Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 172

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die Heer op die Olyfberg.

Die Heer en Syne in die herberg van Lasarus op die Olyfberg

(Evangelie van Johannes 8:1)

172 Toe ons buite was, vra die leerlinge en Lasarus hulleself af: 'Wat gaan ons nou doen? Sal ons na Bethanië teruggaan, of sal ons iets anders in Jerusalem onderneem?'

[2] Lasarus vra My na My mening.

[3] En Ek sê vir hom: 'Julle kan doen en laat wat julle wil, maar Ek kan nie vandag na Bethanië toe gaan nie, want die tempeldienaars het spioene langs die weg na Bethanië uitgesit om uit te vind of Ek My miskien by jou ophou. En as hulle dit sou uitvind, sou hulle julle vervolgens nog meer narigheid besorg. Ek het My daarom voorgeneem om hierdie dag en ook die nag op die Olyfberg, in die klein en nog steeds baie armsalige herberg, deur te bring.'

[4] Lasarus sê: 'Dit is pragtig, want die helfte van die Olyfberg en die herberg is immers ook my eiendom! O, daar sal ons dit goed na ons sin hê! Die herberg was drie jaar gelede nog baie druk besoek, maar sedert my struweling met die tempel, het die besoeke sterk afgeneem, omdat die Fariseërs verklaar het dat dit `n sonde vir elke Judeër is as hy my herberg op die Olyfberg besoek. Die oorsaak skyn eenvoudig slegs te wees dat ek ook hierdie besitting van my onder die Romeinse jurisdiksie gestel het, toe die tempeldienaars alle moeite daarmee gedoen het om my besit met hulle praatjies te ontneem. Daardeur het ek hulle planne gedwarsboom, wat hulle natuurlik vreeslik ergerlik gemaak het. Maar omdat hierdie besitting nou ook onder Romeinse opperbestuur staan, het die tempel­dienaars dit as absoluut onrein verklaar, en elke Judeër wat die herberg besoek, is vir `n volle jaar verontreinig. Kyk, dit is die eint­like rede waarom my herberg op die Olyfberg nou baie minder besoek word as voorheen; slegs Romeine en Grieke kom dikwels daar. Maar desnieteenstaande is die herberg tog goed voorsien van alles, en ons sal niks daar kortkom nie. Juis vanuit die herberg het mens `n pragtige uitsig oor bykans die hele Jerusalem en die wye omtrek, en ek is daarvan oortuig dat dit U bo alles baie goed sal beval.'

[5] Ek sê: 'Pragtig, beste broer! Ek weet dit, en juis daarom het Ek My voorgeneem om hierdie dag en hierdie nag op die Olyfberg deur te bring; want daarbo is ons veilig teen alle vervelende besoeke van Judeërs en Fariseërs. En daarom kan ons nou wel daarheen gaan!'

[6] Almal was baie tevrede daarmee, en Ek gaan met die leerlinge die Olyfberg op (Johannes 8, 1). Lasarus loop egter gou vooruit om sy bediendes te sê wat hulle te doen staan en wat hulle moet gereedmaak. Dadelik word daar alle voete en hande flink aan die werk gesit om vir ons `n ware feestelike middagete te berei.

[7] Ons neem egter meer tyd daarvoor en beklim ons Olyfberg baie op ons gemak, wat so heet omdat sy rotsvrye vlakke baie dig met olyfbome beplant was. Ons Lasarus het egter die grootste deel van hierdie olieryke berg besit; die kleiner deel nader aan die stad geleë en wat meer rotsagtig was, was egter die eiendom van `n Griek, wat hom baie weinig aan die besit gesteur het en die jaarlikse olie-oes altyd vir `n paar silwerlinge aan Lasarus oorgelaat het, en hy was sodoende ook die halwe besitter van die deel van die Olyfberg wat aan die kant van die stad geleë was.

[8] Die Olyfberg was nie so `n hoë berg nie, maar het tog `n paar plekke gehad wat taamlik steil was, en mens het daarom tog byna `n halfuur nodig gehad om heeltemal tot op die hoogste punt te kom. Die tempel het ook op `n taamlike hoogte gestaan en was self `n baie hoë bouwerk, maar vanaf die top van die Olyfberg moes `n mens sy blik tog behoorlik na benede rig om die hoë koepel van die tempel te kon sien. Kortom, in die omgewing van Jerusalem was die Olyfberg wel die hoogste berg.

[9] Ons kom weldra die vooruitgelope Lasarus agterna en neem plaas onder die olyfbome rondom die herberg en kyk rond totdat Lasarus kom en ons vra om aan tafel te gaan. Ons staan op en gaan die herberg binne, waarvan die eetsaal beslis nie tot die kleinste behoort het nie, want `n honderd gaste kon baie gerieflik `n rojale plek daar vind. Die groot tafel was ruimskoots voorsien van brood, wyn en allerlei edel vrugte, en in die braaipanne geur goed toebereide visse uit die Jordaanrivier en uit die kragtig stromende Kedronspruit. Die leerlinge se monde water al ten aanskoue daarvan. Ons neem dan ook dadelik plaas, en eet en drink na hartelus.

[10] Dit doen Lasarus baie genoeë dat Ek ook met baie genot en eetlus eet en drink.

[11] Maar Ek sê vir hom: 'Vriend, dit doen jou nou baie genoeë dat Ek ook so goed eet en drink, maar glo My: Hoe goed dit wat hier op die tafel staan ook vir My smaak, tog het vandag se oggendete in die tempel vir My nog beter gesmaak, - want vandag het Ek baie geoes vir My ryk in die hemel. Maar môre sal die volgende oes vir My ryk wel aanmerklik slegter uitval. Wat vandag van My word, sal van My bly; maar môre sal daar nie baie nuus bykom nie. Die swart gebroedsel daar benede sal My versoek, - maar daarvoor aan die skandpaal gesit word voor die volk! - Maar laat ons nou eet en drink en dan weer na buite gaan! Vandag sal julle nog baie sien.'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205