Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 216

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die sewe boeke van Moses

216 Die Fariseër, wat voorheen aan die woord was, vra daarop aan die Romein, of hy die vrae aan hom mag stel, of `n ander een.

[2] Die Romein sê: 'Dit maak nie saak nie! Elkeen wat maar wil en kan vra, mag vra!'

[3] Met die antwoord was hy tevrede en `n ander stap na vore, `n Skrifgeleerde van die hoogste rang, die sê: 'Luister! As jy `n vraag nie tot algemene tevredenheid kan beantwoord nie, verloor jy volgens jou eie verklaring duisend pond goud!'

[4] Die Romein sê: 'Dit weet ons al! Dink nou maar nie aan die goud nie, maar aan `n verstandige vraag! Want dit sal jy nodiger hê as die afgesproke goud, wat jy nog lank nie gewen het nie. Stel nou jou eerste vraag, sodat ek die strekking daarvan kan leer ken!'

[5] Toe dink die Fariseër na oor watter vraag hy die eerste sou stel, waarop die Romein moontlik nie te maklik sou kon antwoord nie. Dit val hom by dat die Romein nie sou kon weet hoeveel boeke Moses geskryf het nie. Want oor die algemeen was dit slegs by die volk bekend dat Moses nie meer as vyf boeke geskryf het nie. Maar omdat Moses eintlik sewe boeke en nog `n suiwer profetiese aanhangsel geskryf het - wat die Fariseër goed geweet het, maar waarvan hy tog bykans seker was dat niemand buite die mees ingewydes van die tempel dit sou weet nie, - vra hy die Romein daarom of hy dalk weet hoeveel boeke Moses geskryf het.

[6] Daarop glimlag die Romein - wat die ernstige Romeine selde doen - en hy sê vir die Fariseër: 'Helaas, jy kon my geen beter vraag gestel het nie, want uit my betroubare antwoord sal baie duidelik vasgestel kan word dat julle julleself al sedert `n lang tyd absoluut niks aan God- en Moses-geleë dinge gesteur het nie! Julle was, na my beste kennis, al sedert die tyd van Samuel meer vyande as vriende van God en die volk, en daarom het julle ook sonder enige vrees vir God en die volk, twee van die belangrikste boeke en die profetiese aanhangsel, waarin julle gewetenlose handelwyse en julle einde haarfyn beskrywe staan, vanaf Samuel se tyd tot op hierdie uur, van die volk weerhou het. Maar in die tyd toe julle deur ons Romeine verower was, moes al julle boeke, van die alfa tot omega, by ons Romeine ingelewer word om ons `n duidelik insig te gee en om oorgeskrywe te word, en so het ons Romeine ook agter al julle geheime gekom en dus weet ons baie goed dat Moses sewe boeke en nog `n profetiese aanhangsel geskryf het.

[7] In die sesde boek berig hy noukeurig oor die natuurlike ontstaan van die aarde, en beskryf hy haar toestand, van die begin tot aan sy tyd, en vanaf daar profeties verder tot by haar volledige uiteenval. Juis in die sesde boek beskryf die groot man ook die sterrehemel, hierdie son, die maan van hierdie aarde en haar bewegings, asook die bewegings van alle planete, wat hulle is, hoe hulle daar uitsien, en hoe hulle as wêrelde funksioneer. Hy beskryf ook die komete, die sons- en maansverduisteringe en laat sien, hoe goeie rekenkundiges dit voorheen presies kon bereken. En uiteindelik laat hy ook nog sien wat die vaste sterre is, wys op hulle grootte en die reusagtige afstande waarop hulle van hier af staan, en sê aan die einde van die belangrike boek, dat dit alles goed aan die volk oorgebring moes word, sodat die volk van God in alle waarheid op aarde en onder die sterre sou wandel en nie in allerlei verkeerde, heidense dwalinge sou verval nie.

[8] Maar julle priesters het toe vinnig anders daaroor gedink. Julle het geweet dat die blinde volk altyd `n groot vrees gehad het vir die buitengewone verskynsels aan die hemel. Toe dink julle: 'Waarvoor het die volk die kennis nodig? Dit sal volstaan as net ons dit sal besit! Ons sal self die verduisteringe bereken, en die volk, wat niks daarvan weet nie, dreig en hulle tot groot offers dwing, en hulle sal offer en glo dat ons die verduistering van die maan of van die son verdryf het!' Met nog meer van die beperkinge van julle het julle die volk baie gewetenloos van die sesde boek van Moses ontneem en vir julle aardse voordeel gebruik.

