Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 169

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Oor die Hooglied van Salomo

169 Ek sê aan Simon: "Is jou metgesel dalk `n groot vriend van Salomo? En wat verstaan hy dan van sy Hooglied? Sê My eers hoe ver julle al daarin gevorder het!"

[2] Simon sê: "Majesteit en Heer van die hemele en hierdie aarde! As ek, soos wat ek gewoond is, vry-uit mag praat, sal ek graag iets wil sê; maar as ek my woorde sorgvuldig moet wik en weeg, is ek nie tuis nie, want dan kan ek nie `n woord uitkry nie!"

[3] Ek sê: "Praat soos wat jy gewoond is, want die kern van jou geestigheid en humor is goed!"

[4] Daarop sê Simon: "Ag, in daardie geval sal ons wel iets kan sê! Weliswaar sal dit nie verder reik as my eenvoudige denkvermoë nie; maar ek hou daar geen ongesonde mening op na nie!

[5] O Majesteit en Heer, U vra hoe ver ons reeds gevorder het met Hooglied! Help, EliJaH, ek kon nog glad nie daarmee vorder nie, want ek sou jammer gewees het vir my tyd! Maar Gabi ken die hele eerste hoofstuk alreeds uit sy kop uit. Hy sluk en kou dit nog steeds en hy het daar altyd die mond van vol, maar van die betekenis van hierdie hoofstuk weet hy net so min as ek van die diepste bodem van die see. Die mooiste daarvan is egter dat jy steeds minder begin verstaan van die eerste hoofstuk van hierdie lied hoe meer dikwels jy dit ookal lees! En wanneer jy dit ten laaste ook nog van buite ken, verstaan jy dit gewis die allerminste!"

[6] Ek sê: "Ja, ken jy die eerste hoofstuk miskien ook van buite?"

[7] Simon sê: "Hy het dit al so dikwels vir my opgesê, dat ek dit nou helaas ook al woord vir woord van buite ken, hoewel dit my die keel uithang! Om met die Skithiërs (barbaarse ruitervolk) te praat , is baie onderhoudender as om die Hooglied van Salomo op te sê. Wie daar iets aan vind, moet `n kind van heel merkwaardige ouers wees. Ek vind dit onsin! So mooi, waar en goed die spreuke van Salomo is en ook sy prediking, so dom en niksseggend is sy Hooglied. Wie daaraan iets meer ontdek as die werk van `n dwaas, het duidelik `n heeltemal siek brein!

[8] Wat moet die betekenis byvoorbeeld wees van: ‘Laat hy my kus met die kus van sy mond, want u liefde is liefliker as wyn.’ Wie is die ‘hy’ en wie is die ‘my’? Dan moet die onbekende ‘hy’ die eweneens onbekende ‘my’ met die eie mond van die ‘hy’ kus!? Het hierdie ‘hy’ dan ook ander vreemde monde in sy gesig? Dit moet dan `n baie wonderlike, vreemde wese wees!

[9] Die laaste deel van hierdie eerste vers skyn kennelik die rede vir die verlange in die eerste deel te bevat; maar daar staan ‘hy’ in die tweede persoon, en mens kan nie sonder meer aanneem dat met die uitdrukking ‘jou liefde', wat liefliker as wyn is, die liefde van die ‘hy’ bedoel word nie. Maar as mens al nie weet wie ‘hy’ en wie ‘my’ is nie, hoe moet mens dan wel weet wie die een is wie se liefde in die tweede persoon liefliker as wyn moet wees?

[10] Verder is dit ook geen besondere kompliment vir die liefde nie as mens sê dat dit liefliker is as wyn, as van dié wyn tevore nie gesê word dat dit besonder uitmuntend is nie. Want daar is immers ook heel miserabele en slegte wyne! Is die liefde egter maar net heerliker of liefliker as die wyn, sonder onderskeid na kwaliteit, dan is so `n liefde bepaald nie so besonders nie! Ondanks al hierdie kommentaar, kan dit tog altyd nog wel iets besonders beteken, maar ek kom dit op hierdie wêreld nooit agter nie.

