Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 125

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Oor die lewe van Judas Iskáriot

125 (Die Heer:) "Hierdie leerling (Judas Iskáriot) is `n sprekende voorbeeld daarvan. Hy was die enigste seun van sy uiters welgestelde vader en ook van sy tot sterwens toe op hom verliefde, dwase moeder. Die gevolg was dat beide ouers hul seun aapagtig vertroetel en hom in alles `n vrye hand gegee het en ook alles gegee het wat hy maar wou hê; en die gevolg daarvan was dat die jongman, toe hy groot geword het, die ouers uit die huis verjaag het en hom met verkeerde vrouens vermaak het soveel as wat sy natuur maar kon verdra.

[2] Dit het nie lank geduur nie totdat hy ook soveel van die besittings van die ouers deurgebring het dat vir beide slegs die bedelstaf oorgebly het en hulle weldra van kommer en verdriet gesterf het.

[3] Maar die jongman, wat nou eweneens heeltemal verarm was, kom nou bietjie tot inkeer, en begin hom uiteindelik af te vra: ‘Ja, waarom het ek nou so en nie anders geword nie? Ek het myself nie gebore laat word nie, en nog veel minder verwek; myself opvoed kon ek tog ook nie - en tog sê almal vir my in my gesig dat ek `n ellendige skurk en booswig is wat deur sy liederlike en slegte streke sy ouers hul hele vermoë wat hulle met moeite verwerf het, ontneem het en hulle na die bedelstaf en ten slotte selfs ontydig in die graf gedryf het!

[4] Wat kan ek dan daaraan doen? Alles wat ek gedoen het kan ten beste baie sleg wees, maar is dit mý skuld dat my ouers my nie tot iets beters opgevoed het nie?! Maar wat moet ek nou doen? Arm, sonder geld, sonder huis, sonder werk, sonder brood! Steel en roof sou die maklikste wees om dadelik iets te bereik; maar om as onhandige dief betrap en dan koelbloedig gestraf te word, is seker ook nie aangenaam nie! Met die roof sien dit daar nog slegter uit! - Ek weet nou egter wat ek sal doen! Ek leer die een of ander vak, al is dit maar die ou, dom pottebakkery waardeur my vader ryk geword het!

[5] So gesê, so gedaan! Hy gaan na `n gemoedelike pottebakker in Kapernaum vir opleiding en leer sy kuns vlytig in `n kort tydjie. Die ou pottebakker het egter `n dogter wat kort daarna die vrou van die kunstenaar se leerling word.

[6] Maar so rojaal soos ons Judas vroeër was, so hard en gierig word hy nou as meester pottebakker. Sy vrou het dikwels onder sy hardheid gely. Hy maak goeie koopware, en begin alle markte te besoek, en laat sy huisgenote tuis gebrek ly en werk tot hulle daarvan neerslaan. As hy met baie geld van `n mark af huis toe kom, gee hy die ywerigste werkers wel `n loon, maar kom hy met minder verdienste huis toe, dan gebeur daar onaangename dinge in sy skamele woning.

[7] Om hom naas sy pottebakkery nog `n byverdienste te verskaf, het hy ook `n vissery gepag en begin hom `n paar jaar gelede toe te lê op die natuurlike toorkuns, omdat hy in Jerusalem meermale gesien het hoeveel geld Egiptiese of Persiese towenaars daarmee verdien. Hy het egter nie veel daarmee verrig nie, hoewel hy baie geld daarvoor uitgegee het. Hy neem vir daardie doel ook les by `n paar Essene wat buite hul orde lewe wat hom wysgemaak het dat hulle, indien nodig, ook met gemak `n wêreld sou kon skep met alles wat dit bevat en daarin is.

[8] Maar hy het baie gou tot die oortuiging gekom dat hy die bedroëne is en keer sy geslepe meesters die rug toe. In hierdie jaar het hy gehoor wat Ek alles doen en dat alles wat mens op hierdie aarde tot dusver ‘wonderwerke’ genoem het, daardeur in die hoogste graad oortref word.

[9] Dít was dan ook die werklike rede waarom hy hom by My aangesluit het en tuis alles verlaat het ten einde slegs die doen van wonderwerke te leer en daarna baie goud en silwer te verdien.

[10] My leer kan hom weinig skeel. As hy luister na wat Ek sê, wil hy eintlik slegs `n uitleg hoor van hoe, en met watter middele Ek die een of ander wonder tot stand gebring het. Wel, daaroor hoor hy nooit iets wat vir hom bruikbaar is nie en daarom is hy steeds nors.

[11] Verder sal daar vir hom wat hierdie wêreld betref, by My `n ontsettende swaar rekening wag. `n Verraderlike handeling en die daaropvolgende bitterste vertwyfeling sal `n selfmoordenaar van hom maak en `n strop en `n wilgerboom sal sy treurige einde op hierdie wêreld wees! Want hy is iemand wat die God wil beproef, wat `n groot misdaad is en moet wees. Wie dit egter waag om `n misdaad teen God te begaan, sal dit ook teen homself nie nalaat nie. Eers teen God en dan teen homself!

[12] Maar Ek sê vir julle dat selfmoordenaars beswaarlik ooit God se aangesig in die ewigheid sal sien! Ek sou julle ook selfs die matematies vasgestelde oorsaak daarvan kon wys; maar dit is nie werklik die moeite werd nie. Dit is voldoende dat julle My glo wat Ek julle aandui oor die gevolg van selfmoord. Die oorsaak daarvan lê altyd in `n soort domheid, wat voortspruit uit vertwyfeling, en dít is `n gevolg van `n misdaad teen God of teen Sy gebooie."


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205