[9] Die sewende boek bevat die ware skepping van die mens, sy geestelike ontwikkeling deur die voortdurende invloed van die Gees van God. Dit lê die eerste boek van Moses vir elke mens begryplik uit en berig oor die boeke van die aartsvaders Kenan, Henog en Lameg en lê hulle uit. Aan die einde beskryf hy die oorloë van JaHWeH, of die getroue geskiedenis van die volke van die laagtes van die aarde, en heeltemal aan die einde staan weer `n dringende en baie dreigende vermaning aan die leraars van die volk, om dit alles goed vir die volk te leer, en niemand te laat trou of `n amp te laat beklee voordat hy nie die hele inhoud van die boek volkome sy eie gemaak het nie.

[10] Maar die vermaning het julle ook in die wind geslaan en julle sê: 'Dit is beter vir die volk om onwetend oor dit alles te bly; want as mens die volk te ver sou inwy, sou hulle baie gou heeltemal geen priesters meer nodig hê nie, en dit sou hulle dan noodsaak om te sien dat hulle ook met hulle hande hulle daagliks brood moet verdien.' Hierdie veronderstelling was egter beslis baie dom, omdat Moses tog self gebied het dat die stam van Levi van die tiendes moes lewe.

[11] Dan volg daar nog, byna as `n afsonderlike boek, `n aanhangsel by die sewende boek. Die is heeltemal profeties, maar gee tog baie duidelik aan dat die priesters en die regters en die konings in alles teen God se wil sal handel, en hoe Hy hulle steeds daarvoor sal straf.

[12] Daarin word die groot Messias ook beskrywe, hoe Hy in hierdie wêreld sal kom, hoe Hy sal lewe, wat Hy sal doen, watter leer Hy sal verkondig en hoe Hy deur die priesters gehaat en vervolg sal word. Dan kom die ondergang van die Judeërs, dan die gemeente van die Messias, haar langdurige vervolging deur die anti-Messias(Antichris), dan kom die einde daarvan en vervolgens die groot heerlikheid van die suiwer gemeente van God op aarde. Heeltemal aan die einde van die aanhangsel staan weer `n dringende en kragtige waarskuwing dat die aanhangsel ook altyd deur die volk ter insae moet wees. - Het julle dit ooit gedoen?

[13] Ja, reeds ten tye van die profete, het julle nooit iets daarvan vir die volk gesê nie, en daarom het ook die profeet JeshaJaH, deur die profesie van Moses op te neem, dit opnuut in die tiende hoofstuk vermeld waaroor ek julle in my eerste vraag `n uitleg gevra het. En so het alle profete - veral die vier groot profete, dit aan die volk teruggegee, wat Moses in sy aanhangsel geskryf het, wat julle egter altyd van die volk weerhou het, om julle redes wat maar al te bekend is, en julle was in die laaste tyd te lui om daarin te studeer en moet julle nou laat welgeval dat die Essene julle selfs die aardse voordeel wat julle daarvan gehad het, afgeneem het; want hulle is ten minste op hoogte van wat aan die hemelruim te sien is, hulle bereken die verskynsels en gebruik dit vir hulle aardse voordeel. Kyk, ook dit is `n regverdige straf van bo! En ek is nou heeltemal daarvan oortuig dat ek jou eerste vraag geheel volgens waarheid en streng wetenskaplik beantwoord het.'

[14] Die Skrifgeleerde sê baie verleë: 'Ja, jammer genoeg maar al te presies en waar! Ek glo dat ek jou nou maar heeltemal geen tweede vraag meer moet stel nie. Want vir `n man met so `n uitgebreide kennis is dit moeilik om te vra. Ons kan jou maar liefs dadelik die honderd pond goud betaal as om jou nog meer vrae te stel! Met elke vraag verraai ons onsself immers opnuut en raak ons vir die volk, wat verseker nie hulle mond daaroor sal hou nie, steeds in `n groter verleentheid.'

[15] Die Romein sê: 'Dit skeel my weinig! Die weddenskap moet deurgaan, ook al sou die aarde tesame met ons daarna `n puinhoop word, en jy moet my dus die volgende vraag stel! Vra, en ek sal jou antwoord; want nou is ek eers trots daarop dat ek `n Romein is!'

[16] Toe sit die sewe tempeldienaars hulle koppe bymekaar en beraadslaag oor wat hulle die Romein verder sou vra.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205