Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 200

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Rafael oortuig die Swartes van die goddelikheid van die Heer

200 Dadelik daarna roep Ek die engel en sê, ter wille van die ander aan tafel, duidelik verstaanbaar aan hom: "Rafael, nou het Oubratouvishar met sy metgeselle weer op die juiste punt teruggekom en kan jy die meningsverskil meteens uit die weg ruim! Hulle is almal ten gunste daarvan om nou sy mening en insig oor My te aanvaar as hy vir hulle kan bewys dat die klip werklik deur jou in `n oomblik uit Nubië hierheen gebring is. Gaan daarom na hulle toe en bring vir elkeen dit wat hy wil, dit wat hy vra uit sy hut hierheen en die hele geskil sal daarmee opgelos wees!

[2] Want hierdie mense, wat `n vaste wil het, maar moeilik verstaan, moet deur `n wonderwerk bekeer word, omdat woorde alleen vir hulle te min oortuigingskrag besit. `n Wonderwerk skaad hierdie mense ook nie soveel as vir julle nie en by name baie Judeërs; want self kan hulle as onbedorwe mense enkel deur hul vaste geloof en deur hul onbuigsame wil baie opmerklike wonderwerke verrig, wat hulle `n so goed as heel natuurlike ding vind. Daarvan sal ons onsself later oortuig. `n Groot wonderwerk tel by hulle daarom maar half, en sodoende kan hulle, sonder dat dit nadelig vir hulle is, deur wonderwerke op onskadelike wyse bewerk word. Gaan dus nou! Wat jy moet sê en moet doen, het jy al in jou."

[3] Met hierdie opdrag, wat almal nou ken, gaan die engel na die tafel waar die Swartes sit, wat deur die genot van die wyn nog luidrugtiger geword het en hul taamlik luide twisgesprek hou. Daar aangekom sê hy met `n deurdringende, harde stem: "Waarom uiter julle beskuldigings teen hierdie groot vriend en weldoener van julle, aan wie julle alle goeds te danke het, asof hy julle sou wou bedrieg en aan julle `n onware geloof sou wou opdring?! Waarom maak julle die wonderwerk, wat ek om hom te oortuig volgens die wil van die Heer verrig het, verdag asof ek `n bedrieër wat deur Hom ontbied is, sou wees om Hom te help om julle te bedrieg! Wat verlang julle dan as bewyse om julle twyfel weg te neem? Moet ek iets uit julle hutte vir julle hierheen bring? Vra maar, dan sal ek dit doen!"

[4] Hierdie energieke toespraak bring almal tot stilswye en van angs weet hulle nie wat om te doen nie.

[5] Maar die aanvoerder sê: "Dit is die hulp van God! Dit sal my regverdig teen julle baie erge beskuldigings! Vra en oortuig julle; want net dit kan julle dwaasheid tot niet maak!"

[6] Een, wat die meeste twyfels gehad het, staan toe op en sê: "In my hut is `n skat verborge; buiten my en my vrou, wat hier is, weet niemand daarvan nie. Bring dit hier, dan sal ek volledig glo!"

[7] Die engel sê: "Binne hoeveel tyd moet ek die skat, wat jy in linne en riete toegedraai in die hoek aan die oostekant van jou hut, op die plek waar buite die hut `n groot palmboom staan, twee voet diep in die sand begrawe het en bestaan uit `n dertig pond swaar klont suiwer goud, hierheen bring? Sê my, binne hoeveel tyd!"

[8] Die twyfelaar se oë word groot van verbasing en hy sê: "Maar hoe in hemelsnaam is dit moontlik dat jy, lieflike seun, dit so presies weet? Daarmee alleen al het jy my twyfel weggeneem, want nou verstaan ek alles wat ons leier en oudste deurgaans oor dié jongman gesê het! Maar daardeur word die geheel net maar vreemder en wel op `n angsaanjaende manier! As daar geen twyfel moontlik is dat in hierdie man die oerewige Gees van God in sy volheid woon nie, hoe kan ons dan voor Hom bestaan! Moes ons twyfels Hom nie uitermate beledig het nie? O, o, ons is almal verlore!"

