Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 59

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die wese van die wêreldse mens

59 Toe hy by My kom, sê hy (Petrus): “Heer, ek het U stem binne-in my hoor roep! Wat is U wil wat vir my altyd bo alles gewyd is?”

[2] EK sê: “Niks anders nie as dat jy aan die bejaarde, ryk sonderlinge mens genoeg gesê het! As dit hom nie tot `n beter insig bring nie, sal iets anders hom nog minder daartoe bring. Maar nou is daar wel genoeg gepraat. Dit is in jou eie vaderland baie moeilik om die mense tot die suiwer waarheid te lei! Want dan hoor mens dadelik die ou vraag: “Waar het hy dit vandaan gekry? Ons ken hom alreeds van sy kinderdae af!” En dan het verdere onderrig alreeds geen sin meer nie. Want wie twyfel aan die persoon van die leraar, twyfel ook min of meer aan wat hy leer. En as mens sulke mense, wat in werklikheid tog nie sleg is nie, met wonderwerke en buitengewone tekens tot `n bepaalde geloof dwing, sou dit beteken dat hul siele en hul wil skielik van alle vryheid beroof word; daarom is dit beter om hulle solank te laat gaan, totdat hulle uiteindelik self om meer uitleg kom vra. 

[3] As daar egter tydens die paar dae wat ons hier sal wees, sommige nogtans nog meer inligting oor My sou kom vra, vertel dan nie te veel aan hulle oor My tekens en veral nie oor dit wat geheim moet bly nie, maar gee net aanduidings; vertel aan hulle egter veral wat hulle moet doen om die ewige lewe te verkry. As hulle nie daarmee tevrede is nie, laat hulle dan gaan; want dit is nie goed om edel pêrels as voer vir die varke te gooi nie. Wie die kleinste nie eer nie, is waarlik die grootste nie werd nie!

[4] Daar is mense hier wat van tyd tot tyd graag ure lank oor geestelike dinge en verhoudinge wil praat, wat daardeur soms ook werklik gestig word en vol goeie wil en planne is; sodra hulle egter weer tuis in hul ou, vertroude, wêreldse dinge kom, dan is dit asof dit afgesny word! Kom daar ook maar weer iets wat hulle dwarsboom, dan word hulle weer vol van die drukkendste wêreldse sorge en wil glad nie meer alle vroeëre suiwer geestelike vertroostinge hê wat hulle ontvang het nie. Waarvoor was dit dan goed?!

[5] En sien jy, My Simon Juda, so gaan dit ook met jou goeie gesprekke met jou ou vriend! Sien, hy dink nou alreeds nie meer daaraan nie, omdat daar `n handelaar uit Kana na hom gekom het en hulle onderhandel nou met mekaar oor `n baie voordelige aankoop van verskeie handelsartikels! Hy weet baie goed dat Ek Self hier is, en hy sou ook na My toe kon gekom het om self met My te praat oor My bekwaamhede wat hy so buitengewoon vind. Ek sou hom waarlik nie die deur gewys het nie! Maar nee, die koopman uit Kana is baie belangriker, en jy hoef nie bang te wees dat hy nog ietwat meer oor My met jou sal bespreek nie!

[6] Daarom is sulke mense nog lank nie geskik vir die Ryk van God nie. Hulle lyk soos daardie landbouers wat tydens die ploeg nie vorentoe nie, maar agtertoe kyk en daarom nie kan sien hoe die os die ploeg trek nie, en of hy die vore wel reg trek en opwerp nie. Sulke mense is daarom nog lank nie geskik vir die Ryk van God nie. (Lukas 9:62) Dit is beter om die mense te laat staan, waar hulle wil staan, omdat hulle ondanks alle tekens en die mees begryplike woorde, wat vol lig is, nie los te maak is van hul wêreldse sorge nie.

