Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 14

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Bekentenis van `n Judese priester

14 Toe sê `N JUDEËR uit die priesterstand: “O Heer, U is altyd wonderbaarlik, vol liefde, ontferming, geregtigheid en wysheid en wat U sê of ook maar net dink, is onherroeplik al vir ewig `n volbragte daad en daarom kan `n mens moeilik met U praat! Maar desondanks wil ek dan tog, terwille van die broers, iets vir U sê; wees U daarom so barmhartig om na my te luister! Kyk, o Heer, wie die weg presies ken waarvan bewys is dat dit na `n bepaalde doel lei, sodat dit die grootste lewensvoordeel aan die wandelaar kan en moet gee, as hy maar net die doel bereik, sal hy ook beslis niks anders doen nie as om op hierdie welbekende weg die doel na te streef en dit ook sekerlik bereik; net `n volkome blinde dwaas sou tog nog uit pure domheid en algehele onkunde `n ander weg kan inslaan.

[2] Wel, ons ken nou die weg en die doel en ons kan daarom ook maklik die hele wêreld en haar verlokking die rug toekeer en as ware helde selfs oor dorings en slange op hierdie weg die ware en sekere lewensdoel nastreef; ons sou nou selfs teen `n leër duiwels kon veg en onweerstaanbaar ons doel nastreef! Ja, ons almal het dit nou maklik, want ons het nie net gehoor nie, maar ook gesien en met al ons sintuie waargeneem, dat dit so is en ewig nie anders kan wees nie. Maar hoe groot is ons aantal hier wat hierdie onbegryplike barmhartigheid van U gekry het?!

[3] En hoe staan dit met die ontelbare talle ander mense wat sedert Adam verstrooid oor die onmeetlike groot aardbodem in totale geestelike duisternis geleef het, nou lewe en nog sal lewe? Wie sal hulle die oë open en wie sal hulle siele aan die ander kant red? Selfs ons Judeërs en - sê maar - priesters het, as leraars en leiers van die volk, Moses en die profete; maar watter nut het ons van hulle? Waar is die bewyse dat hulle ooit werklik bestaan het? Maar net in die blinde geloof! Want gewetensvolle gelowiges het dikwels voor ons oë `n baie bittere en smadelike dood gesterf en nooit het iemand se siel, ook al het die persoon hoe gelowig gesterf, teruggekom om aan ons oor die hiernamaals `n verduideliking te gee nie. Alles wat ons daarvan geweet het, was net in duistere, onbegryplike mites wat met die beter beginsels van die verstand in alle opsigte in teenspraak gestaan het en waarmee mens net die meeste onontwikkelde laer deel van die volk nog gedeeltelik in toom kon hou.

[4] Wat `n wonder dat ons en nog baie met ons, die wyshede van die Griekse wyses leer ken het, maar vervolgens weliswaar die Judeërdom verkondig het, maar self as Epikuriste* geleef het! Want die mens het nou eenmaal `n onstilbare dors na geluksaligheid en minstens na `n redelike mate van tevredenheid; oor `n ewige geluksaligheid in die hiernamaals kon ons op generlei wyse ook maar die geringste aanwysing verkry nie, laat staan nog enige vasstaande, houbare bewys. Ons was gesonde en sterk mense, die wêreld het duidelik sigbaar met al sy vreugdes en weelderighede voor ons gelê; dan is dit tog wel ooglopend duidelik dat ons nie gehuiwer het om daarna te hunker en te gryp nie! Want waarom sou ons vir ons moeite om die volk die dom geloof in God en die onsterflikheid op allerlei maniere deur leuens en bedrog by te bring, onsself ook geen vreugde aandoen nie, want vir die geluk in die hiernamaals kon ons, soos wat reeds gesê is, tog nêrens `n bewys vind nie?! *(Epikuriste: Hulle hoofdoel was genotsug.)

