Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 57

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die springvloed

57 Op die oggend van die dag na die Sabbat, het ons vroeg opgestaan, en Ek het met sommige studente na buite gegaan, soos wat Ek gewoonlik byna orals gedoen het. Dit was `n helder, mooi lentemôre, en dit was vreemd dat die see, terwyl daar byna wel `n volkome windstilte geheers het, sulke hoë golwe gevorm het.

[2] Die herbergier, wat ook baie gou na ons toe gekom het, het My heel verbaas na die rede van die magtige beweging van die water gevra, terwyl daar tog nêrens iets van `n wind te merk was nie.

[3] Maar EK sê aan hom: “Glo dit, aan My is alle mag in die hemel en op die aarde gegee, en die water word hier dan ook so sterk beweeg omdat Ek dit wil! Ek het egter `n rede daarvoor, waarvan jy jou later self sal kan oortuig.”

[4] Toe sê die herbergier, nou nog meer verbaas: “Heer, dat alle kragte en magte van die natuur U moet gehoorsaam, is vir my baie duidelik, maar dat U die see ook vanweë `n geheime rede onstuimig laat word, is nuut vir my, veral in hierdie pragtige helder oggenduur. Die golwe word steeds kragtiger en hoër! Dit word byna nodig dat ek die skepe en die vishouers na `n nog veiliger plek bring, andersins kan daar werklik skade kom!”

[5] EK sê: “Wees nie daaroor bekommerd nie, want nòg jou skepe, nòg jou visse sal enige skade opdoen. Maar hulle, wat met `n baie bose bedoeling nou per skip op die water is, sal dit nie so baie behaaglik te moede word nie. Hulle sal weliswaar nie deur die golwe oorweldig word nie, maar hul boosaardige gemoed sal na die baie moeisame bereiking van die oewer baie afgekoel wees!”

[6] Daarop vra die herbergier: “Wie mag dan die slegte mense wel wees, en wat is hulle van plan om te doen?” 

[7] EK sê: “Jy weet dat Ek die vorige jaar tydens die Loofhuttefees in Jerusalem was en die volk daar in die tempel geleer het oor My sending, nadat Ek vroeër die man wat agt-en-dertig jaar siek was, by die Bad van Betésda genees het, en later nog `n aantal in die omgewing van Jerusalem en Bethlehem. Baie mense van die volk het daardeur gelowig geword, wat die tempeldienaars goed gemerk het, soos ook dat baie My gevolg het. Daarom het hulle in hul woede nou weer besluit om My te agtervolg, te gryp en ook dadelik te dood. Hulle wil My dus om die lewe bring. Maar My tyd het nog nie gekom nie, en daarom werp Ek nou `n hindernis vir hulle op wat hulle sal verhinder om My te agtervolg, te gryp en te dood. En dit is die rede waarom die see nou so sulke groot en hoë golwe vorm. - Is dit nou vir jou duidelik?”

[8] Toe sê die herbergier: “O ja, in hierdie geval moet die see net nog baie erger begin woed! Laat daar dan ook maar `n baie kragtige stormwind bykom, dan sal die verdorwe mense eers werklik begin te merk hoe God weet om hul bose moeite te beloon!”

[9] EK sê: “O, `n stormwind sou hulle juis goed te pas kom, want hulle het `n skip wat bestand is teen die storm en wat hulle baie spoedig na `n veilige oewer sou bring. Maar hierdie windstille springvloed bring hulle heeltemal tot vertwyfeling; want hulle kom daarin, selfs as hulle so hard as moontlik roei, nie verder nie, omdat elke golf die skip weer na sy aanvanklike plek terugwerp en dit by hulle net so gaan soos met `n wandelaar wat oor los klippe `n berg wil klim. Met elke tree gly die klippe weg en die wandelaar gly weer terug na die plek waar hy eers was. Daarom is hierdie soort golfbeweging vir My agtervolgers alreeds in elk geval die beste en mees bruikbaarste. - Maar ons laat dit nou daar en gaan sien hoe dit met ons oggendete gesteld is!”

[10] Die herbergier sê: “Heer, dit sal wel klaar voorberei wees, want ek het aan die dienspersoneel opgedra om ons te roep wanneer alles klaar is en sien, daar kom alreeds een uit die huis om ons te roep, laat ons dus maar gaan!”

[11] EK sê: “Jy vergis jou, - hy bring ons maar net die berig dat die studente na My gevra het en wou weet waarheen Ek gegaan het. Want hulle het `n klein meningsverskil waarby Ek dadelik as skeidsregter moet optree. Maar ons laat hulle nou dit nog maar ietwat bespreek; hierna is daar nog tyd genoeg om hulle almal op die regte weg te lei.”

[12] Die herbergier sê: “Waaroor kon hulle nou tog `n meningsverskil gekry het?”

