Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 6
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 94

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230, 231, 232, 233, 234, 235, 236, 237, 238, 239, 240, 241, 242, 243, 244, 245, 246, 247, 248, 249.

Die vraag van die priester om herstel van die afgodsbeelde. Die heilige meer

94 En die Minervapriester, wat die moedigste en ook wetenskaplik die beste opgelei was, het na My toe gekom en gesê: “Heer en Elohimmens, of wie U ook mag wees. ek het uit die paar woorde wat U aan ons onbeheerste vroue gespreek het, begryp dat U `n goeie, wyse en baie redelik denkende man is, met wie mens waarskynlik ook baie redelik kan praat! En omdat ek dit as vasstaande aanneem, versoek ek U om my vriendelik en met ietwat geduld aan te hoor. Sien, ek weet dat wat U in die plek van die ou heidense gode aan ons sal gee, sekerlik onvoorstelbaar baie beter sal wees as die allerbeste wat ons met ons kennis kan wys; maar hier gaan dit nie daaroor nie, dit gaan hier om iets baie anders, en dit is ook eintlik die rede waarom ek om U welwillende aandag gevra het!

[2] Sien, dit gaan hier ten eerste om die moontlike instandhouding van die staatswette met behulp van allerlei goeie lesse oor die bestaan van bosinlike kragte en magte in die natuur, wat ons in die algemeen gode noem! Om dit vir die volk aanskoulik te maak, het ons hulle deur gepaste beelde in suiwere vorme volgens die reëls van die kuns sigbaar gemaak. Die volk is alreeds vanaf die wieg daaraan gewoond en word deur die sien daarvan steeds gestig en het daarby sekerlik menige goeie en vrome bekragtiging gehad. Ons priesters het aan die volk egter ook deur op die verhewe beelde te wys, op maklike wyse menige goeie en nuttige les kon gee, wat sonder hierdie beelde beslis `n baie moeiliker taak sou gewees het.

[3] Indien die volk dus hier op `n bepaalde dag sou saamkom en die drie bekende afgodsbeelde, waaraan hulle gewoond is, nie meer sal sien nie, weet ek werklik nie hoe dit sal afloop nie. Tesame met U sou ons onsself wel op oortuigende wyse en met gloedvolle woorde onsself daaruit kon red en ons plegtig verontskuldig; maar waar sal U, as onbekende reisiger, dan op daardie oomblik wees? Weliswaar het ons gelukkig baie gesiene getuies uit hierdie plek by ons; maar ook hulle sal ons uiteindelik teen `n wild geworde, gemene volksmenigte nie baie kan help nie, en daarom sou ek U dus terwille van die goeie saak dringend wou smeek om die drie beelde vir `n kort tydjie te rekonstrueer, iets wat vir U nie so moeilik sal wees nie. Ons, daarenteen, sal nogtans U leer heeltemal en met `n dankbare gemoed aanneem en ook aan die volk deurgee, en so die drie afgodeenhede hier totaal oorbodig maak, daarvan kan U volkome seker van wees; maar dit sal nou, so plotseling, moeilik of eintlik glad nie gaan nie! 

[4] Goeie Elohimsmens, willig daarom hierdie opregte wens van my in, dit sal beslis selfs maklik vir U wees, soos wat U vroeër met die drie godebeelde gedoen het! Ek weet wel dat ons U toe beledig het deur die sprekers te wil ontken wat deur U ontmasker is, - maar daarmee het ons tog niks sleg of kwaad in gedagte gehad nie; want ons het immers nie geweet wie U kon wees nie. U wonderdaad het ons toe ewenwel dadelik op ander gedagtes gebring, maar toe was dit alreeds te laat. Maar noudat U nog hier is, vra ons om vergewing vir ons vroeëre oorhaastige reaksie, en terselfdertyd vra ons of U so barmhartig wil wees om aan my versoek wat ek namens ons almal stel, in te willig!”

[5] EK sê: “Ja, wat moet Ek met julle blindes doen? As julle liewer vir die nag is as die lewensdag, neem dan maar weer julle dooie afgode! Julle sal egter ook beleef dat daar weldra `n tyd sal aanbreek waartydens die volk hierheen sal kom om self hande aan hierdie afgode te slaan, - maar ook aan julle! As julle julle daarenteen, ten eerste met die hulp van hierdie betroubare getuies en ten tweede ook met My onsigbare hulp, aan dit sou hou wat Ek julle voorlopig kortliks aangedui het, sou julle gered gewees het; maar as julle ondanks dit alles liewer julle gode wil hê, sal hulle ook oombliklik op hul ou plek staan!”

