Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 151

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die kenmerke van die Antichris

151 Daarop sê Johannes, My liefling: 'Heer, dan loon dit nouliks om, ter wille van die dom mense, soveel moeite te doen! Want as U helder lewenslig, wat U nou aan die mense gegee het, al so gou weer verduister gaan word deur die moeite van die Satan, wat altyd met sukses bekroon word, laat hy die mense dan maar kry soos wat hulle nou is, heeltemal ryp vir sy helse wêreldryk. Waarom moet hierdie mense dan nou eers met U lewenslig begenadig word?! Waarlik, as die vrugte van U goddelike leer so daaruit sal sien, beteken dit wel - as mens vernaamlik die wêreldse mense in U leer sou wou onderrig – dat alle swyne van die wêreld U lewenspêrels as doodgewone voedsel sal verwerp! Gee hulle gladnie die edel stof nie, dan kan hulle dit ook nie bederf en verontreinig nie!'

[2] Ek sê: 'Ja, My vriend, vir die mense wat nie daarin sal glo nie, en dit terwille van wêreldse gewin alles wat hulle oor My leer hoor, ook nog sal vervals, word die lewensleer ook nie deur My gegee nie; want vir die verdere, moontlike ontwikkeling van die siele van sulke mense, het Ek nog eindeloos baie groot skole in die hele oneindigheid.

[3] Ek gee hierdie leer slegs vir My ware kinders op hierdie aarde, en vir hulle geld ook die ware verlossing van die ewige dood. Hulle sal hierdie leer steeds suiwer hou en sal hulle nooit oorgee aan die mag van die wêreldbedrog nie, maar rotsvas aan die ewige lewenswaarheid vashou.

[4] Wat is ons aan alle wêreldse mense geleë? Ook hulle is die geleentheid gegee om hulle in die ry van die kinders van God te skaar. Ag hulle dit ernstig, dan sal hulle op geen enkele wyse daarin gehinder word nie, - en as hulle dit nie wil doen nie, laat hulle dan doen wat hulle wil, en julle hoef julle dan ook nie oor hulle te bekommer nie!

[5] Kyk, so staan die saak daaroor! Want Ek het nie gekom om moontlikerwys die wêreld van haar ou boeie van die oordeel te bevry nie, maar slegs om My kinders te bevry van die wêreld en haar oordeel. En soos wat Ek dit nou doen, sal ook julle en julle opvolgers dit in die vervolg doen.

[6] Wat daar op hierdie aarde in en volgens My orde bevry kan word, dit bevry julle ook, en wat julle so sal bevry, sal ook dadelik by My in die hemel bevry wees; wat egter nie te bevry is nie, laat dit gebonde bly, of wanneer iemand julle bevryding nie die moeite werd vind nie, laat hom dan in sy boeie en bind hom, sodat hy julle nie lastig kan val nie, - en waarlik, Ek sê vir julle, ook vir My in die hemel sal hy gebonde wees en baie lank `n slaaf van sy duistere wêreldse wil bly! - Kyk, so staan dit daarmee!'

[7] Johannes sê verder: 'Maar hoe kan ons sulke duistere antichristene herken? Want ek besef nou wel baie goed dat U leer deur baie aangegryp sal word, en by name deur die talle towenaars, om hulle toorkunste daarmee op te sier. O, vertel ons ook van bepaalde kenmerke, sodat ons hulle gou kan herken en dan dadelik kan bestry!'

[8] Ek sê: 'Julle sal hulle baie maklik aan hulle dade herken! Want op dorings groei geen druiwe en op distels geen vye nie. Wie iets gee en nog meer daarvoor wil terughê, is beslis geen leerling van My nie! Want sien, Ek gee alles vir Myne, uiteindelik selfs die lewe van My liggaam, en Ek neem van niemand daarvoor `n wêreldse offer aan nie, maar Ek wil slegs dat die mens My bo alles liefhet, sodat Ek hom dan nog eindeloos baie meer en baie groter dinge kan gee.