[7] Ek sê ook dit aan julle: As julle eendag as volleerde studente in My Naam aan die mense My leer sal gaan verkondig, let dan op die volgende: As mense julle êrens in `n plek of in `n huis goed sal ontvang, bly dan daar en onderrig die mense korrek en goed, en doop hulle vervolgens in My Naam met water soos wat Johannes dit gedoen het, en Ek sal hulle dan doop met My Gees van bo!

[8] As mense julle egter nie sal opneem nie, of maar net op die wyse waarop jou ou vriend nou jou woorde opgeneem het, skud dan selfs die stof af van jou voete wat op so `n plek of in so `n huis daaraan bly kleef, sodat niks wêrelds van hierdie mense aan julle bly kleef nie! (Matthéüs 10:13-14; Lukas 10:120-11) Want julle weet dat My Ryk nie van hierdie wêreld is nie, maar dat dit geskape moet word deur die kennis en nakoming van My woord in die innerlike van die mens. Maar die skepping van hierdie innerlike geestelike lewens- en hemelwêreld bly altyd `n moeilike saak solank daar nog aan die mens enige wêreldse sin kleef.

[9] Ek bedoel met die genoemde stof aan julle voete egter geen natuurlike huisstof of die stof op die strate nie, maar die stof wat Ek bedoel, bestaan uit daardie wêreldwyse woorde van mense wat presies soos dié van jou ou vriend klink. Hulle klink baie beleefd, vriendelik en passend vir die wêreldse verstand, maar hulle is nogtans niks anders as waardelose stof nie, omdat hulle net die wêreldse voorstaan en selfs daarin is geen spoor van die erns van die waarheid te vinde nie. Soos wat die waardelose, nietige stof van die straat egter vir geen enkele wandelaar iets nuttig kan oplewer nie, so is dit ook met sulke stowwerige wêreldse praatjies van sulke wêreldwyse ryk burgers gesteld.

[10] Maar hoewel sulke stof niemand enigsins van nut kan word nie, kan dit nogtans `n wandelaar min of meer skaad. As daar wind kom en die stof in die lug opwaai, moet mens jou oë sluit en jou mond dighou, andersins kan mens blind word en stik. Ook moet mens solank bly staan, of selfs met jou gesig na benede op die grond gaan lê, totdat die wind die hinderlike stof ver weg gedra het. En dit het die wandelaar beslis ook tyd gekos, waardeur hy noodsaaklikerwys later op sy plek van bestemming aankom as wat hy sonder die stofoorlas sou kon gedoen het.

[11] Wat egter die stof van strate en stegies vir die aardse wandelaar is, is die ydele woordestof van die wêreldse verstand vir die lewenspelgrim op die lewensweë wat Ek aan julle gewys het. Dit vertroebel maklik die innerlike blik en kan selfs baie verstikkend inwerk op die ware, innerlike, geestelike sielelewe. Op die minste vertraag dit, ondanks alle versigtigheid wat aangewend word, tog die geestelike vooruitgang! Daarom het Ek gesê dat julle ook selfs die stof, wat aan julle voete bly kleef het, moet afskud, sodat daar glad niks wêrelds aan julle bly kleef nie; want waarlik, Ek sê vir julle: Solank as wat daar nog `n wêreldse atoom aan `n siel kleef, kan hy My Ryk nie volkome binnegaan nie; want al die wêreldse is vir die siel, soos wat gif vir die liggaam is. Die kleinste, nouliks sigbare druppel swaar gif kan die liggaam dood, en ewe-so kan ook `n atoom wêreldsheid die siel van `n mens heeltemal bederf of minstens so beskadig dat sy daarna lank nodig sal hê om volledig genees op te staan tot die ewige lewe. Die ervaring sal dit ten volle aan julle bevestig.”

[12] Petrus sê: “Heer, dan sal dit vir ons tog wel nie so maklik wees om U woord aan die ander mense te verkondig nie! Want hoe sal ons gewaarword of iemand geskik is om U Evangelie aan te neem? Die bejaarde man buite sou, wat my betref, `n baie geskikte mens gewees het, omdat hy verder `n heel goeie geaardheid het en in sy vrye tyd graag spreek oor hoëre en geestelike dinge en vir sover dit aan my bekend is, ook graag aan arm mense goed doen. Wel, as sulke mense ook nog by die twyfelagtiges hoort waarmee mens jou nie so baie moet bemoei nie, dan sou ek waarlik nie wou weet wie geskik geag sou kon word vir die mededeling van U Evangelie nie.”   