[6] Die spreker sê: “Heer en Elohimmens, laat ons nog selfs tyd om oorleg te pleeg, dan sal ons openhartig ons besluit aan U meedeel!”

[7] Toe sê die tollenaar: “Beste mense, beraadslaag met almal en kom daarna na my in my huis, dan sal ons die saak daar afspreek; want dit word hier werklik so verlate soos in `n Egiptiese katakombe!” 

[8] Daarmee het die priesters saamgestem en ons het verder in die rigting van `n klein meer gegaan, wat baie diep was, iets wat by die Asiatiese mere byna altyd die geval is.

[9] Toe ons by hierdie meer kom, het Jored gesê: “Heer, sien, dit is egter iets merkwaardig in hierdie streek van ons! Snags sien mens daar, veral in die middel van die somerdae, altyd volop liggies oor die hele wateroppervlak beweeg, sommige langsaam, ander vinniger. Nadere ondersoek is juis daar nie so eenvoudig nie, omdat mens vanweë die moerasagtige oewers nie naby die meer kan kom nie. Maar, omdat die meer nog binne hul heilige bosgebied lê, weet die priesters om hierdie verskynsel goed te benut; wanneer dit sover is, en dit duur nou nie meer so lank nie, dan hou hulle indrukwekkende toesprake oor die aankoms van die genieë uit die Elisium, wat kom om aan die mense barmhartigheid te bewys. Na bewering het hulle spesiaal hierdie meer daarvoor uitgekies omdat dit die suiwerste van die wêreld sou wees.

[10] Dat die meer baie suiwer water het, is maklik begryplik, want daar kan immers niks inkom wat dit vertroebel nie; maar of dit iets met die Elisiese genieë te make het, is `n saak op sy eie! Die verskynsel sou nie so besonders gewees het nie, en dit sal ook sekerlik van `n baie natuurlike aard wees, maar die priesters, wat baie bedrewe sprekers is, weet om so-iets daarvan te maak dat mens uiteindelik self - minstens vir die oomblik - heeltemal verbluf word, veral snags wanneer mens altyd ietwat meer vir magie oopstaan as gedurende die dag. Die sterk omheining om die meer het egter ook sy goeie kant, want dit is nie raadsaam om ook maar `n paar treë verby die aangebringde pale en die grense wat daardeur getrek is, te kom nie; wie daar sou wegsak, sou reddeloos verlore wees.

[11] Wel, Majesteit en Heer, ook daar sou `n verduideliking nodig wees, en wel ten eerste: Waarom moet so `n gevaarlike en eintlik totaal nuttelose meer op die aardbodem bestaan? Geen skepe kan daarop vaar nie en dit het nog nooit ook maar één vis opgelewer nie. Dit het geen sigbare toevoer en net so min `n afvoer nie, en is daardeur ook vir die besproeiing van die omgewing heeltemal nie te gebruik nie. Ten tweede dien dit volgens die heilige, ware leer wat U nou aan ons gegee het, deur die werklik magiese ligverskynsels maar net vir afgodery, waarteen ek as sodanig niks teen gehad het nie, maar nou vanuit `n morele gesigspunt gesien, wel heelwat. Want ook al het die drie lomp standbeelde nou deur U wonderkrag as lewensmeesters verdwyn, dan sal die afgodery sekerlik tog net so bly voortbestaan soos voorheen. Sal dit vir U nie selfs maklik moontlik wees om aan hierdie afgodemeer op dieselfde manier `n einde te maak soos aan die drie beelde nie?” 

[12] EK sê: “O, sekerlik, en Ek sal dit ook doen, omdat jy dit om `n goeie rede wens! Maar tog het dit nie meer so `n onbelangrike bestemming vir die aarde soos wat jy dink nie, want dit staan in verbinding met die inwendige organisme van hierdie aardbol, en dit is vanaf hier tot die bodem meer as driehonderd uur diep. Omdat dit as afkoelende bedekking dien bo `n baie warm slagaar van die aarde, is die water daarvan baie koud. 

