Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 121

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Waarom die Heer hierdie onthullings doen

121 "Wat sal nou nog nie volkome duidelik vir ons wees nie?!" sê al die aanwesiges na die les van die engel.

[2] En hoofman Julius voeg daaraan toe: "As dit so voortgaan, sal ons binnekort self gode word! As dit moontlik sou wees om hierdie vermoë om helder te sien na willekeur te behou, sou ons as ons wil sterker word, self gode word en wonders doen; maar ons heldersiendheid is slegs `n gevolg van die magiese lig van die bol daar en ons wil is, soos ons kennis, gering en ons is en bly daarom swak mense!

[3] As ek nou in aanmerking neem en bedink wat net hierdie engel alles kan doen, terwyl vir die mees wilskragtige mens ook maar geen jota daarvan moontlik is nie, dan sien jy eers die oneindige verskil tussen God en mens. Dit is wel uitersduidelik: Vir God is alles moontlik en vir die mens niks nie. Laat ander hóé bly wees oor hierdie groot wysheid en mag van God, vir my maak dit geensins bly nie; want ek voel maar al te duidelik dat ek `n volkome nul is vergeleke met so `n engel soos RafaEl. Wat is ek dan wel vergeleke met God?! Nee, nee, dit is en beteken: niks!

[4] Nou weet en deurskou jy tog al ontsaglike dinge en jy sien wonder op wonder, sodat hoor en sien byna sou vergaan, maar probeer nou eers maar net met jou eie wil so `n vurige lang tong tot `n suiwer klomp te laat saamkom, o, dan bring jou wilskrag nog geen atoom uit sy plek nie, laat staan nog so `n vurige tong! Daarom glo ek dat dit beter is as mens baie minder weet en deurskou, omdat mens dan nie in die versoeking kan kom om ook wonders te wil doen nie. Ek word daarom nou reeds bang en angstig om die hart van louter kennis en insig! Waarom moet ek nou so ontsaglik baie sien, hoor, besef en weet?"

[5] Ek sê: "Sodat jy daarbenewens ook sal besef hoe min die mens uit homself is, en dat sy bestaan, wete, kennis en vermoë maar net van God afhang!

[6] Met jou eie wil sal jy helaas ewig tot niks in staat wees nie, soos wat ook hierdie engel met sy wil niks sou kon doen nie; as jy egter My wil tot jou wil gemaak het, sal jy ook kan doen wat hierdie engel kan!

[7] Nou is dit egter goed dat jy soveel weet en insien, maar daarby ook prakties begin besef dat jou eie wil buite jou liggaam min of niks kan doen nie. Jy kan alles deurskou en insien wat die engel insien en deurskou; maar as jy My wil en My wysheid nie jou eie gemaak het nie, baat alle kennis en insig jou helaas niks. Dit besorg jou, as jy vol dadedrang is, maar net pyn. En dit is ook goed; want slegs deur nederigheid word `n mens eers mens en `n ware kind van God!

[8] Origens word dit aan julle almal nie ter navolging getoon nie, maar alleenlik om God in My volledig te leer ken, ten einde dan des te vasberader dit te doen wat Ek, as die Skepper van al die lewe, julle ter wille van die vervolmaking van die lewe geleer en aan julle toevertrou het.

[9] Julle moet daardeur eers geestelik wedergebore word, want anders kan My wil nie daadwerklik in julle wortelskiet nie. As julle maar eenmaal met julle wil in soverre My wil jul eie maak dat julle vrywillig julle dade ondergeskik stel aan My wil en jul goed oefen om My wil wat deur julle erken word, volkome die opperheerskappy in julle te gee, dan word daardeur My gees oorvloedig lewend in julle en sal dit weldra julle hele wese deurdring.

[10] Deur die onvermoeide oefening in die doen van My wil, kry dit sy volle krag en wat hy dan algeheel in ooreenstemming met My sal wil, sal gebeur; maar soos gesê, eers dan - en nie voor dit nie!

[11] Die kennis moet nou eintlik die teuel wees waarmee julle jul wil laat ingaan in My wil; want julle moet nou deur My dade immers besef dat Ek beslis die Een is as wie Ek My nou voortdurend aan julle bekendmaak.

[12] As julle nou volkome daarvan oortuig is, sal dit vir julle immers des te makliker wees om My wil, wat sy oorsprong in die ewige, onmiskenbare waarheid het, nog makliker na te volg en dit daardeur jul eiendom te maak.

[13] Wanneer iemand julle `n pad aanraai en julle merk aan sy woorde dat hy waarskynlik self die pad nie heeltemal ken nie, sal julle jul wel tweemaal bedink voordat julle op die pad gaan wat hy julle gewys en beskryf het en julle sal sê: 'O, dan bly ons liewer waar ons is!' Maar wanneer julle uit iemand se woorde sonder meer kan uitmaak dat hy heeltemal bekend moet wees met die pad, omdat hy afkomstig is van die plek waarheen hy julle die pad tot in detail presies en goed beskryf het, dan sal julle sê: 'Hy weet dit en sy wil is goed, hy kan en sal ons nie mislei nie, en ons sal sonder bedenkinge die pad loop!' Kyk, daardeur sal julle ten gevolge van die goeie en vaste vertroue, die eie wil ondergeskik stel aan die wil van die een wat julle as algeheel ter sake kundig die goeie en regte pad gewys het!

[14] En kyk, dít is hier die geval! Sou Ek vir julle slegs in `n mistige en mistieke halfhartigheid optree, dan sou daar in julle nog altyd twyfels oorbly en dit sou heel vergeeflik wees as in julle ook enige twyfel die kop sou uitsteek. Maar as Ek My nou reeds vir julle in woord en daad byna tot op `n atoom bekend maak en julle met alle wysheid, liefde en mag toon dat Ek werklik die Een is waarmee Ek My steeds aan julle voorgestel het, dan is die resultaat tog wel verseker! Ten eerste kan julle onmoontlik nog enige twyfel oor My hê en ten tweede moet vir julle die navolging van My wil, waardeur julle gees enkel en alleen tot die volle wedergeboorte kan kom, iets heel maklik word, omdat julle al te duidelik moet insien dat julle deur die navolging van My wil geen dwaling begaan nie, maar die ewige, ware werklikheid sal bereik. Ek dink dat julle tans goed sal insien waarom Ek nou al hierdie ongelooflike dinge voor julle doen en alles van My aan julle laat sien en onthul!

[15] `n Egte, volmaak wyse meester doen egter niks sonder rede nie en dus doen ook Ek niks sonder rede nie. Ek onderrig julle nie slegs ter wille van julleself nie, maar sodat julle daardeur later in My Naam ook leraars, leiers en wegwysers van julle ander blinde broers en susters sal word en daarom moet julle soveel dieper ingewy word in die geheime van My ryk en My wese, en moet julle ook die mens in sy hele wese leer ken vanaf sy verre oorsprong tot aan die hoogs moontlike vervolmaking en die volledige gelykwording aan God!

[16] Want deur julle volledige en lewende vertroue kan die vinnigste dieselfde vertroue in julle leerlinge gewek word, waardeur ook hulle weldra dié verborge dinge sal sien en verstaan wat julle nou sien en verstaan.

[17] Het julle My nou goed verstaan en verstaan julle goed waarom Ek dit nou alles aan julle openbaar?"

[18] Almal sê diep bewoë: "Ja Majesteit, ons Heer, ons God!"

[19] Ek sê: "Wel nou dan, ontwaak dan weer in die natuurlike wêreld, sodat Ek julle nog ander dinge kan laat sien; want julle moet nog heelwat meer en dieper waarneem en verstaan!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205