[13] EK sê: “Is julle dan ook nog blind, en onthou julle niks van wat Ek aan julle gesê het nie? Het jy nie die ryk jongman die vorige jaar gesien nie? Hy het My gevra wat hy moes doen om die ewige lewe te bereik. En Ek het aan hom gesê dat hy die gebooie moes hou en God bo alles en die naaste soos homself moes liefhê. Toe het die jongman plegtig verklaar dat hy dit alreeds vanaf sy kinderjare gedoen het. Maar Ek het daarop gesê: “Goed dan, - as jy meer wil hê, verkoop dan al jou besittings, verdeel die opbrengs onder die armes, en kom dan en volg My, dan sal jy daardeur vir jou `n groot skat in die hemelryk verwerf!” Dadelik het die jongman treurig geword, ons die rug toegekeer en weer verder gegaan. Maar Ek het toe aan julle die opmerking gemaak dat `n kameel makliker deur die oog van `n naald* sal gaan, as wat `n ryke in die hemel sal kom. (Matthéüs 19:16-24) Toe was julle verbaas daaroor en het toe gedink dat daar dan maar baie weinig in die hemelryk sou kom. En Ek het aan julle gesê dat vir die mense baie onmoontlik lyk, maar wat egter by God nog altyd baie goed moontlik is. (Matthéüs 19:19-26) *(`n Smal syingang by die hoofpoort van Jerusalem ten tye van Jesus.) 

[14] Toe het julle dit nie heeltemal ingesien nie; maar nou sal dit wel vir julle baie duideliker wees. Wat sou ons byvoorbeeld daarby gewen het as ons destyds werklik probeer het om die jongman te oorreed om nogtans maar te doen wat Ek hom aangeraai het? Heeltemal niks nie! Hy sou ons dae lank die wêreldwyse argumente voorgehou het wat gemaak het dat hy selfs met die beste wil My raad voorlopig nie kon nakom nie, en ons sou na `n paar dae nog net so ver gewees het as op die eerste oomblik van ons ontmoeting. Maar ons het liewer vinnig verder gegaan en het alreeds gou `n geleentheid gevind waarby ons baie goeie dinge kon bewerkstellig. Sien, toe het ons ook die stof, wat duidelik van die jongman afgekom het, vinnig afgeskud en ongehinderd verder op ons weg gegaan!

[15] Daar in die voorvertrek is almal sulke mense, wat in hulleself baie opreg en wêreldwys is, en hierdie eienskappe het hulle in die wêreld ook baie rykdom besorg; maar vir My Evangelie is hulle nog lank nie ryp nie en hulle sal in hierdie wêreld ook moeilik so word. Daarom moet julle ook in die vervolg My woord nie aan sulke mense verkondig nie; want dit sal by hulle geen wortel skiet nie, en dit sal nog minder ooit `n goeie ryp vrug voortbring. 

[16] Jy, Petrus, het aan die ryk burger werklik baie behoorlike waarhede gespreek, asof jy die woorde uit My mond geneem het! Maar watter uitwerking het dit by hom gehad? Sien, heeltemal niks nie! Hy praat nou net so ongedwonge en onverstoorbaar met sy sakevriend asof jy nooit `n woord van My met hom gespreek het nie! Hy weet dat Ek hier is; sy nuuskierigheid sou hom minstens na My toe moes gelei het om met My Self oor dit te mag spreek wat jy aan hom oor My gesê het! Maar nee, dit alles laat die ryk man net so onverskillig soos `n muggie wat hy onderweg met sy voet vertrap het. Hy is heeltemal nie aangewese op ons nie en ons hulp is vir hom te onbeduidend, omdat hy immers `n ryk en wêreldwyse man is, - en daar is nog baie soos wat hy is.