[9] Dink julle dat die Antichris dit ook sal doen? O, glad nie! Hy sal sy aanhangers ontsettend weinig gee - bykans niks nie behalwe los, versinde beloftes vir die groot hiernamaals, - maar hy sal groot offers daarvoor eis, soos wat die tempeldienaars nou doen, wat hulle vir hulle ellelange gebede baie goed laat betaal; maar hierdie gebede het vir niemand enige nut nie, nie vir hierdie wêreld nie en nog minder vir die wêreld aan ander kant nie! En kyk, so sal die Antichris dit ook doen en Myne sal hom en sy leerlinge en volgelinge baie maklik aan hierdie waardelose en hol vrugte herken!

[10] Wat doen die Fariseërs nou met alle moontlike sondaars? Kyk, hulle wil betaling vir die sonde hê, hetsy in die vorm van geld of van ander ryk offers, en hulle gee daarop aan die sondaars `n vrybrief vir die reeds begane sonde en ook vir die sonde wat mense in die toekoms trag om te begaan, want daarvan is daar genoeg te vinde, veral in die ryk wêreld, en hulle sê vir die mense: 'As dit wat die wet jou oplê, te swaar is, kan jy iets beter offer!' En so hef die tempeldienaars die gebod van God op en gee in die plek daarvoor hulle eie selfsugtige, wêreldse voorskrifte, omdat hulle maar net ten koste van die arme, blinde mensdom `n goeie lewe wil lei.

[11] Kyk, presies so sal die Antichris en al sy leerlinge ook doen, en julle sal hom baie maklik daaraan herken! En as sy leerlinge dan orals ter wêreld met oopgesperde mond sal skreeu: 'Kyk, hier is die ware die Messias(Christus)!' of' Daar is hy!', laat niemand van My hulle dan glo nie! Laat die egte wêreldse kinders egter met rus en roep hulle nie, sodat julle met rus gelaat kan word deur die Draak en sy aanhang; want hy sal hom `n tyd lank groot mag toeëien en sy vyande baie boos behandel! Maar juis daarmee sal hy sy oordeel en sy ondergang self bewerkstellig.

[12] In dieselfde tyd sal Ek die mense egter allerlei groot uitvindinge laat doen, wat soos gloeiende pyle in die duister kamers van die Draak sal dring en wat sy bose, bedrieglike kunste en valse wonderdade kragdadig sal verniel, en hy sal naak daar staan, selfs tot skande van sy vurigste aanhangers, wat hulle weldra in groot groepe van hom sal afkeer.

[13] Daarom moet daar geen sorg wees oor wat daar mettertyd met My leer sal gebeur nie, want slegs Ek weet wat daar in hierdie wêreld alles moet gebeur, en wat daar toegelaat moet word, sodat die stralende lewenslig ook eens in die blinde wêreld sal skyn!

[14] Maar so gou as wat julle dit vir julle voorstel, gaan dit nie wees nie; want slegs Ek ken die lewenselemente in hierdie aarde, en weet ook die beste wat daarvoor nodig is om dit gedurende die loop van die tyd na `n hoër lewenslig te lei. Vra daarom nie verder nie en wees opgewek!

[15] Kyk, vir My is daar in hierdie wêreld nog baie vreemde, droewige ervarings te wagte, wat eintlik glad nie lank op hulle sal laat wag nie! Maar tog sal julle nie opmerk dat Ek daaroor treurig is nie. Laat kom wat wil, slegs Ek is die Heer! Daar kan niks bo My Wysheid en My wil uitgaan nie. Wat daar gebeur en nog sal gebeur, is daarbo bereken en bepaal, en het sy diepste, mees heilige rede. Wie in sy hart en in sy liefde en in sy wil met My is, sal deur die wêreld, hoe vreeslik ookal, nooit geraak kan word nie, maar wie slegs in sy wysheid een is met My, sal in die wêreld `n baie harde stryd moet deurstaan; want die wêreld met haar materiële verstand sal ewig nooit insien dat, wat vir haar skynbaar iets is, geestelik werklik niks is nie. - Laat dit voldoende vir julle wees en wees nou bly in My!'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205