Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 165

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die egte leraars van die evangelie

165 Ek sê: "Jou werklike, ernstige goeie wil geval My, maar ook jy het ietwat kort van geheue geword, want Ek het vir jou en veral Mathaël as jou skoonseun, tog al meer as voldoende aanwysings daarvoor gegee. Dink net `n bietjie na, dan sal jy dit wel vind! Verder is dit immers vanselfsprekend dat die een wat `n blinde wil lei, self moet kan sien, sodat hy nie tesame met hom in `n kuil val nie. Jy kan nie aan jou broer sê: ‘Kom, laat ek die splinter uit jou oog haal!’, as in jou eie oog miskien selfs `n hele balk is nie.

[2] Daarom moet `n ware leraar vry wees van gebreke wat hom kan hinder by die uitoefening van sy amp, want - geen leraar is beter as `n leraar met gebreke! Omdat Ek julle oplei tot leraars, toon en verklaar Ek julle ook soveel sake en dinge waarvan mense nog nooit gehoor het nie; elke goeie leraar moet daarom ook eers deur God so onderrig wees soos wat julle ook nou deur God onderrig word. Die Vader in die hemel moet hom opvoed, anders bereik hy nie die volle lig van die waarheid nie; as hy dit egter nie bereik en daardeur nie self lig word nie, hoe moet hy dan in staat wees om die nag van sy naaste te verlig?!

[3] Wat die nag moet verlig en dit in dag moet verander, moet self `n lig wees soos wat die son is, wat nou byna opkom. As die son egter donker sou wees en swart soos steenkool, sou dit dan die aardse nag wel in die mooiste dag kon verander? Ek dink dat dit dan die nag nog swarter en ligloser sou maak as wat die nag op sigself eers was.

[4] Daarom is `n leraar wat nie deur God opgevoed is daarvoor nie, slegter as glad geen leraar nie! Want so `n duistere leraar is maar net soos `n sak vol slegte saadkorrels, waaruit alle onkruid van die ergste bygeloof gestrooi word in die vore van die menselewe, wat in geestelike opsig noodsaaklikerwys van nature altyd armoedig is.

[5] As jy jou volke lees, skryf en rekene wil laat leer, kan jy geskikte, wêreldse leraars neem en dit deur die kinders in die skole wel laat bybring; maar My evangelie kan en mag slegs deur diegene met vrug en seën aan ander mense verkondig word wat al die eienskappe besit wat Ek vroeër duidelik as voorwaardes vir dié amp genoem het.

[6] Daarvoor is egter geen spesiale skoolgeboue nodig nie, maar `n egte hemelboodskapper wat van gemeente tot gemeente gaan en sê: ‘Vrede sy met u; die ryk van God het nou naby u gekom!’ As die boodskapper aangeneem word, moet hy bly en preek; word hy egter nie aanvaar deur `n gemeente wat te wêrelds en duiwels geword het, dan moet hy verder gaan en selfs eers die stof van sy voete af skud! Want so `n gemeente is selfs nie werd dat `n egte hemelboodskapper die stof hiervan aan sy voete saamdra nie.

[7] My leer moet egter aan niemand opgedring word nie, maar één of meer mense uit so `n gemeente moet eers van die onmeetlike groot voordele van My leer uit die hemele hoor. As hierdie mense die leer wil hoor, moet dit hul kort en bondig vertel word; wil hulle dit egter nie of toon hulle min belangstelling, dan moet die hemelboodskapper dadelik weer weggaan - want aan swyne moet kosbare pêrels nooit as voedsel gegee word nie!

[8] Nou weet jy hoe die uitbreiding van My leer sy gang moet gaan; maar van nou af aan mag jy hierdie riglyn van My nie weer vergeet nie! Laat verder veral hierdie heilige en mees gewyde werk maar oor aan Mathaël en sy vier metgeselle; want hulle weet nou presies wat hulle met betrekking tot die uitbreiding van My leer sal moet doen en reël en hulle sal in hul hart ook altyd in gesprek bly met My, wat ook `n noodsaaklike voorwaarde is vir die ware uitbreiding van My leer.