[17] Sien, dit is nou die egte wêreldse vroetelende varke, voor wie julle nie My pêrels moet werp nie; want hulle bekommer hulle oor niks anders as om te vra of en hoeveel materiële gewin daar in `n saak is nie. Daarom het die ryk man jou dan ook voorgehou dat jy jou winsgewende werk verlaat het en My verniet gevolg het.

[18] Verder is hierdie mense baie beleefd en hulle gedra hulle teenoor almal as goedgemanierd; maar dit alles is te vergelyk met die mooi sierlike buitekant van `n graf, wat daardeur baie stigtelik is om uiterlik te sien, - maar wat van binne nogtans vol dooie verrotting en die reuk van verpestende walglike lug is. Solank so iemand baie rustig sy wins kan maak en sy sake goed sonder probleme verloop, sal hy steeds in die beste en so nou en dan selfs vrygewige bui wees; maar as ons hom by die een of ander spekulasie eers behoorlik daarby laat verloor, kyk dan maar eers na jou vriendelike man, en begin dan om met hom oor innerlike, geestelike waarhede te spreek, dan waarborg Ek aan jou dat jy nog wel, omdat jy jou mond oopgemaak het, uit sy huis gesit sal word! En sien, dit is ook vernaamlik die rede waarom Ek jou weggeroep het van jou andersins baie lofwaardige geesdrif; want by sulke mense is elke innerlike, geestelike woord byna volkome tevergeefs!

[19] Jy het tog aan hom onthul dat hierdie hoë golwe van die seebeweging maar net deur My almagtige wil bewerkstellig word en dat Ek net hoef te wil en alle elemente gehoorsaam My. Dit is tog egter geen kleinigheid nie! Maar kyk net na buite, dan sal jy jou dadelik self daarvan kan oortuig hoe weinig indruk jou mededeling op hom gemaak het! Hy het nie eers gaan kyk of die see nog steeds sulke groot bewegings maak nie, en of `n bepaalde deel daarvan heel rustig is nie!

[20] Jy het ook aan hom te kenne gegee dat die ongelowiges getref sal word deur My oordeel. Dit het hom hoogstens `n glimlag gegee en hy het by homself gedink: “O arme hongerlyer, sorg jy maar net dat jy nie binnekort skielik deur die oordeel van jou leë maag en jou naakte huid getref gaan word nie!”- Sê My nou eers of My woord aan sulke mense verkondig moet word!” 

[21] Toe sê Petrus baie vererg: “Ag, in hierdie geval sou ek baie liewer `n varkoppasser van `n Griek wou wees as prediker vir sulke mense! Nou begryp ek eers goed U toorn die vorige jaar in die tempel! Sulke mense moet mens op `n ander wyse toespreek, met toue en knuppels, soos wat U dit in die tempel gedoen het! Hierdie gebroedsel is uiteindelik nog slegter as die meeste jaloerse Fariseërs in die tempel; want hulle besit in elke geval nog `n geestelik skynsel - wat weliswaar ook vir niks goed is nie, maar hierdie gebroedsel besit alleenlik net die suiwerste en mees materiële wêreld! O, dit is goed dat U, o Heer, ons almal so daarop gewys het! Waarlik, met hierdie stof op die stegies moet ons voete nooit meer bestuiwe word nie! Maar wat doen ons nou?”

[22] EK sê: “Ons gaan nou na buite sodat julle julle almal van die onverskilligheid van hierdie mense kan oortuig; daarna kom ons weer terug hierheen. Ek sal dan egter `n baie deeglike reënbui laat kom, en dan sal ons hierdie lastige gaste gou kwyt wees. Laat ons dus, soos wat Ek alreeds gesê het, na buite gaan! Maar let veral goed op alle mense wat na ons toe sal aankom! Hier sal ons dan nog verder daaroor praat en dan ons maatreëls neem.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205