[11] Om ten oorvloede my domheid nog duideliker aan te toon, sal ek ook nog die tweede vers by die eerste voeg; as my geheue my nie bedrieg nie, staan daar: ‘Laat mens jou heerlike salf ruik; Jou naam is salf wat uitgegiet is, daarom bemin die maagde jou.’ Hierdie tweede vers pas tog na my mening net so op die eerste soos `n huis op `n oog! Wat is dit dan vir `n salf en van wie is dit? Wie moet die salf dan ruik? Hoe kan iemand se naam `n uitgegote salf wees, en waarom moet hy nou juis daarvoor deur die maagde bemin word? Wat se maagde is dit?

[12] Daarom, verhewe Salomo, bekyk dit maar met al jou verhewe wysheid! Eén woord van U, o Heer, het vir my duisendmaal duisend keer meer waarde as alle verhewe wysheid van Salomo! Salomo word vir my nou al weer te veel! O Heer, ek smeek U, skenk my die orige verse, want dit is nog baie meer onverstaanbaar as die taal van die Skithiërs!"

[13] Ek sê: "Dit is goed, My beste Simon. Sou jy vir My dan nog die woorde kon herhaal waarmee Ek op die berg diegene aangemaan het wat vanweë die pragtige oggend nie van die berg wou afgaan nie en van welke woorde jy beweer dat dit beslis geen diepere, geestelike betekenis sou hê nie? As jy jou dit nog herinner, herhaal hulle dan nog eens vir My!"

[14] Simon antwoord met `n ietwat verleë gesig: "O Majesteit en Heer, as my herinnering my nie bedrieg nie, lui die paar woorde ongeveer so: ‘Benede by die tafels wat buite staan, sal julle dieselfde oggend as hier bo-op die berg vind; met die kort paadjie na onder sal julle daarvan geniet, en benede sal julle dit dubbel geniet. Ons liggame het voedsel nodig, laat ons dus vinnig na onder aan tafel gaan!' Ek glo dat U, o Majesteit en Heer, dit gesê het?!"

[15] Ek sê: "Uitstekend, My beste Simon! Jy het My opmerking woord vir woord volkome reg weergegee. Maar wat dink jy daarvan as Ek jou nou vertel dat die aanmaning wat Ek toe gegee het en wat nou vervul is, geestelik presies dieselfde betekenis het as dié twee verse uit Salomo se Hooglied wat jy aan My voorgedra het?! Kan jy jou enigsins die moontlikheid daarvan voorstel?"

[16] Simon sê: "Voordat ek dít verstaan sou ek nog eerder verstaan dat die uitgestrekte see môre al verander sal wees in die vrugbaarste landerye. Want wat U, o Heer, op die berg gesê het, was helder en duidelik te verstane en ons begryp almal maar al te goed wat ons tot ons genoeë moes doen, naamlik na benede gaan, met veel vreugde op hierdie heerlike môre om aan tafel te gaan sit en ons liggame te voed met `n voortreflik voorbereide ontbyt! Wie dit miskien nie verstaan het nie, moes gewis heeltemal stokdoof gewees het.

[17] Maar wie vind dié betekenis ook in die twee verse van Hooglied? Dié is in hul natuurlike betekenis, soos wat ek laat sien het, volkome onlogies! Maar as hulle dit is, wie kan dan in alle erns daaragter nog `n wyse, geestelike betekenis wil soek? Met reg en rede kom dit my nou presies so voor asof ek my van `n stomme, onnosele gek wat meer dier as mens is sou moes voorstel dat hy `n wyse Plato is! Hoewel, alles is moontlik, waarom dan nie dit nie?! Ek dui hier slegs maar aan hoe ek dit nou voel en beleef."

