Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 30

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Praat en doen

30 Nadat ons Zinka op hierdie wyse ietwat tot ruste gebring het, kom Risa as tweede skoonseun van Cyrenius en begin homself op dieselfde manier te verontskuldig.

[2] Maar RafaEl klop hom op die skouer en sê: "Vriend! Hou jy jou maar aan die waarheid in jou hart, want jy is nog lank geen Zinka nie! Jy is weliswaar goed en eerlik, maar sê moet jy maar net dit wat jy in jou hart voel! - Verstaan jy dit?"

[3] Risa sê: "Ja, hemelse vriend, ek verstaan wat jy my vir gesê het en ek sal, as ek ooit praat, sê wat ek in my hart voel en daar sal geen onwaarheid oor my lippe kom nie! Ek is weliswaar nog jonk en het minder ervaring as sovele ander. Veral met die vroulike geslag het ek bykans geen ervaring nie en ek was nog nooit verlief op `n meisie nie. Maar sy trek my baie in my hart aan en ek voel dat ek uitermate gelukkig sal wees as die hemels mooie Ida my vrou sou word. Ek voel egter ook dat ek by hierdie seën `n ontsettende dom indruk sal maak. Om dié rede sou ek self liewer sonder hierdie seëning wou wees!

[4] Tans is my liefde vir Ida nog lank geen hartstog nie en ek sou nog met gemak van hierdie toekomstige seëning kon afsien. As ek egter later vuriger lief sal hê en die seëning my dan tog nie ten deel sou val nie, sou dit my buitengewoon baie hartseer besorg, waaroor ek my baie moeilik heen sou kon lig. Daarom sou ek wil dat die Heer en Cyrenius my alle hoop op so `n seëning sou ontneem!

[5] Kyk, hemelse vriend RafaEl, so voel ek daaroor en dit het ek nou ook gesê! As jy my `n bietjie kan help, doen dit dan voor dit te laat is! Want werklike hulp moet ook op die regte oomblik verleen word - anders het dit weinig nut!"

[6] RafaEl sê: "Vriend, daarmee sal jy van my weinig of heeltemal geen hulp nodig hê nie. Laat dit dus maar so soos wat die Heer dit bepaal het! Jy kan weliswaar van alles afsien - want teen die menslike vrye wil in bepaal die Heer nooit iets nie, behalwe die maat en die vorm van die liggaam - maar dit skenk die mens nou nie juis so besonder baie seën nie as hy te min aandag skenk aan dit wat die Heer, ook al is dit maar met die geringste aanduiding, aangeraai het. - Verstaan jy dit ook?"

[7] Risa sê: "Ja, dit verstaan ek ook en daarom sê ek maar net: JaHWeH se wil geskied altyd, want wie God se wil doen, kan onmoontlik ooit faal. JaHWeH God moet tog wel die beste weet waar ons mense die meeste baat by het. Daarom sal ek dan ook van nou af aan alles steeds met die grootste dank in my hart aanneem en dít doen wat die Heer sal voorskryf! Wat die mens maklik kan doen omdat sy hart hom daartoe aanspoor, dit moet hy altyd doen en dit nie naas hom neerlê nie. Daar is genoeg stryd by ander sake, waarmee die swak wil van die mens moeilik oorwin. As hy nou met maklike en aangename sake ook weinig wil toon, sal hy in die ware deug sekerlik weinig vooruitgang boek! - Het ek reg geredeneer of nie?"

