten slotte volgens die wet van swaartekrag, wat uit die eieliefde en die selfsug vanself ontwikkel het, ineen tot `n enorme groot klomp - en so ontstaan die stoflike sentrale oerson van `n heelalsfeer.*

[3] Nou is daar net so in die oneindige ruimte `n groot menigte van sulke stelsels of heelalsfere (hulsengloben in Duits), waarby orals `n derglike oersentraalson die gemeenskaplike middelpunt is van tallose gebiede van wêrelde. Hierdie oersentraalsonne is nou die ineengeskrompelde gemeenskappe van oorspronklike geeste, waaruit na onvoorstelbaar lang tye alle ander sonheelalle, songebiede, newe-sentraalsonne, planetêre sonne, planete, mane en komete ontstaan het.

[4] Hoe het dit in die praktyk gewerk? Kyk, in die oersentraalson word die druk vir baie groot geeste te sterk! Hulle ontvlam gloeiend van toorn, en bevry hulle van die oerdruk. Hulle vlug letterlik oneindig ver weg van hul eerste gemeenskaplike klomp (verharde sfeer). `n Tyd lank swerm hulle heeltemal alleen, vry en onskuldig, ongebonde in die eindelose ruimte rond, en wend `n goeie poging aan om sonder meer opgeneem te word in die suiwer geestelike orde; maar omdat hulle hulleself nie kon bevry van die element van eieliefde nie, begin hulle hulleself ten slotte ook weer tot `n vaste klomp te verdig, (verharde sfeer) en so ontstaan daaruit in alle ontelbare heelalsfere (hulsglobes) die sentraalsonne van die tweede orde.

[5] In hierdie sentraalsonne van die tweede orde ontsteek die vernaamste geeste na verloop van tyd in toorn oor die steeds toenemende druk, hulle ontvlam en maak hulle in ontelbare menigtes los van die gemeenskaplike klompe (verharde sfere) van die tweede orde. Weer eens lyk dit asof hulle nou `n poging aanwend om in `n suiwer geestelike bestaan oor te gaan; maar omdat hulle na `n rukkie tog weer baie selfgenoegsaam word, en hulle nie volkome vry wil maak van die eieliefde nie, word hul stoflike gewig weer groter en hulle verskrompel eweneens weer tot groot klompe ineen, en daaruit ontstaan sentraalsonne van die derde klas.

[6] Maar weldra doen dieselfde beswaar hom voor as by die voorafgaande sentraalsonne. Die hoër geeste, wat in die minderheid is, word op die duur deur die laer geeste, wat nog steeds ontelbaar in aantal is, te sterk onder druk geplaas. Gou ontvlam hulle weer in toorn en as talle duisendmaal duisende skeur hulle hulleself met groot krag van die gemeenskaplike klomp los, met die vaste voorneme om nou eindelik in die suiwer geestelike oor te gaan. Onvoorstelbaar lang tye sweef hulle ver van mekaar verwyderd as eteriese newelmassas in die groot skeppingsruimte.

[7] Hierdie vryheid geval hulle as hulle terugdink aan die enorme druk wat hulle verduur het. Maar tydens hierdie werklose vryheid word hulle na verloop van tyd hongerig en hulle begin in die ruimte voedsel soek – `n versadiging van iewers van buite af dus. Dit vind hulle en moet hulle vind, want die begeerte is soos die noordelike magneetrots wat al die yster, asook alle ysterhoudende minerale, met onweerstaanbare krag na hom toe aantrek.

[8] Maar wat was die onvermydelike gevolg daarvan? Hul wese begin homself daardeur meer en meer te verdig; daarmee ontwaak ook al gou weer die eieliefde met sy nasleep, en die onontkombare resultaat is weer die ineenskrompeling tot `n gemeenskaplike klomp, waarvoor natuurlik wel altyd `n enorme groot aantal aardjare nodig is.

[9] Maar wat is selfs so `n lang tydperk vir die ewige God?! `n Siener uit die voortyd het gesê: ‘Duisend jaar is by God soos een dag!’ Ek sê vir julle: Duisendmaal duisend jaar is vir God in alle erns nouliks `n oomblik! Vir iemand wat lui is, word van pure verveling die ure dae en die dae jare. Vir die yweriges, en vir hulle wat baie het om te doen, word die ure oomblikke, en die weke dae. God is egter van ewigheid af vervul met `n oneindige werkywer, en altyd maar oneindig besig, en die gelukkige gevolg daarvan is dat tye wat vir julle onvoorstelbaar lank duur, vir Hom voorkom soos enkele oomblikke - en die voltooide skepping van `n son duur in Sy oë dan ook maar baie kort.

[10] Uit die nou as laaste ineenskrompeling wat beskryf is, ontstaan en ontstaan nog, die planetêre sonne, soos dié wat hierdie aarde belig. Sonne van hierdie soort is weliswaar in wese baie teerder en sagter as die sentraalsonne, maar besit tog `n kolossale hoeveelheid swaar materie as gevolg van die eieliefde van hul eons maal eons geeste, deur welke eieliefde nou juis so `n son tot `n klomp gevorm is. Vir die meer edele en beter geeste in hierdie ligklomp, word die druk van die kant van die laer geeste, wat algeheel materie geword het, dan mettertyd tog weer veels te swaar en ondraaglik. Die gevolg daarvan is, net soos by die vroeëre sonne, gewelddadigheid en uitbarsting na uitbarsting, en die beter geeste maak hulself vry.