[13] Die meer het `n onderaardse toevoer, maar geen afvoer nie, omdat die oorvloed aan water steeds voortdurend deur die inwendige hitte verdamp. Vir die inwendige meganiese lewe is dit net so noodsaaklik as die verdamping van die voedingsappe in die menslike maag, en sodoende het so `n meer weliswaar aan die oppervlakte van die aarde geen nut nie, maar binne in die aarde des te meer nut.

[14] Nou kan jy wel sê: “Ja, maar waarom moet dit dan juis hier in hierdie verder so vrugbare, mooi vlakte bestaan? Dit sou tog ook êrens anders in `n woestyn geleë kon wees!” Ja, daarmee het jy ook weer heeltemal nie ongelyk nie; maar hierdie streek was nouliks tweeduisend jaar gelede ook `n woestyn, en is eers later deur die groot vlytigheid van die hande van mense wat na hierdie wye vlaktes verban was, bewerk en vrugbaar gemaak.

[l5] Wel, dit kan ook met baie woestyne op hierdie aarde gebeur, waarin soms wel twintig tot dertig van sulke mere voorkom! As daardie woestyne bewerk sal word, sal die mense daar beslis ook vra: “Ja, waarom moet so `n gevaarlik meer nou juis hier wees?” Ek kan aan jou niks anders daaroor sê nie as: Omdat so-iets uiters noodsaaklik is ter ondersteuning van die meganiese aardlewe, daarom moet dit êrens op aarde wees, en daarom lê dit nou eenmaal toevalligergewys volgens God se wyse orde hier en enkele duisende lê daar op dieselfde wyse êrens anders, en die meeste lê onder die see en onder die hoogste gebergtes.  

[16] Wel, wat die ligverskynsels betref, wat meestal in die Julius Caesar-maand voorkom, dit is niks anders as liggewende insekte wat snags die dampe wat van die water opstyg, opsuig en hulle daarmee voed nie. Gaan na Indië, daar sal jy nog baie ander nagtelike ligverskynsels ontdek!

[17] Maar dit maak alles saam nie saak nie, want die meer kan stewig omhein word, wat dan die gevare wegneem, en die bepaalde ligverskynsel sou selfs goed begryplik aan die mense verduidelik kon word. Omdat ons egter terwille van hierdie priesters hier alles uit die weg wil ruim waarmee hulle die mense sonder baie moeite maklik sou kon bedrieg en nog verder op allerlei dwaalweë sou kon verlei, sal ons hierdie meer tot duisend manshoogtes diep met vaste grond opvul en sy noodsaaklike opening êrens met `n ander groot meer in verbinding bring, en dan het julle gebaat en die meganiese lewe van die aarde nie geskaad nie. En laat dit so gebeur!”

[18] Oombliklik was daar niks meer van die meer te sien nie, alles was vaste grond. Mens kon die omtrek van die meer nog net sien aan die grense wat nog vas bly staan het.

[19] Dat dit by almal wat daarby was, `n ontsettende groot sensasie teweeggebring het, kan mens maklik dink. Toe ons daarna na die huis teruggegaan het, en ons onsself nog in die omgewing van die meer bevind het, omdat sommiges die stewigheid van die nuwe grond met hul voete wou uitprobeer, het die vyf priesters ons ook agternagekom, omdat hulle reeds vroeër by die tempel gemerk het dat ons waarskynlik ook `n besoek aan die heilige meer sou bring.  

[20] Terwyl hulle met haastige treë op die plek aangekom het, het hulle hul hande bo hul hoofde gehef en geroep: “Maar in die naam van alle gode! Wat het daar nou gebeur? Eers drie hoofgode weg - en nou ook hul suiwer, heilige meer! Wee ons; want nou is ons verlore! Die hoë gode moet hier op een of ander wyse baie sterk beledig geword het, en daarom laat hulle nou toe dat `n meestermagiër ons dit aandoen deur middel van die krag wat hulle daarvoor aan Hom moes gegee het. O, as ons die meer tog maar net mag behou het! O, wie sal ons nou help en onderhou?”

[21] EK sê: “Gaan nou saam na Jored; daar sal ons bespreek hoe dit verder moet wees, - hier is nie die plek en die tyd daarvoor nie!”

[22] Daarmee was die vyf priesters heeltemal tevrede en hulle het met ons saamgegaan na Jored, waar `n ryklike middagete alreeds op ons gewag het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205