[8] Raphael sê: "Ongetwyfeld, maar laat daar ook nog aan jou gesê word dat dit beter is om baie te doen en goed te doen, as om baie te praat en goed te praat! As die mense jou baie goeie dinge sien doen, sal baie jou dit ook nadoen. Maar as hulle jou baie en goed hoor praat, sal hulle jou dit ook wil nadoen. Omdat baie egter nie die ware Wysheid het om werklik goed te kan praat nie, sal hulle sekerlik onsin uitkraam en daardeur baie swak harte skaad en ook vir hulleself, omdat hulle daardeur hoogmoedig en ingebeeld word. Deur die onnodige lus tot praat, word daar mettertyd allerlei valse leringe versprei en word die arme mensdom verblind en in diepe duisternis gedompel, sodat dit later moeilik is om hulle weer te verlig. Maar deur baie goed te doen, kry die mensdom edele en geopende harte. `n Edel en oop hart is sonder meer die beste kweekplek vir die ware Wysheid en sal ook weet om goed en reg te praat waar dit nodig sal wees.

[9] Ek het dit vir jou gesê omdat jy dikwels te veel wil sê terwyl jy nog lank nie alles besit wat vir `n egte goeie toespraak nodig is nie. Praat daarom min, maar luister en doen daarenteen des te meer, dan sal jy ook `n egte leerling van die Heer wees, geheel volgens Sy wil en na Sy welgevalle!

[10] Hulle wat eendag moet praat en preek, sal die Heer wel Self daarvoor uitkies. Diegene wat Hy egter nie Self sal uitverkies om te praat en te leer nie, is deur Hom slegs bestem vir die toepassing van Sy woord en Sy leer, en diégene moet daarom altyd slegs dit doen waartoe hulle deur die Heer sonder meer bestem is. Dan sal hulle hulleself altyd kan verheug in die welgevalle van God en in die een of ander besondere barmhartigheid. Sê dit ook vir jou vriende en ampsbroeders, want ook onder hulle is daar die wat hulle nog baie op laat voorstaan dat hulle ordelik en vlot kan praat! Ook hulle is nie deur die Heer vir die praat nie, maar slegs vir die doen bestem.

[11] Die Heer laat jou nou aards gelukkig word, sodat jy eendag baie, baie goed kan doen. Sou die Heer jou egter geroep het om redenaar of leraar te word, dan sou Hy vir jou gesê het: 'Kom en volg My waarheen Ek gaan en leer alle wysheid van die ryk van God ken!' Want kyk, vir die praat en leer word meer verlang as vir die doen, en tog is die doen die hoofsaak - en Sy woord en leer slegs die wegwyser daarheen!

[12] Kyk nou hoevele die Heer met Cyrenius ophef. Dit is egter beslis nie vanweë sy welsprekendheid nie, maar vanweë sy goeie en veelvuldige, onbaatsugtige doen! Wie egter baie goed en edel doen, kan as dit êrens nodig is, ook wel goed en korrek praat; want `n oop en edel hart is nooit sonder Lig uit die hemele nie. Wie dit egter het vanweë sy talle goeie en edele dade, sal ook altyd weet waar, wanneer en hoeveel hy moet praat. - Beste Risa, is dit nou ook voldoende duidelik wat ek vir jou gesê het?"

[13] Risa sê: "Hoe sou ek dit nie kon verstaan het nie. Jy het tog die suiwere waarheid gepraat, en dit is altyd vir enigeen goed te verstane! Ek sal my altyd streng aan hierdie woorde van jou hou. Wat ek nou egter van jou gehoor het, sal ek ook dadelik aan al my metgeselle deurgee. Ek sou net nog wil weet of Zinka ook maar net vir die doen of daarnaas ook vir die lering geroep is!"

[14] RafaEl sê: "Vriend Risa, tussen jou en Zinka se ervaringe bestaan `n baie groot verskil! Hy is `n groot siel wat van bo kom en wat talle en belangrike ervaringe opgedoen het alhoewel hy maar net ongeveer tien jaar ouer is as jy. Daarom sal hy ook deur die Heer aangestel word om te doen en te praat. Sodra jy egter ook baie ervaring opgedoen het, sal jy ook goed begin praat en lesgee. Maar doen eers ervaring op en word ryk aan goeie en onbaatsugtige dade!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205