Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 170

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die sleutel tot die verstaan van Hooglied

170 Ek sê: "Vriend, jy dryf die grap wel baie ver, daarom sou Ek nou dieselfde aan jou wou sê wat `n beroemde skilder eens aan `n skoenmaker gesê het! Maar dit kan by jou nou nog nie anders wees nie, want volgens Salomo het immers alles sy regte tyd op hierdie aarde. Maar bedaar nou eers en toon baie goeie wil, dan sal jy `n nadere uitleg kry oor Salomo se Hooglied en oor die wyse waarop dit volledig ooreenstem met My kort aanmaning op die berg.

[2] Salomo het in sy Hooglied maar net met allerlei beelde, wat vol geestelike simboliek is, My huidige bestaan profeties van daad tot daad, van plek tot plek, en met alle gevolge vir die mense beskryf. Sy onderwerp is alleenlik Ek; ‘Hy’ en ‘Jy’, ‘Hom’ en ‘Ek’ verwys almal na My. Die een wat deur Salomo met My praat, is sy eie gees, in die enkelvoud en in die meervoud is dit die geeste van die volk wat hulle in `n sekere sin vir één en dieselfde doel in Salomo se konings- en heersersgees verenig en op dié wyse een morele persoon voorstel.

[3] Daar waar staan: ‘Laat Hy my met die kus van sy mond kus’, beteken dit so ongeveer: Laat die Heer met Sy waaragtige, eie mond met my, Salomo, praat en deur my tot die volk JisraEl en so tot alle mense van die aarde; laat die Heer geen woorde van pure wysheid meer tot my spreek nie, maar woorde van liefde, van lewe! Want `n woord van liefde is `n ware kus van God se mond op die hart van die mens en daarom sê Salomo: ‘Laat Hy my met die kus van Sy mond kus!’

[4] Nou pas die res van die sin heel goed daarby, waar staan: ‘Want u liefde is liefliker as wyn’ of te wel: U liefde is vir my en alle mense nuttiger as wysheid. Want met ‘wyn’ word altyd wysheid en waarheid bedoel.

[5] Dat Salomo in die eerste sin waarin hy vir iets vra, naamlik om die woord van liefde, My nog in die derde persoon aanroep, beteken dat hy deur wysheid alleen nog ver van My af staan; maar deur die tweede persoon in die res van die sin, waar die rede van die vraag uit die eerste deel uitgespreek word, laat Salomo reeds sien dat hy nader aan God kom op die weg van die liefde as op die weg van suiwer wysheid. Maar die kus, naamlik die liefde, waarvoor Salomo in sy Hooglied gevra het, kry julle almal sopas van My en dus, My beste Simon, is die eerste vers van Hooglied vir jou nou waarskynlik wel ietwat duideliker as wat dit vir jou voorheen was!"

[6] Simon sê: "O Heer, daardeur is die tweede vers vir my natuurlik ook reeds duidelik, en ek sou dit nou wel durf uitlê!"

[7] Ek sê: "Doen dit, dan sal ons sien hoe jy die tweede vers verstaan het vanuit die lig van die eerste vers!"

[8] Simon sê: "Dit sal nou kennelik soveel as die volgende beteken: Heer, as U my egter kus met die kus van U mond, as U woord liefde word en dus `n ware lewensalf, laat dan hierdie salf, hierdie Goddelike woord van liefde van U, vir alle mense verstaanbaar wees. Want ook in die gewone taal gebruik mens dikwels die sierlike ‘ruik’ in plaas van ‘verstaan’. Mens sê dikwels: 'Jy kan tog wel ruik wat dit beteken?' of: ‘Hy het die braaivleis of die salf geruik!’

[9] Nou is U, o Heer, hier by ons soos wat Salomo in die eerste vers vra! Ons het U Naam, U heilige woord van liefde, wat baie kosbaarder is as Salomo se suiwer wysheid! Ons het nou die vir ons uitgegote salf, U Naam, U liefde, U heilige lewenswoord verstaanbaar aan almal van ons.

