Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 122

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die Heer waarsku teen die terugval in die materiële. Die wese van die materie. Die oneindigheid van die Heer

122 (Die Heer:) 'Ek het julle nou laat sien, wat en wie die mens is en wat hy moet doen om die ewige lewe te bereik. Van nou af aan hang dit heeltemal van julle af om daarvolgens te handel. Let egter op, dat julle nou nie ter wille van die wêreld weer in julle ou onsin en daardeur in julle ou dood terugval nie, want dan sal julle nog baie moeiliker op die korrekte weg te bring wees as nou! Ek kan nou nie meer persoonlik langer by julle bly nie; maar as julle My leer bly toepas, sal Ek ook in die gees werkend by en in julle aanwesig wees, en wat julle hierdie goddelike Gees van My sal vra in My Naam, dit sal julle ook gegee word.

[2] Maar om suiwer wêreldse dinge hoef julle nie by My aan te kom nie; want die sieldodende gif sal Ek julle nie gee nie, ook al sou julle My ook jare lank daarom vra! Want My doel is om julle volledig in julle siele van al die wêreldse vry te maak, en nie om julle nog meer daarmee te verbind nie. - Julle weet nou wat julle moet doen en glo, en meer is voorlopig nie nodig nie. 

[3] Maar nou nog iets anders! Vriend Jored, kyk eers, ons was nou drie dae by jou gewees, en het baie in jou huis verbruik! Hoeveel is ons jou daarvoor verskuldig?'  

[4] Jored sê diep ontroer: 'Heer, alles wat daar is, is immers slegs van U af. Ek sou egter vir U moet sê: O Heer, ek is U oorgrote skuldenaar! Wanneer en hoe sal ek hierdie groot skuld by U kan aflos? As U duisend jaar met nog duisendmaal soveel leerlinge hier sou wil bly, en dag en nag sou eet en drink, dan sou ek selfs na duisend jaar nog net so `n groot skuldenaar van U wees as wat ek nou is; wil U daarom voortaan maar net barmhartig en vol medelye met my wees, - al die ander is niks en kos ook ewiglik niks nie! - Maar één vraag sou ek U, o Heer, tog nog wil vra!'

[5] Ek sê: 'Bespaar jou die moeite, want Ek weet immers tog al wat jy nog `n tydjie hier in hierdie saal sou wil hou! Kyk, hierdie hemelliggame sou jy so wil bewaar! Ja, hulle sal nog een jaar lank so bly vir julle verdere voorligting! Maak gedurende daardie tyd `n afbeelding daarvan; daarna sal hierdie wonderbaarlike eksemplare egter verdwyn, soos wat ook eens hierdie hele sigbare hemel en hierdie aarde sal verdwyn wanneer sy alles wat daarin gevange is, heeltemal sal teruggegee. 

[6] Want luister: Alle stoflike dinge wat die hele oneindige ruimte in hierdie tyd bevat, is geestelike dinge wat gevange en geoordeel is! Dit is geeste wat hulle in die oordeel van die krag en mag van die goddelike wil bevind tot op `n vasgestelde tyd, waarop die goddelike alwetendheid sal konstateer dat hulle die graad van selfstandige sterkte bereik het wat nodig is vir die verdere geestelike, selfstandige ontwikkeling van die lewe. Dit verstaan julle nou weliswaar nie, en julle kan dit ook nie verstaan nie; maar eendag sal julle dit tog verstaan.

[7] Ek het dit egter slegs aan julle gesê sodat julle ook as heidene sal insien dat Ek die eintlike, ewige EK IS, en dat in feite alles wat die oneindigheid omvat uit MY bestaan. Maar hou dit voorlopig vir julle, totdat die ewige Gees van die Waarheid julle meer daaroor sal leer! 

[8] Nou kry julle in hierdie nag nog ietwat tyd. Wie nog iets te vra het, vra dit! Môre voor sonsopgang gaan Ek verder; want Ek het baie kinders wat Ek nog, as `n egte lewensvader, wil besoek om ook aan hulle die blye boodskap van die ewige lewe te verkondig.'

[9] Toe staan `n priester op en sê: 'Heer, môre mag U ons nog nie verlaat nie; want U het ons nou eers goed in vuur en vlam gesit en daar sal dus nog baie wees waarby ons U heilige raad nodig sal hê!'

[10] Ek sê: 'Is Ek dan die EK, of is dit My innerlike Gees? Ek het julle immers gesê dat die Gees by julle sal bly, en as julle iets nodig sal hê, dan sal Hy dit sonder voorbehoud aan julle gee. My persoon is verder van geen nut vir julle nie, maar slegs die Gees, wat julle nooit sal verlaat as julle Hom nie verlaat nie.'

[11] Die priester sê: 'Heer, dit glo ons almal nou vas en sonder enige twyfel; maar ons het nou almal `n groot liefde vir U opgewek omdat ons U volledig herken het, en juis nou wil U ons ook al weer verlaat?! Heer, bly persoonlik by ons, al is dit maar `n dag, dan sal ons almal daardeur oneindig geseënd wees!'

[12] Ook Jored en sy seun sê: 'Ja, ja, Heer, so is dit! Bly minstens nog `n halwe dag by ons en dan sal ons U begelei, waar U ook maar sal heengaan!'

[13] Ek sê: 'Nou dan, Ek sal nog môreoggend die oggendete by julle gebruik, maar dan direk daarna verder trek!'

[14] Daarop sê die uit die dood opgewekte seun Jorabe: 'Luister almal, beste mense! Hierdie enige, ewig ware God word maar net deur liefde teëgehou! Dit is die enigste mag wat selfs Hy innerlik gehoorsaam! Laat ons Hom dus van harte liefhê, dan bly Hy ook tot die middel van die dag!'

[15] Ek sê: 'Jy het heeltemal gelyk - want dit het jy nie met jou bloed nie, maar dit het jou gees jou ingegee -; maar Ek kan tog nie anders doen as wat Ek vroeër gesê het nie. Om julle almal genoeë te verskaf, sal Ek eers na sonsopgang hier weggaan, maar in die gees tog by julle bly. Nou is dit egter die vraag of julle alles verstaan het, en of niemand van julle nog iets te vra het nie.'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205