Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 182

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die verhaal van Oubratouvishar oor sy reis na Memphis

182 Ek vra verder: "Waar kry jy dié baie waardevolle, agtenswaardige opleiding?"

[2] Oubratouvishar antwoord: "Ek en my dienaar trek tien jaar gelede eens langs die Nyl, begelei deur nog twintig van die sterkste hulpdienaars, wat `n goeie kudde beeste moes saamneem; want wie in ons streke wil reis, moet baie vee saamneem anders kan hy tydens die reis versmag. Vye en dadels groei nie orals nie, maar slegs op goeie en ryk grond; gras groei egter orals aan die Nyl in oorvloed, en dus het hy dan orals die voedsame melk van die koeie, wat alle kos geur.

[3] Só toegerus probeer ons dan, soos reeds gesê, tien jaar of tien reëntye gelede stroomafwaarts `n tog onderneem. Enkele dae kom ons sonder moeilikhede heel maklik vooruit, maar op die derde dag hoor ons reeds in die verte `n geweldig donderende geluid. Ons versnel ons pas en bereik binne die tyd waarin mens duisend klippe sou kon tel, die eerste waterval van die Nyl. Ons sien bykans geen moontlikheid om verder te kom nie. Een van ons moedigste klimmers beklim `n hoë rots om te sien hoe dit met die omgewing gesteld was. Toe hy weer by ons terug is, beskryf hy my `n pad wat weliswaar ver na links van die Nyl afbuig, maar heel in die verte weer by die Nyl uitkom. Ek besluit daarop om hierdie pad te volg. Aan rotse en ander onherbergsaamhede het hierdie ompad werklik geen gebrek nie. Eers teen die aand van hierdie dag bereik ons in groot hitte eindelik `n weiveld wat met baie palms en papirusbome begroei is, met in die middel `n baie ryk fontein wat ons kudde en ons baie goed te pas kom. Hier rus ons `n volle dag.

[4] Op die tweede dag breek ons met eerste oggendskemering op en sit ons reis voort. Teen sonsopgang bereik ons weer die Nyl en `n breë pad, soos wat ons dit nog nooit vroeër gesien het nie, waarop ons na `n halwe dag in die buurt van die stad kom waaroor ons voorouers ons baie vertel het. Ongeveer tweeduisend treë voor die stad slaan ons ons kamp op; ek en my dienaar ry egter na die stad om toestemming te vra om in die omgewing van die stad met ons noodsaaklike kudde te mag kamp opslaan.

[5] Toe ek saam met my dienaar in die stad kom, word ek deur `n menigte baie bruin mense omring en sommiges vra my wie ek is en waarvandaan ek kom. Ander raai egter dadelik en sê: ‘Thot-e- Noubies’ (‘Thote Noubiez!’) (Dit is `n Nubiër) en ek sê: ‘Ja, ek is `n Nubiër en sou graag hier by julle, volmaakte mense, baie goeie en mooi dinge wou leer!’

[6] Toe laat hierdie nuuskieriges `n ou grysaard na my kom en dié ondervra my grondig oor allerlei sake, gaan ten slotte selfs na ons kamp en maak daar eers aan ons bekend dat hy die hoogste priester van hierdie stad, en terselfdertyd bestuurder van hierdie stad en die wye omtrek was wat deur Rome aangestel was. Ek skenk hom dadelik sewe van die mooiste koeie en twee bulle en twintig van ons skape met die fynste wol.

[7] Dít stem die goeie ou man baie vriendelik en hy sê toe aan my: ‘Julle sal heelwat baat vind by ons ou en suiwere wysheid! Maar neem niks oor van ons totaal verdorwe sedes nie, want dié is slegter as sleg! Hierdie stad was eens op `n tyd die trots van die land, wat ook haar naam Memavise (in Grieks: Memphis) = ‘die mees verhewe naam’, helder en duidelik sê; nou is die naamlose, mees verhewene slegs `n uitgestrekte puinhoop, waarvan julle julself spoedig maklik kan oortuig!