[9] Die engel sê: "Glad nie, julle is nou almal gewonne! Maar bepaal nou binne welke tydsbestek ek jou skat hierheen moet bring!"

[10] Die twyfelaar sê: "O lieflike wese, vir my ongeloof is dit nou glad nie meer nodig nie; maar as jy dit nou op wonderbare wyse hierheen wil bring, doen dit dan maar! Indien dit dalk hier vir iemand `n spesiale waarde het, dan kan hy dit van my kry in ruil vir ander nuttige gereedskap; want ek het immers tog niks daaraan nie! Dit is mooi en op sommige plekke skitter dit in die son; en as jy dit baie goed bekyk, vertoon die oppervlakte allerlei figure. `n Aantal is donker en dof maar `n aantal skitter pragtig in die son. Daarin is vir my die eintlike waarde van die klont, wat taamlik groot en heel kompak is. As jy, lieflike, mooi jongman, dit dus hierheen wil bring, hoef jy, ondanks al jou wonderbare krag, nie oorhaastig te wees nie!"

[11] Die engel sê: "Kyk na my! Op dié oomblik bring ek jou skat; tel die oomblikke wat ek nodig het om heen en weer te beweeg!"

[12] Die twyfelaar en sy metgeselle rig hul skerpste blik met volle aandag op die engel om vas te stel wanneer hy vertrek en hoe gou daarna hy weer terug sal keer.

[13] Die engel vertrek egter glad nie, maar vra aan die man wat eers getwyfel het: "Wel, het jy my afwesigheid opgemerk?"

[14] Die twyfelaar sê: "Nee, want jy staan tot nou toe nog steeds rotsvas op dieselfde plek!!"

[15] Die engel sê: "O, glad nie; want kyk maar af, jou skat lê behoue en wel aan jou voete!"

[16] Die twyfelaar kyk onder die tafel en sien daar sy maklik herkenbare skat in die onbeskadigde verpakking aan sy voete lê! Dit besorg die twyfelaar so `n skrik dat sy andersins karmynrooi lippe verbleek en hy behoorlik begin te bewe.

[17] Ook die ander lyk erg onthuts as hulle dit sien en hulle roep: "Maar magtige wil van God! Wat is dit, hoe kan dit wees?! Lieflike wese, jy was tog nie `n oomblik van jou plek af weg gewees nie! Hoe kan dit dan moontlik wees?"

[18] Die engel sê: "By God is alles moontlik en julle kan daaruit aflei hoe God die Heer, ook al is Hy hier as mens net soos `n ander mens aanwesig, met die oneindige mag van Sy wil tog die hele oneindigheid lei, regeer en in stand hou en dat daar vir Sy alsiende oë ewig nêrens iets verborge kan wees waarvan Hy nie baie presies alles weet nie!

[19] Dat die ewige, Goddelike Gees nou op hierdie aarde in die vlees gekom het en Self persoonlik Mens geword het, kom veral omdat Sy oorgrote liefde vir julle mense van hierdie aarde en daardeur ook vir die mense van al die tallose ander aardse wêrelde, Hom beweeg om vir julle in alle liefde vir alle ewige tye `n voelbare, sigbare en aanspreekbare God en Vader te wees! Want Hy, as God, is die magtigste en suiwerste liefde en daarom kan ook geen mens en geen engel Hom anders as net deur die liefde nader nie.

[20] As julle na Hom toe wil kom, moet julle Hom veral bo alles liefhê en julle moet mekaar soos ware broers en opregte susters liefhê; sonder dié liefde is dit so goed as onmoontlik om na Hom toe te kom! Maar tel jy, verskrikte haas, nou jou skat op en plaas dit op die tafel en kyk of dit wel die regte een is!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205