[10] Wel, die maagde wat daarom van U hou, is kennelik ook ons, gesien vanuit die standpunt van ons beperkte insig en verstand! Want `n maagd is weliswaar `n lieflike wese, nie heeltemal sonder insig en verstand nie, maar in die algemeen gesien kan van `n groot manlike wysheid tog geen sprake wees nie. Daarom is ons blykbaar die maagde wat U, o Heer, bo alles liefhet omdat ons U woord van liefde verstaan, waardeur dit dus vir ons `n uitgegote salf is waarvan die heerlike geur `n wonderbaarlike genot is vir ons. Sê my, o Heer, of ek nou volgens die eerste vers die tweede wel korrek begryp het!"

[11] Ek sê: "Volkome korrek en fundamenteel waar! Met die Hooglied wat erg onverstaanbaar voorkom, is dit so dat dit baie maklik verstaan kan word as mens die eerste vers maar goed, deur te verstaan wat die beelde beteken, begryp het! Maar noudat jy egter die tweede vers so uitstekend uitgelê het, moet jy ook nog die derde vers probeer; miskien slaan jy daar ook die spyker op die kop!"

[12] Simon sê: "O Heer, nou sou ek my dadelik aan die hele Hooglied wou waag! Die betekenis van die derde vers sien ek nou na die twee eerstes so duidelik voor my soos hierdie heerlike oggend!

[13] ‘Trek my, o Heer, agter U aan, dan loop ons!’ Wie, behalwe die liefde, kan geestelik trek?! En die gevolg is dat diegene wat met en deur die liefde onderrig en opgevoed word, in één oomblik meer opneem en verstaan en daardeur werklik loop in die groei van hulle kennis, as in talle jare van dorre en kille wysheid. Die enkelvoudige persoon in die eerste sin is dus slegs `n morele persoon, en hy verskyn in die laaste deel van die tweede sin verdeel oor `n veelvoud wat voorlopig kennelik nog gevorm word deur ons en vervolgens deur geheel JisraEl en uiteindelik selfs deur alles wat op die hele aarde mens heet.

[14] Die Koning, die Ewige, die Heilige, lei my en ons almal nou natuurlik die heilige en stralende liefdes- en lewenskamer van Sy heilige Vaderhart binne! En ons verheug ons nou en is uitermate bly oor U, en dink beslis duisendmaal meer aan U Vaderliefde as aan watter dorre en kille wysheid dan ook! Net in U liefde is ons vol nederigheid en eenvoudig en daardeur gelowig van hart; ons is daardeur vroom en in ons geloof, o Heer, het ons U eers volkome lief.

[15] Die oggend van die wysheid, die ooreenkoms met dié bo-op die berg, is weliswaar heerlik en mooi, maar hier benede by die tafels van die gasvrye liefdesmaal in die groot, heilige kamer van U heilige Vaderhart, bevind hom inderdaad ook dieselfde môre van die ware lewe. Bo-op die berg, waar ons onderrig was in die ware kennis, geniet ons van die heerlike oggend van die lewenslig, maar daar was geen tafels waarop voedende en die lewe versterkende, heerlike kosse voorgesit nie.

[16] Die lig van die diepste wysheid geval ons goed, maar U sien by menigeen miskien ook reeds die kiem van eiedunk, wat opkom in die vore van die lewenstuintjie in die hart, en U sê met die bekoorlikste woorde van liefde: ‘Kindertjies, benede in die diepte van die nederigheid vind jy dieselfde oggend! As julle die kort paadjie aflê van die hoogte van eiedunk af, wat gewoonlik `n gevolg is van groot, suiwer wysheid, na die deemoedige diepte van die liefde, geniet julle dieselfde stralende oggend! En benede in die diepte van die liefde vind jy hom net soos hier, en daar geniet jy hom dubbel, want daar is nie net dieselfde lig nie, maar in die liefde en die nederigheid bevind hom ook die bron van die lig en die liefdeslewe! Benede staan die vol tafels tot versterking, voeding en instandhouding van die lewe in al sy fasette!’

[17] O Heer, daarheen het U ons deur die ware kus van U heilige mond getrek en ons het toe nie meer gehuiwer nie, maar het agter U aangeloop en het U nou lief as U egte gelowiges wat in alle liefde en nederigheid glo! Heer, het ek die geheel nou goed verstaan en weergegee en die innerlike betekenis van die aanmaning wat U op die berg uitgespreek het, ontdek?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205