[8] Die volk wat nog hier is glo deels glad nie aan `n hoogste Goddelike wese nie, en is deels vol duister bygeloof, waarvan hulle nooit te bevry is nie. Slegs ons klein groepie leef nog in die ou, ware kennis van die een, ewige, ware God. Die blinde en dom volk glo aan enige duisende gode; selfs aan diere en hul stoflike oorskot bewys hulle goddelike eer en ons kan niks daaraan doen nie.

[9] Wel het ons voorouers reeds die saad daarvoor gelê, naamlik deur `n paar diere vanweë hul groot nut `n soort half goddelike eer te bewys om die volk sover te kry dat hulle hierdie nuttige land- en huisdiere beter versorg. Die oudstes wou daardeur ewenwel slegs op sigbare wyse die veelvoudige uitstraling van die goddelike liefde en wysheid in die aard van dinge toon aan die volk wat toentertyd nog uiters min ontwikkeld was. Maar met die verloop van tyd word die geskiedenis van die volke, hoe verder dit teruggaan in die verlede, eerbiedwaardiger en eerbiedwaardiger. Hulle omhul hulle altyd meer met `n sekere goddelik waas en slegte en gewetenlose, sogenaamde volksopvoeders het dan `n des te makliker spel om alles wat in die oergryse oudheid gebeur het, te vergoddelik en die blinde volk so diep moontlik in die ergste bygeloof te begrawe.

[10] Wees daarom op julle hoede, opregte Nubiërs en neem net wat julle van my sal hoor as egte waarheid aan; maar wend julle af van alles wat julle by die volk sal hoor en sien; want dit is slegter as sleg! Julle sal hulle sien offer en allerlei betekenislose seremonies sien verrig; by baie groot plegtighede sal julle selfs vir my in die pragtigste ampsgewaad voorop sien gaan. Steur julle egter nie daaraan nie, want met al dié dinge doen slegs my vel mee maar my innerlike is en bly steeds by die een, ewige, enigste ware God, wie se liefde my lewe, en wie se lig my ware wete en kennis is.

[11] Kom jy en jou dienaar nou te voet saam met my na die stad na my huis toe, waar ek julle alle verdere aanwysings sal gee oor hoe jy en jou geselle julle hier moet gedra. Ook sal ek julle vir julle kudde die regte plek aanwys waarop julle as vreemdelinge `n volle jaar mag bly sonder om deur iemand lastig geval te word. Maar jy en jou dienaar sal by my woon sodat ek jou in baie dinge onderrig kan gee.’

[12] Ek sê: ‘Beste owerste! U vind dit tog wel goed dat ons die geskenk wat u barmhartiglik uit my hand aanvaar het, na die stad saamneem?”

[13] Toe sê die werklik goeie owerste heel vriendelik: ‘Nie nou nie, maar eers oor drie dae as julle `n ander weiveld betrek het! Maar daar moet julle net soos ons dieselfde skoene dra, want snags kruip hier baie klein insekte en wurmpies deur die grasveld, wat orals sanderig is, na bo en dit kruip onder die toonnaels in en veroorsaak na verloop van tyd baie pyn. In my huis sal ek julle daarmee wel so goed moontlik voorsien, want ek het baie knegte, dienaars en slawe.’

[14] Ons, ek en my dienaar, gaan toe saam met die owerste na die groot stad. Na ongeveer vierduisend treë kom ons in die stad aan op `n groot plein wat omring is deur die pragtigste geboue wat uit blokvormige klippe opgetrek was. `n Aantal van hierdie groot geboue was reeds behoorlik beskadig, maar talle was nog in goeie toestand. Eén gebou bestaan uit louter suile en binne die uitgestrekte suilgange was enorme groot beelde van allerlei soorte en vorms sigbaar; ook was die suile voorsien van allerlei tekens en letters, wat die owerste my later meermale uitlê. Langs hierdie suilesaal staan `n enorme groot paleis waar dit baie bedrywig was.

[15] Toe sê die owerste: ‘Kyk, daardie is my woonhuis; kom nou na binne en bekyk alles wat daarbinne is!'"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205