Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 228

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Die korrekte vorming van die harsings

228 (Die Heer:) "Solank die siel die liggaam bewoon, is en bly die harsings die belangrikste gesigsorgaan van die siel. As dit op die korrekte wyse ontwikkel is, sal die siel die lewensbeelde wat uit die hart in die harsings ingeprent word, goed en noukeurig kan sien, en aan die hand daarvan ook dink, besluit en handel. Want al kan die siel ook, op bepaalde oomblikke van vervoering deur die handoplegging van iemand met `n sterk geloof en `n sterk wil, persoonlik helder vanuit die maagholte sien, soos wat ons Zorel julle `n voorbeeld daarvan gegee het, dan het sy tog weinig of niks aan die werklike lewe nie, want in die duister behuising van haar dierlike liggaam kan sy haar ook nie die minste herinner daaraan nie.

[2] As die liggaamlike harsings nie meedoen aan `n bepaalde sien of waarneming van die siel tydens haar liggaamlike bestaan nie, behou die siel geen herinnering nie, maar hoogstens `n dowwe vermoede; want vir dit wat die siel in die harsings van haar eie hoof opneem, het sy net so min `n bepaalde gesigsvermoë, as wat die liggaam `n bepaalde gesigsvermoë het om inwendig te kan sien wat alles deur die oë en deur die ore as beelde op die harsingsplaatjies ingeprent is. Die siel kan maar slegs dit sien wat binne die liggaam is.

[3] Wat dan egter aan die hand daarvan weer in die harsings van die siel gestoor word, kan die siel met haar oë, wat net soos die van die liggaam slegs na buite gerig is, nie sien en met haar ore nie hoor nie, maar slegs die gees in haar kan. Daarom kan `n mens eers iets suiwer geesteliks volledig herken wanneer die gees heeltemal ontwaak het in die siel en in haar oorgegaan het.

[4] Ek sien egter wat innerlik in die gees is, en deur My sien dan weer die gees van die mens wat met My of met My Gees identies is; want hierdie is `n weerspieëling van My in die siel, net soos wat die son heeltemal weerspieël word (in `n spieël.)

[5] Solank `n siel dus in `n liggaam woon, het sy `n absoluut goed ontwikkelde, liggaamlike brein nodig om waaragtig en helder te kan sien; maar `n misvormde brein beteken vir die geestelike sien heeltemal niks nie, net soos wat sien deur die maagholte ook niks vir haar beteken nie, omdat sy, soos wat Ek vertel het, niks daarvan kan onthou nie. Want ook al bly dit vir ewig in haar geestelike brein vasgelê, dan het sy tog geen oog en geen oor daarvoor nie, want dit kry sy eers in haar ontwaakte gees.

[6] Wanneer die harsings dus op die regte wyse, en heeltemal volgens My orde vanuit die hart ontwikkel word, en die geestelike lewensindrukke, wat `n ligbron is, eerder op die harsingsplaatjies ingeprent word as die materiële, dan word die daaropvolgende indrukke van die buitewêreld verlig, waardeur dit in al hul onderdele eenvoudig en volkome duidelik, en volgens die ware wysheid verstaanbaar en aanneembaar word. En die lig wat daardeur straal vervul dan nie net die hele menslike organisme nie, maar dit stroom met geestelik helder strale nog baie verder as hierdie organisme en vorm so die uitstralende lewensfeer, waarmee `n mens dan, as die sfeer mettertyd noodsaaklikerwys steeds digter en kragtiger geword het, in die buitewêreld ook sonder die wedergeboorte van die gees wonderbaarlike dinge kan verrig, soos wat julle dit by ons More gesien het.

[7] Maar as die harsings verkeerd gevorm is by die mens, en die indrukke op die harsingsplaatjies net uit dowwe skadubeelde bestaan, waarvoor die siel ten slotte al haar lewenslig nodig het om hulle ook maar baie oppervlakkig aan die buitenste kontoere van die vorms te herken, dan kan die siel self nooit so baie lig gee om uit haar oorvloedige lig `n lewenskring na buite te ontwikkel nie.

[8] Slegs deur ware nederigheid, deur die kragtigste liefde tot God en die naaste, en deur veral te strewe na geestelike dinge, word die materiële beelde in die harsings verlig en daardeur vergeestelik, en die harsings word daardeur weer effens in orde gebring; maar tydens die liggaamlike lewe tog nie meer in so `n mate dat dit soos by hierdie More word nie.

[9] Maar dit maak nie saak nie, want vir My is één wedergeborene van julle beter as 99 sulke natuurlike, volmaakte siele, wat nog nooit moes betaal het nie. Want My ware kinders moet vanuit hul swakheid sterk word!

[10] My Cyrenius, het jy dit alles nou goed verstaan en is jou vraag nou goed beantwoord?"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205