[11] Op daardie tydstip ontwaak in hulle dan die reeds uiters ernstige wil om deur die nakom van die ware goddelike orde oor te gaan in die oorspronklike suiwer geestelike. Baie beveg die prikkel wat in hulle geplaas is en word oorspronklik geskape engele, sonder om voorlopig `n liggaamlike lewe deur te maak. Diegene wat hulle, hetsy dadelik op die son, of selfs op hierdie aarde, wel daaraan wil onderwerp, mag dit doen, wat egter ook, dit word hier weer eens vermeld, by die sentraalsonne wat vooraf beskryf is, die geval is - maar nie so dikwels as by name en veral by hierdie planetêre son nie, wat aan hierdie aarde die lig skenk, wat hoofsaaklik ontstaan deur die groot aktiwiteit van sy geeste.

[12] Maar enkele versamelings van geeste, wat hulle ook met die beste voornemens uit die sonneklomp losgemaak het, kon tog weer nie algeheel vrykom van die eieliefde nie, en begin hulle opnuut stadig maar seker aan die oerprikkel wat in hulle geplaas is, oor te gee; een ding lei gou tot `n ander, en so gaan dit ongemerk steeds voort!

[13] Nie lank daarna nie word hulle as newelagtige komete met `n lang stert reeds stoflik sigbaar. Wat beteken die stert? Dit is `n teken van die honger van die reeds stoflik wordende geeste, en die groot begeerte na stoflike versadiging. Hierdie verlange onttrek uit die eter die materie wat na haar genoeë is, en so `n komeet dwaal as `n samevatting van geeste wat reeds baie stoflik geword het, dan nog talle duisende jare in die groot eterruimte rond, en soek soos `n verskeurende wolf na voedsel.

[14] Deur hierdie voortdurende proses van opsuig en verslind, word hulle ook altyd digter en digter, en swaarder en swaarder. Mettertyd word hulle deur die son waaruit hulle ontsnap het, weer sodanig aangetrek dat hulle volgens orde daarom moet begin wentel. As hulle hulle eenmaal so `n orde moet laat welgeval, word hulle net so `n planeet soos hierdie aarde, die môre- en aandster, of Mars, Jupiter en Saturnus, en enkele van die planete wat aan julle onbekend is.

[15] Nou het daar dus `n planeet ontstaan en dit het nog steeds `n verskriklike honger, en omdat dit nouer bande met die son het as vantevore as `n komeet, kry dit van hom ook voldoende voedsel, wat tegelykertyd `n lokmiddel is om die een wat wil ontsnap, altyd nader en nader na hom aan te trek, en na lang tye weer algeheel in hom op te neem – `n prysenswaardige begeerte van die oorspronklik geskape geeste in die son, wat egter betreffende die heel groot planete, waartoe hierdie aarde ook gereken kan word, sekerlik nooit op dié wyse in vervulling sal gaan nie. Want ofskoon die geeste wat in die planete vasgevang is, nog in `n groot mate stoflik is, ken hulle die sonmaterie en het hulle geen spesiale behoefte, en is glad nie lus om hulle ooit weer algeheel met die son te verenig nie. Hulle neem die geeste en gesies wat uit die son na hulle toe kom baie graag as goeie versterking en voeding op, maar van `n algehele vereniging met die son wil hulle niks weet nie.

[16] Soms gebeur dit ook dat die geeste wat eenkeer gevlug het, in hul stoflike, klompvormige samevattende groep baie naby aan die son gelok en getrek word; maar die ontsaglike werkywer van die vryer geeste wat die harde sonklomp omgewe, en waaraan die liguitstraling van die buitenste sonoppervlak hoofsaaklik te danke is, maak dat alle geeste wat in die starre klomp saamgedronge is, bykans oombliklik gesamentlik oorgaan tot die groots moontlike aktiwiteit, uitmekaar stuif en elkeen vir homself dan, soos wat mens gewoonlik sê, die hasepad kies.

[17] Die resultaat van so `n ontwaakte aktiwiteit van geeste wat lank in `n planeet of ten minste in `n reeds ryper komeet saamgepers was, is dat die klomp plotseling geheel-en-al uiteenval, en dat talle duisend maal duisend, en nogmaals duisend maal duisend geeste verlos word. Die meeste van hulle, wat deur so `n les wys en verstandig geword het, is dadelik in die regte lewensorde, en word oorspronklik geskape engelegeeste en nuttige beskermers, sowel vir hul minder vrye lewensgeselle, asook vir hulle wat in harde klompe versmag, en hulle dra baie by tot hul vinniger verlossing." *

[Heelalsfeer (hulsglobe) = Die versameling van `n menigte sonnestelsels wat soos enkele planete om hul son hulle in onmeetlike, uitgestrekte bane rondom die sentrale oerson wentel. (JL)]


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205