Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 174

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die voorspelling van die groot oordeel van die huidige tyd

174 (Die Heer:) 'Soos wat dit egter met die oordeel oor Jerusalem sal gaan, so sal dit ook gaan met `n toekomstige, groot oordeel oor die wêreld, wanneer Ek `n definitiewe einde sal maak aan die groot hoer van Babel. Dit sal dan `n oordeel wees soos ten tye van Noag en ten tye van Sodom en Gomorra.

[2] Dan sal daar ook groot tekens op aarde, op see en aan die hemel plaasvind, en Ek sal knegte opwek wat vanuit My woord die komende oordeel op velerlei wyse sal voorspel. Maar as gevolg van die hoogmoed van die mense sal hulle nie daarna luister nie, en as hulle daarna luister, sal hulle hulle woorde tog nie glo nie, maar hulle uitlag asof hulle dwase is. Maar juis dit sal met die grootste sekerheid bevestig dat die groot oordeel, wat alle boosdoeners deur die vuur sal verteer, onherroeplik in aantog is.

[3] So sal in dieselfde tyd ook talle jongelinge visioene hê, en talle jong vroue sal voorspel oor die dinge wat sal kom. Geseënd is diegene wat hom daardeur sal verbeter en hom waaragtig sal bekeer!

[4] Die voortekens sal mens net so maklik kan herken as wat aan `n vyeboom te sien is dat die voorjaar kom sodra sy takkies sappig word en gaan uitloop.

[5] Dan sal daar hier en daar tussen die volke groot oorloë voorkom, en die een volk sal optrek teen die ander; ook sal daar `n groot skaarste intree en sal daar allerlei epidemiese siektes uitbreek, soos wat dit by die mense tot dan toe nog nooit voorgekom het nie. Ook sal dit deur groot aardbewings voorafgegaan word, om te maak dat die mense mekaar daardeur tot boetedoening en liefdadigheid sal aanspoor. Geseënd is diegene wat hom daardeur sal laat lei!

[6] Maar besonder baie sal hulle niks daarvan aantrek nie en alles toeskrywe aan die blinde kragte van die natuur, en die profete sal bedrieërs genoem word, en baie sal mense ter wille van My Naam in kerkers gooi en hulle onder bedreiging met swaar straf verbied om in My Naam te praat en `n komende oordeel aan te kondig. Wie nie sal doen wat die groot hoer van Babel wil hê nie, sal dit baie moeilik kry.

[7] Al hierdie dinge moet eers gebeur, ongeveer sewehonderd jaar voor die oordeel, sodat niemand daarna kan sê dat hy nie voldoende gewaarsku was nie. Maar van nou af sal daar nog geen volle twee duisend jaar verbygaan voordat die groot oordeel op hierdie aarde sal plaasvind nie; en dit sal dan duidelik die jongste, maar tewens ook die laaste oordeel op hierdie aarde wees.

[8] Eers daarna sal die paradys op aarde kom, en die wolf en die lam sal vreedsaam in één stal woon en saam uit één skottel eet.

[9] As die oordeel naderkom, sal die teken van die Menseseun ook aan die hemel te sien wees, wat beteken dat die hemel in die mens My as die enigste Heer van hemel en aarde sal erken, en die siel van die mens sal My prys en die hoogste lof gee.

[10] Dit is dan egter nog nie die voleindiging van die mens nie. Maar wanneer Ek, lig en stralend in die wolke van die hemele, met alle hemelmagte, onder geskal soos van talle oorlogs- en oordeelsbasuine in die lewende woord vir alle mense sal optree in die egte hemel, wat in die hart van die mens is, dan het die wêreldoordeel gekom.

[11] Die ware mens sal dan My glansrykheid binnegaan, en die boosdoeners sal verteer word deur die vuur van My regverdige toorn, en binnegaan in die ryk van hulle bose dade, wat gereedgemaak is vir alle onverbeterlike duiwels. Want laat diegene wat uit homself vrywillig die hel kies, dan ook daarin vervloek wees, soos wat hulle in hulself vervloek is. Soos wat die goeie egter ewig goed sal bly, so sal ook die bose in homself ewig boos bly en die ewige, geoordeelde ondergrond sal vir My ewig as voetbank moet dien.

[12] Ekself, as oergoddelike Persoon, sal egter niemand oordeel nie, maar dit sal My woord doen wat Ek tot julle gespreek het. Want wanneer Ek eenmaal opgevaar het na My ryk, sal Ek nooit meer in die vlees op hierdie aarde terugkom nie, maar enkel in die Gees, in die Woord, en dit sal so wees soos wat dit in die begin was, waaroor geskryf staan: In die begin was die woord, die woord was by God, en God was die Woord. Die Woord het egter Vlees geword en het onder die mense gewoon. Hy, dit wil sê, Ek, het gekom na My eiendom, en Myne het My nie herken nie; want die wêreld en haar vlees het hulle almal blind en doof gemaak.

[13] Ek is nou in die vlees by julle as `n mens; maar Ek kan julle tog nie al die krag van My Gees skenk nie. Wanneer Ek egter later nie meer in die vlees, soos wat Ek nou is, maar slegs in die Gees, by julle sal wees, sal Ek julle ook alle Krag en Mag van My Gees kan skenk, wat Ek natuurlik van ewigheid Self is. In die Gees en in Haar Krag sal Ek by julle bly tot aan die einde van die tyd wat hierdie aarde nog sal bestaan, en totdat Sy die laaste geoordeelde gees tot rypheid gebring het. Maar dan sal hierdie aarde ook vir ewig as die wieg van die kinders van God verdwyn. Vanaf daardie tyd sal alles geestelik geoordeel word.

[14] Ek het julle egter al meermale vertel en laat sien hoe dit besig is om op hierdie aarde te word. Wag daarom geduldig op die versekerde verlossing, wat beslis sal kom, en wens nie te gou vir `n voortydige wêreldoordeel nie! Want wanneer dit sal kom, sal dit nog te vroeg wees vir julleself, en nog meer vir hulle wat nog geleer moet word; want in die oordeel is liefde en medelye ver te vinde, en elke siel sal dan aan haar eie krag oorgelaat word om met bitterheid te ervaar hoe totaal nutteloos die ydele, tydelike hulp van wêreldse mense was. - En sê My nou, of julle dit alles goed verstaan het!'


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205