[13] EK sê: “O, oor `n kleinigheid! Die twintig nuwe studente het aan sommige van My ou studente, wat tuis gebly het, na die rede van hierdie hoë seebeweging gevra, en die ou studente sê dat hierdie windstille hoë seebeweging net deur My vanweë `n geheime rede, op wonderbaarlike wyse veroorsaak moes gewees het. Die nuwe studente wou dit egter nie heeltemal aanvaar nie en sê: “Ons weet wel dat alles wat daar gebeur en ontstaan, net van God, die Heer afhang; maar desondanks het Hy in die natuur deur Sy orde, geregtigheid en wysheid vir geheime kragte gesorg wat volgens Sy wil werk. Weliswaar bring Hy deur Sy wil die kragte weer in werking; maar daarna werk die kragte direk en God deur hulle net indirek. Dat alles wat gewig het, na benede val, het God oorspronklik so ingestel; maar nou dryf die krag wat op hierdie wyse ingestel is, die eie liggaamsgewig vanself na benede. So het God oorspronklik die water swaar en vloeibaar gemaak. En juis hierdie eienskap, wat deur Hom gegee is, is nou ook die geheime krag van die water wat dit van die hoogte onweerstaanbaar en aanhoudend na die diepte laat stroom, sonder dat God daarby steeds hoef in te gryp om die water verder in die spruite, riviere en strome te laat vloei. En so sal dit nou ook by hierdie windstille seebeweging wees; hierdie is juis net deur die algehele windstilte opvallender as wanneer dit deur `n sterk, magtige orkaan opgewek sou wees.” Daarom het hulle juis die reeds baie meer ervare studente gevra deur watter geheime krag God nou hierdie seebeweging sou kon opgeroep het.

[14] Die ou studente het egter standvastig volgehou met die bewering dat hierdie beweging nie indirek nie, maar baie direk deur die mag van My wil opgeroep is. Nou het die nuwe studente egter op hul manier gelyk en die ou studente ook, en daarom het hulle My beslissing as skeidsregter nodig. En daarom gaan ons dan ook na hulle toe om hulle in reg en waarheid te verenig!”

[15] Daarop het ons dadelik na die huis gegaan, vanwaar ons in elk geval maar hoogstens duisend treë was.

[16] Toe ons binnekom, het alle studente My gegroet en dadelik hul meningsverskil aan My voorgelê. 

[17] En EK het hulle almal vriendelik aangekyk en gesê: “Julle stry oor die waarde van `n plukseltjie skaapwol! Die nuwe studente het gelyk, - maar die ou studente ook; want in algemene sin het die nuwe studente gelyk, en nou in hierdie spesiale geval die ou studente. Want hierdie beweging van die see wat vir julle nou so heel merkwaardig voorkom, ontstaan nie deur `n indirekte krag nie, maar direk deur My wil.

[18] Maar sodat julle dit egter nog meer tasbaar kan waarneem, moet julle na buite kyk na die see, wat nou orals ewe hoog gaan! Ek sal `n klein gedeelte hier by die oewer beveel om volkome tot rus te kom, en dan sal julle tog wel insien dat God se wil ook iets direk kan bewerkstellig.” 

[19] Net deur My wil het Ek oor `n oppervlak van tweehonderd akkers die see sodanig tot rus gebring, dat dit spieëlglad was, terwyl die see buite hierdie spieël nog erger gewoed het as voorheen. Toe die nuwe studente dit gesien het, het hulle voor My neergeval en wou My aanbid.

[20] Maar EK sê aan hulle: “Hou dadelik op daarmee! Want Ek het nie in hierdie wêreld gekom om My deur die mense te laat eer en aanbid nie, maar net om die weë van die waarheid en die lewe aan hulle te toon en almal te help wat nood ly, wat vermoeid is en met allerlei bose laste belaai is.

[21] As julle egter God, wat in Homself die reinste Gees is, waarlik wil aanbid, dan moet julle Hom deur die liefde in julle hart ook in gees en in waarheid aanbid, en wel deur die daad, deur allerlei goeie werke. Want waarlik, wat julle vir die armes uit liefde vir God doen, dit doen julle vir God! En dat julle aan My glo, dat Ek deur God na julle gestuur is, dit is die enigste ware aanbidding van God. Elke leë lippegebed is egter `n gruwel voor God en volkome waardeloos. Wie God met sy lippe eer, terwyl sy hart daarby koud en passief bly, maak van God `n afgod en bedryf daardeur egte geestelike hoerery. Soos dit staan in een van die profete, wat sê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af!” (Matthéüs 15:8; Jesaja 29:13)

[22] Waarlik, Ek sê vir julle: Waar die hart God nie deur dade van ware en suiwere, onselfsugtige liefde aanbid nie, daar is elke gebed `n leë en waardelose klank, wat in die lug weerklink en volledig wegsterf. Ek is nou julle Heer, en julle is My studente. Glo wat Ek aan julle sê en doen wat Ek aan julle opdra, en volg My na! Meer is onder ons nie nodig nie.”

[23] Daarop het die nuwe studente van hul aanbidding afgesien en ons het na die goed voorbereide ontbyt gegaan, wat vir almal baie goed gesmaak het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205