[18] Ek sê: "Des te beter, want hoe onmoontliker jy dit nou vind, des te wonderbaarliker sal die verklaring straks vir jou wees. Maar dit is nou ook wonderbaarlik dat jy en die ander wat ook so daaroor dink, met oop oë nog steeds niks kan sien nie, en met oop ore niks kan hoor nie! Maar kom ons laat dit daar! Omdat jy so bekend is met Hooglied, kan jy na die twee verse die derde ook nog opsê, dan kan Ek dadelik die raaisel wat vir jou so onoplosbaar is, tot jou volle tevredenheid oplos!"

[19] Simon sê: "O wee, die derde vers ook nog?! Vir U, o Heer, doen ek met liefde alles wat U van my verlang, maar ek kan U verseker dat my maag andersins byna daarvan omdraai!

[20] Die derde vers is éérs regte wartaal. As ek my dit goed herinner, lui die beroemde derde vers ongeveer so: ‘Trek my agter jou aan, dan loop ons! Die koning lei my sy vertrek binne. Ons verheug ons en is bly oor jou; ons dink meer aan jou liefde as aan jou wyn. Die godvrugtiges (vromes) hou van jou.’

[21] Dit is dan dit! Wie dit kan verwerk, verwerk dit! As daar in die begin nou maar sou staan: ‘Trek my agter jou aan, dan loop ek!’; maar daar volg: ‘dan loop ons!’ Wie is die een wat voortgetrek wil word en wie vervolgens die ‘ons’ wat loop?

[22] ‘Die koning lei my sy vertrek binne.’ Watter koning dan, die ewige, of die een of ander tydelike en wêreldse? Dié sin is andersins nog een van die beste.

[23] ‘Ons verheug ons en is bly oor jou.’ Hier sou ek graag wou weet wie die ‘ons’ is en oor wie hulle bly is!

[24] Verder dink dié sekere onbekendes meer aan die ewe-eens onbekende liefde as aan die wyn, waarvan ook nie gesê word van welke kwaliteit dit is nie!

[25] Wie is aan die einde die hoogs onbekende ‘jou’ waarvan die godvrugtiges hou? O, `n onduideliker manier van praat bestaan daar gewis nie!

[26] Wat `n armsalige drommel is die mens van hierdie aarde tog! Hy begin met niks, leef met niks en eindig ten slotte weer met niks. As hy gedurende die betere en heldere periode van sy lewe meen om iets te begryp, maar vervolgens ongelukkigerwys in aanraking kom met Salomo se Hooglied, is dit heeltemal gedaan met die dwaas; want sodra dit aan die mens eenmaal deur woord of geskrif deur `n ander mens duidelik gemaak is dat sy wysheid glad niks voorstel nie, is dit ook heeltemal gedaan met die mens self, dit wil sê, hy leef nog wel verder, maar as `n dwaas wat nie meer in staat is om nog iets te bevat en te begryp nie! As die mens net soos ek sover gekom het dat daar geen vooruitgang meer is nie, keer hy om en begin soos `n dier slegs nog maar te vegeteer. Waarom sou hy ook verdere moeite doen vir niks nie en nog eens duisend maal niks nie?!

[27] Waarlik, Majesteit en Heer, U het ons gedurende hierdie nag op die berg dinge laat sien wat op hierdie aarde nog nooit aan sterwelinge getoon is nie! Ek verstaan en weet nou enorm baie. Maar waarom verstaan ek Salomo se wysheid dan nie? Mag geen mens dit dalk begryp nie, of is dit werklik - waar dit uiterlik gesien veel van weg het - vrome waansin, dus beslis nooit te verstaan nie? Of lê daar tog bepaalde geheime in verborge dinge wat van die grootste lewensbelang is?

[28] Wat dit ook al is, sê dit vir my! - want van U alleen glo ek wat U in erns daaroor sal sê; want U kan die Hooglied wel begryp, as dit enigsins te begrype is! Maar as die hele Hooglied maar net `n laaste wysheidswaan van Salomo is, sê dit dan ook vir my, dan gooi ek dadelik die hele Hooglied in `n afvoerput, dan kan die bewoners daarvan Salomo se wysheid begin bestudeer!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205