[9] Want wie sy broers, hetsy hoog of laag, in My Naam onderrig, moet nie uit eie, maar altyd slegs uit My bron put! Hy sal nie hoef te dink nie: ‘Wat sal ek moet sê as ek vir hierdie of daardie mens die woord van die Heer kom verkondig?’, want op die regte oomblik sal vir hom in die hart en op die tong gelê word wat hy moet sê.

[10] Wie egter hierdie barmhartigheid ten dele val, moet nie huiwer om dit hardop te verkondig, as hy miskien angs, vrees of skroom het om `n maghebber moontlikerwys te beledig of selfs kwaad te maak nie! Want wie meer vrees vir die wêreld het as vir My, is My sekerlik nie werd nie en ewemin My geringste barmhartigheid, en sal nooit geskik wees as `n hemelboodskapper nie.

[11] Jy sal dit egter makliker hê in jou ryk waar jy wetgewer en opperregter is en waar jou volk jou vrees omdat hulle die onherroeplikheid van jou oordele en uitsprake ken; `n leraar egter, wat as hemelboodskapper in `n plek sal kom wat regeer word deur `n streng vors, sal beslis meer moed nodig hê as jy as gevreesde vors in jou uitgestrekte land.

[12] Wie egter `n egte hemelboodskapper is of wil wees, moet geen staf by hom hê nie, nóg `n ander wapen, ook moet hy geen sak by hom hê om iets in te bêre nie; want Ek Self sal hom wel vriende besorg en dié sal hom gee wat hy as mens van vlees en bloed nodig het. Ook moet `n egte hemelboodskapper, behalwe in die winter of in die koue lande van die noorde, nie meer as één mantel dra nie, sodat niemand hom kan verwyt dat hy te veel en `n ander daardeur te min het nie. As iemand hom egter nog `n tweede of `n derde skenk, moet hy dit sekerlik aanneem; want hy sal geleenthede vind waar sulke vrome gawes baie goed gebruik kan word.

[13] Ouran, hierdie is nou al die reëls waarby die ware leraars hulle moet hou; slegs één ding voeg Ek nog daaraan toe, naamlik: Iedere egte hemelboodskapper sal van My die gawe ontvang om elke sieke deur die oplê van sy hande te genees. En die ware boodskappers moet in `n gemeente ook eers die siekes wat moontlik daar aanwesig is genees; dit sal in die gemeente `n goeie gesindheid teweeg bring waardeur hulle dan eerder vir die nuwe leer uit die hemele ontvanklik sal word as deur `n hóé goeie toespraak.

[14] Elke mens luister tog liewers na die woorde van `n dokter as na dié van `n profeet, ook al gee dié hóéveel lig. Wat Ek doen, moet ook `n egte hemelboodskapper doen wat deur My na alle lande van die aarde gestuur word. Alleen moet `n egte hemelboodskapper ook voordat hy die hande oplê, altyd goed onderskei of `n siekte van sodanige aard is dat die persoon hom al meer in die hiernamaals as aan hierdie kant bevind. As die ware hemelboodskapper die siel van die sieke reeds buite die liggaam sien, moet hy hom nooit die hande oplê nie, maar slegs vir hom bid en in My Naam die siel wat van die wêreld skei seën. In kort is dit egter so: Elke egte hemelboodskapper sal op die regte oomblik duidelik besef wat hy moet doen. - Ouran, is jy nou op hoogte van alles wat jy wou weet?"

[15] Ouran sê: "Ja, Majesteit en Heer en God, die enigste Waaragtige! Heel innige dank daarvoor! En my volk moet en sal U orals loof en prys omdat U hul ou koning soveel onverdiende barmhartigheid geskenk het, waardeur ook hulle dit deelagtig word. Daarom dank Ek U nogmaals heel innig daarvoor!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205