[5] Sien, o Heer, dit was ons geheime leer vir ons, byna soortgelyk aan dié van die Essene, hoewel ons om bekende redes geen betrekkinge met hulle gehad het nie! Ons het ook die Sadduseërs vanweë hulle sinisme vervolg, maar nie omdat ons self iets teen hulle gehad het nie, maar terwille van die gelowige volk; want sou die volk oorgegaan het na die sekte van die Sadduseërs, dan sou ons aardse geluksaligheid baie gou geëindig het. Maar noudat ons deur U suiwere barmhartigheid eindelik die oortuigende bewyse vir die hiernamaals ontvang het, het al die aardse dinge vir ons natuurlik egter weersinwekkend geword! Wat gebeur daar egter met die ander, wat nie hierdie barmhartigheid gehad het nie en waarskynlik nooit sal ontvang nie?”

[6] EK sê: “Daaroor hoef julle julle nie te bekommer nie! Sorg julle voorlopig maar net vir julleself, vir alle ander sal nog voldoende gesorg word! Wie dan wil, soos julle, sal net soos julle gered word; wie dan egter nie wil nie, sal dit aan homself te wyte hê as hy verlore gaan.

[7] Want elke siel sal in die hiernamaals geheel uit haar liefde en uit haar geloof verder lewe, en dit sal sy doen in die volle vryheid van haar wil. As die liefde rein en goed is, sal haar lewe in die hiernamaals ook rein, goed en salig wees; is haar liefde egter sleg en onrein, en berei sy vir haar naaste geen vreugde nie, dan sal haar lewe in die hiernamaals ook onrein, sleg en sonder saligheid wees. 

[8] As mens egter `n siel haar liefde sou ontneem en aan haar `n ander liefde sou gee, sou dit beteken dat mens haar vernietig en in haar plek `n heel ander siel skep. Dit sou egter teen die ewige, Goddelike orde ingaan; want wat God eenkeer in die lewe geroep het, kan nie meer vergaan nie, maar net voortdurend in iets anders en beters oorgaan. Daarom sal ook in die hiernamaals vir sulke verlore siele gesorg word; maar Ek sê wel, soos wat Ek reeds vroeër gesê het: Hier is één uur beter as `n duisend jaar daar! 

[9] Aan geen enkele siel geskied egter onreg daardeur nie; want as mens die liefde en die wil van `n siel onbeskadig laat en haar net in soverre van die ander afskei dat sy die goeie geen nadeel kan berokken nie, maar verder in haar sfeer in die geesteswêreld, wat heeltemal met haar eie aard ooreenkom, kan doen wat sy volgens haar liefde vir die lewe en haar intelligensie wil, dan doen mens daarby beslis geen enkele siel onreg aan nie, selfs ook nie skynbaar nie.

[10] Soos wat julle tot nog toe geleef het, so lewe ook alle bose duiwelse siele in die hel en hulle hellevuur bestaan juis uit hulle bose, nooit te versadigde eieliefde en heerssug, en julle sê self, dat dit daarby met julle goed gegaan het. Maar nogtans het die wurm van die dood elke dag steeds meer in julle geknaag en het julle bestaan onuitspreeklik verbitter! Wat het julle so aan julle goeie lewe? 

[11] En so sal dit met baie in die hiernamaals vir baie lank gaan, waaraan hulle egter heeltemal self skuldig is. Want hulle sal daar nie één keer nie, maar heel dikwels, die verskrikkinge van die dood moet deurstaan, wat egter ook so moet wees; want as dit nie daar was nie, sou elkeen van hierdie siele werklik vir ewig verlore gewees het.

[12] Vir vandag weet julle genoeg, en omdat dit nou spoedig middernag is, gaan ons nou na binne om te rus. Wat die dag van môre alles sal bring, sal ons wel sien, laat ons dus gaan!”

[13] Toe het ons almal die heuwel verlaat en na die huis gegaan, waar reeds uitstekend vir ons rus gesorg was. Maar die Judeërs het `n eie, groot kamer gehad. Daar het hulle om die tafels gesit en byna die hele nag met mekaar bespreek oor wat hulle sou moes doen om van die tempel vry te kom. Die sekerste middel het vir hulle voorgekom om hulle uit te koop. Toe het dit ook by hulle rustig geword.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205