Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 162

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Oorsaak en doel van siektes en lyding

162 Toe sê een van die Judese Grieke: 'Heer, maar waarom kan `n mens, wat tog al arm is en op sterwe lê, maar net via allerlei pyn en lyding tot God kom? Kan dit nie ook sonder lyding gebeur nie, maar deur gesond te lewe volgens die erkende wil van God?'

[2] Ek sê: 'Hoe die mens dit wil hê, hang merendeels van homself af. Die meeste liggaamlike siektes is selfs `n gevolg van allerlei sonde wat die mens al vanaf sy jeug tot aan sy ou dag herhaaldelik, en uiteindelik uit `n soort gewoonte, begaan het. Baie siektes van die mense is `n erfenis van ouers en voorouers aan hulle kinders en kindskinders, omdat die ouers en voorouers reeds gesondig het. Jy kan God nie die skuld gee as die mens aan hom self allerlei siektes, pyn en lyding besorg nie. Wel sou jy vir My kon sê: 'As `n mens dadelik deur God onderrig was oor wat hy moet doen om binne die korrekte orde op die wêreld te lewe en te bestaan, en hy handel en gedra hom nie daarvolgens nie, is dit duidelik sy eie skuld as hy allerlei lyding oorkom; maar as die mens alles uit die natuur moet leer, en deur allerlei aaklige en dikwels baie nare ervaringe verstandig moet word, dan is hy nie skuldig aan sy lyding nie, en die betreurenswaardigste skepsel op aarde!'

[3] Ja, sê Ek Self, dit sou die mens ook beslis wees, as dit so was! Dat dit egter nie so is nie, bewys die skepping van die eerste mensepaar in die paradys, wat bykans ononderbroke deur God vir meer as `n honderd jaar lank in alles onderrig was. Bowendien het God in die eerste mensetydperk op hierdie aarde voortdurend nog sieners en profete opgewek, wat die steeds meer wêrelds geworde mense onderrig het en aan hulle die wil van God geopenbaar het.

[4] Onder sulke omstandighede kon geen mens beweer dat hy van niemand gehoor het hoe hy volgens God se wil moes lewe nie. Maar die mense het hulle aardse woonwêreld maar al te gou verbou, stede gebou, en die een pragtige bouwerk na die ander gemaak, en het so op hulle wêreld verlief geraak, en het God deur al die wêreldse dinge vergeet, en het selfs godloënaars geword. Sodra daar dan ook `n siener, wat deur God opgewek was, na sulke mense toe gegaan het, was hy maar net uitgelag en niemand het op die betekenis gelet van wat hy gesê het nie.

[5] Wel, hierdie soort mense moes dan natuurlik maar deur allerlei bitter ervaringe wys word, en daaruit vir hulleself moeisaam `n leefreël opstel. Hierdie leefreëls, soos wat julle dit nou byvoorbeeld by baie heidene vind, was egter al vir die grootste deel sonde teen die ware, goddelike orde, en daardeur moes noodsaaklikerwys allerlei liggaamlike en geestelike kwale, uiteenloop en inslag vind onder die mense.

[6] As God dan so `n mensesiel vir die ewige lewe wil behou, moet Hy haar deur allerlei liggaamlike lyding daarmee help, en wel deur so `n te sterk aan die wêreld gehegte siel deur baie lyding en pyn meer en meer van die wêreld losmaak, om te voorkom dat sy heeltemal na die materie van die wêreld oorgaan, en dus na haar dood en oordeel sou terugtrek om opgesluit te word. En kyk, dit is nou die rede waarom die mense op aarde so dikwels en so baie moet ly!

[7] Maar ook ons sal baie moet ly ter wille van mense wat deur eie skuld misvorm is. - Maar ons lyding sal nie oor ons kom omdat ons geen kennis van die suiwer goddelike lewensorde sou hê of omdat ons dade daarmee in stryd sou wees nie, maar ons sal deur ons lyding die blinde mense siende maak, omdat hulle aan ons sal kan sien hoe weinig waarde ons aan die lewe van hierdie wêreld heg en hoe groot die waarde van die lewe van die siel moet wees om daarvoor alle aardse voordele weg te wys. En kyk, daaruit sal dan eers die eintlike verlossing van die mense van die dood na die lewe bestaan! - Maar genoeg oor dit alles! Omdat die middagete nou heeltemal gereed is, gaan ons weer na binne en aan tafel!'

[8] Die Judese Grieke kon egter nie so goed verstaan dat ook hulle as latere verkondigers van My woord nog daarvoor sou moes ly nie, ja selfs hulle lewe op die spel sou moes plaas.

[9] Maar Ek spreek die bekende woorde vir hulle: 'Van nou af aan sal elkeen wat sy lewe liefhet, dit verloor; wie dit egter verag en loslaat, sal dit vir ewig behou!'

[10] Toe sê die Judese Grieke: 'Wat beteken dit? Wie kan dit verstaan?'

[11] Ek sê: 'Dit beteken: Wat sou `n mens daaraan hê as hy met die aardse lewe die hele wêreld sou wen, maar skade sou ly aan sy siel? Wat kan so `n mens dan gee om sy siel te verlos? Daarom moet `n mens die liggaamlike lewe maar net gebruik om die ewige lewe van die siel daardeur te wen. As `n mens sy liggaamlike lewe nie in die eerste plek daarvoor gebruik nie, is dit sy eie skuld as hy die lewe van sy siel verspeel het, of dit minstens sodanig verswak het dat die siel later aan die ander kant dikwels `n baie lang tyd sal nodig hê om so ver tot haarself in te keer, dat sy in `n ietwat ligter en beter geesteslewe sal kan oorgaan. Want solank `n siel nog met enige liefde aan haar liggaamlike lewe en die voordele daarvan hang, kan sy in haar gees nie volledig wedergebore word nie; `n siel wat egter nie volledig in haar gees wedergebore is nie, kan ook nie in die ware ryk van God ingaan nie, omdat geen atoom van iets materieel daarin kan bestaan nie. - Nou weet julle genoeg, laat ons dus na binne gaan!'

[12] Ons gaan nou na binne en nuttig die goed voorbereide middagete en tydens die ete word daar maar weinig gepraat.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205