Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 159

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die belewenisse van die leerlinge op die fees in Jerusalem

159 Toe ons ontwaak - wat hierdie keer ruim `n uur later as ander tye plaasgevind het, - staan die oggendete al kant en klaar op die tafel. Ons gaan dan ook dadelik aan tafel en gebruik opgewek die goed toebereide maal. Daarna vra die leerlinge aan My wat Ek alles op hierdie dag gaan doen.

[2] Ek sê: 'Hierdie dag bestem Ek tot `n dag van rus en daarom sal Ek nie so besonder baie doen nie. Julle kan egter na die fees toe gaan en sien wat daar alles gebeur en luister na wat daar alles gesê word! En as julle dan gedurende die middag terugkom, kan julle My vertel wat die mense alles oor My sê; want Ek wil vandag met My Geestesoog en -oor by die fees aanwesig wees, omdat daar vandag `n suiwer heidense fees gevier sal word. Wie egter hier wil bly, bly en dink nie aan die dom fees nie!'

[3] Daarop staan enkele leerlinge op en wandel rustig na die fees; maar Petrus, Johannes, Jakobus, Andreas, Simon en Matthéüs bly, en die Judese Grieke bly ook by My, - want hierdie laasgenoemdes het heeltemal geen sin om in die stad deur iemand, ondanks hulle Griekse kleding, herken te word nie.

[4] Toe die paar leerlinge egter op die fees kom, word hulle baie gou deur enkele Judeërs herken, wat na hulle toe kom en nogal heftig vra: 'Is julle nie Galileërs en leerlinge van die timmerman uit Nasaret nie? Waar is Hy, dat ons na hom toe kan gaan en self met Hom praat?'

[5] Die leerlinge gee op hierdie vraag egter geen antwoord nie. Toe dring die Judeërs nog meer by hulle aan.

[6] Dit vererg Nathaniël, en hy sê vir die opdringerige mense: 'Waarom vra julle dit tog? Loop heen en soek Hom self! Ons is hier net sulke goeie bedevaartgangers as julle, en julle het geen rede om ons met enigiets lastig te val nie. Maar as julle aanhou, dan sal ons julle wel deur die Romeine laat verwyder.'

[7] Daarop mor die Judeërs en laat die leerlinge met rus; vervolgens loop die leerlinge in die voorhowe van die tempel rond.

[8] Daar word egter op verskillende plekke druk oor My gepraat, en baie Judeërs wat in My glo, soek My, en vra ander of iemand My êrens gesien het. Maar niemand weet waarheen Ek gegaan het nie.

[9] En sommiges sê: 'Hy het gister tog gelyk gehad toe Hy sê: 'Julle sal My soek en tog nie vind nie! En waar Ek is, sal julle nie kan kom nie!"

[10] Daar was egter verskeie wat sê dat Ek `n suiwer bedrieër en geskoolde towenaar was. Ander sê dat Ek kennelik `n profeet was, omdat Ek dinge doen wat nog nooit deur `n towenaar gedoen was nie. Nog ander sê dat Ek vernaamlik `n baie vroom mens was. Daarteen protesteer ander weer wat sê dat Ek van `n magtige gees uit die onderwêreld besete was, wat deur My sy wonderwerke doen en daardeur die mense verlei. Maar niemand beweer of glo dat Ek die Christus (Gesalfde) was nie.

[11] Die fees kom egter vir die leerlinge baie verlate en woes voor en hulle gaan daarom weer gou terug. Toe hulle weer in Bethanië aankom, word hulle dadelik gevra hoe dit op die fees gegaan het. En hulle vertel haarfyn wat hulle meegemaak het, en wat hulle gesien en gehoor het. Toe vererg Lasarus en die ander leerlinge en die Judese Grieke hulle daaroor dat die volk so baie verstok was.

[12] En Lasarus sê: 'Nee, die onbegryplikste vind ek tog wel dat die volk so ontsettend verstok is! Watter tekens is daar nie al gedoen nie, en watter lesse is daar nie al gegee nie, - en alles tevergeefs?! Nee, nee, dit is te veel! Iemand soos U, o Heer, wat die mense maar net voortdurend die grootste weldade bewys, en na my wete nooit van iemand ook maar `n stater (geldstukkie) gevra het nie, maar soveel armes tog wel oorgelukkig gemaak het, en elkeen wat aan U `n vriendediens bewys het, dadelik duisendvoudig daarvoor beloon het, sien die stokblinde volk as `n bedrieër! O Heer, gee vir my U almag slegs vir `n paar oomblikke, en hierdie plek sal in `n oogwenk van al sy ou vuilheid gereinig wees! O, hopelose mensdom! Nee, dit het geen vyftig jaar meer nodig om ryp te word vir `n baie swaar oordeel nie; dit is daarvoor nou al meer as ryp!'

[13] Ek sê: 'My beste broer, wen jou nie so daaroor op nie en bedink dat Ek Self wel die beste kan insien waarom daar toegelaat word dat hulle hulleself so onsinnig gedra! Tog sal ons hulle nie oordeel nie, maar die goed verstaanbare woord wat Ek so dikwels heeltemal tevergeefs tot hulle gespreek het, sal hulle oordeel. Maar dit is goed dat julle ook nou gehoor het hoe die oorgrote deel van die volk oor My die oordeel vel. Môre, op die grootste feesdag, sal Ek weer in die tempel onderrig gee en hulle baie presies vertel wat se soort mense hulle is, en wat hulle as sodanig kan verwag. - Daarom hou ons nou op daaroor en sal ons met iets beter besig hou!'

[14] Lasarus sê: 'Ja, Heer, dit sal wel die beste wees! Maar is daar dan iets wat ons nou dadelik kan doen? Die middagete sal eers oor `n uur gereed wees.'

[15] Ek sê: 'O, bekommer jou maar nie daaroor nie, - daarvoor sal Ek wel sorg!'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205