Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 4
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 43

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249, 250, 251, 252, 253, 254, 255, 256, 257, 258, 259, 260, 261, 262, 263, 264.

Zorel vra om skadevergoeding

43 Skaars het Ek dit gesê of daar verskyn ons man, genaamd Zorel. Hy sien daar erg toegetakel uit, is gehul in halfverbrande, verflenterde vodde, en maak baie lawaai.

[2] Ek wink vir Julius om hom te gaan vra wat hy wil hê. En Julius stap met `n ernstige gesig na hom toe en doen wat Ek hom gesê het.

[3] Zorel bly staan en sê met `n vaste stem: "Ek is `n burger uit die stad, waar al my besittings verbrand het en ek het vandag eers gehoor dat die hoë Cyrenius hom hier bevind om die slagoffers van die brand vorstelik te help. Ek het dan ook moed geskep en kom vernaamlik hierheen om te sien of Cyrenius wel hier is, en of hy werklik iets doen vir die slagoffers. As hy, wat by edele Romeine gebruiklik is, iets doen, dan sal ek ook beslis nie verniet hierheen gekom het nie. Doen hy egter om watter rede dan ook niks nie, wel, dan sal hy op daardie niksdoen vir my seker geen uitsondering maak nie! Sê my daarom, edele Romein, of Cyrenius hier is en of hy inderdaad soos wat mense vertel het, weldadigheid beoefen, sodat ek na hom toe kan gaan en hom daarom smeek!"

[4] Julius sê: "Ja, hy is hier en bewys uitsonderlike weldade - maar slegs aan hulle waarvan aan hom bekend is dat hulle van onbesproke gedrag is! As daar by jou ook geen twyfel daaroor bestaan nie, sal jy nie met leë hande teruggaan huistoe nie! Hy sit nou daar aan die lang tafel in die skaduwee van die hoë sipresse en seders, en verleen aan elkeen `n oudiënsie. Gaan daarheen en stel jou aan hom voor! Maar weet om jou goed te beheers, want hy sien so skerp soos `n adelaar en herken die karakter van `n mens dikwels met die eerste oogopslag! Wat hy waarneem, is soveel soos `n beëdigde waarheid en wee die een wat hom teenspreek! Hy is nooit kritieser as wanneer hy weldade uitdeel nie!"

[5] Zorel dink na hierdie inleiding diep na oor wat hy onder hierdie omstandighede sal doen. Na `n rukkie besluit hy egter tog om na Cyrenius te hink - wat eintlik maar domme aanstellery van hom is. By Cyrenius aangekom, buig hy driemaal met sy kop tot teen die grond. Nadat hy met die derde buiging klaar was, sê hy met `n bewende, krysende stem: ”Geëerde heer en baie streng gebieder! Ek, Zorel, voormalig eenvoudige burger van die afgebrande Césarea Philippi, versoek u allerhoogste Romeinse gestrengheid om my, arme sater van `n verongelukte mens, te help met enige op sigself gewone geld, en met `n bietjie klere, omdat ek maar net hierdie flenterlappe besit.

[6] Ek was die opregte besitter van `n klein hutjie op `n skraal landery, twee morge groot. Ek het ook `n vrou gehad, wat die gode twee jaar gelede van my weggeneem en dadelik in die paradys opgeneem het. Kinders besit ek nie, wel `n diensmaagd waarmee ek nog saamwoon, maar ook sonder kinders. My roerende besit bestaan uit twee skape, `n bok en `n donkie, en sommige slegte landbouwerktuie en bietjie klere. Alles het `n prooi van die vlamme geword terwyl ek besig was met die blus van ander huise.

[7] Ek is nou, net soos honderde ander soos ek, `n algehele bedelaar. Selfs my maagd, wat my enigste steun en toeverlaat was, het my verlaat omdat ek haar niks meer kon gee nie - wat ek egter nie sal vergeet nie! Want mag ek die buitengewone geluk hê om weer in die besit van `n hut en ander dinge te kom, dan moet sy maar net probeer om terug te kom en dan sal ek wel weet om dié ligsinnige die deur te wys!

[8] Ek sal trouens tydens die res van my lewe alles wat vrou heet, vermy en verag, want geen vrou is iets werd nie! Mense vertel wel dat ek `n onnosele os is en glad nie weet hoe ek met `n vrou moet omgaan nie, en dat my vrou van verdriet gesterf het. Maar as dit die geval was, sou ek nie byna `n jaar lank oor haar getreur het nie en dan sou my maagd nie tot met my ongeluk so graag by my gebly het nie, terwyl ek haar tog geen hoë loon kon gee nie.

[9] Dit is trouens gewoonweg `n skande dat ook die man uit `n vrou gebore moet word; soms dink jy wel dat dit byna eerbaarder sou wees as my egte moeder `n berin moes gewees het!

[10] As die gode alles wys gereël het, dan het hulle hulleself tog behoorlik met die vroue geblameer, wat hulle glad nie tot eer strek nie! Maar Zeus het dit volkome verdien dat Juno elke oomblik haar bose buie oor hom laat losbars! Die hele gode-familie skyn trouens nog nie goed deurgebak te wees nie, anders kon hulle onmoontlik somstyds sulke oerdomme streke uithaal, wat selfs te dom vir mense is!

[11] Ek is wel `n gelowige mens en ek eer die gode vir so baie wyse, wêreldse voorsiening, maar die talle kere wat hulle gewoonweg stink van domheid, is ek geen vriend van hulle nie. Sou ons stad miskien afgebrand het as Apollo nie weer êrens `n dom streek uitgehaal het nie?! Ook ons wyse priesters beweer met sekerheid dat hy verlief geraak het op so `n slanke aardnimf en haar miskien selfs `n obsene besoek gebring het, terwyl hy intussen die hemelwa met die dapper perde onbeheer laat staan het. Juno of Diana het hom intussen `n poets gebak en ons arme fauna moet daarom die mooi godebad betaal!

[12] Dat `n mens so nou en dan swak word, gewoonlik uit gebrek aan voldoende ervaring, is verstaanbaar. Wat kan die swakke riet daaraan doen as dit deur die winde heen en weer beweeg word?! Maar wanneer die geweldige seders, simbole van ons brawe gode, hulle óók deur die armsalige aardse winde soos riete na alle kante, dikwels selfs na die obseenste, laat buig en verbuig, dan is dit onverstaanbaar. `n Mens wat ook maar `n bietjie nugter nadink, moet so iets tog onvermydelik baie dom vind!

[13] Wat moet ons met `n god maak! Handel hy wys, soos wat dit `n god betaam, dan is hy alle verering werd. Is hy egter af en toe ook so swak soos `n sterflike mens, en ly ons arme mense deur `n ligsinnige godestreek onverdiende skade, dan is dit ook vir `n god dom en daarvoor kan ek hom nie eer of prys nie.

[14] U, geëerde gebieder en eintlik self ook so iets soos `n halfgod, sal nou tog wel insien dat my ongeluk suiwer by die gode lê - en by name by die verliefde Apollo!? Ek smeek u daarom om my die skade te vergoed!"


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205