Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 112

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die verskillende vorms van al die geskapene

112 RafaEl sê: “Weet jy, my vriend, oor daardie punt kan ons nie so maklik met mekaar praat nie; want wat dit betref is jy nog lank nie ver genoeg nie en nog te veel vervul van jou oud-Indiese wêreldse wysheid. Ek sou jou dan eers die hele innerlike organiese lewensinrigting moet laat sien en die hele organisme van die wêreld en die doel daarvan heeltemal moet onthul, en dit sal tog nie so vinnig gaan as wat jy dit jou met jou Indiese fantasie voorstel nie; want daar is egter meer daarvoor nodig as die kennis wat julle in Indië opgedoen het. Maar ek sal jou tog `n paar aanwysings gee, waardeur jy jou al `n bepaalde voorstelling kan maak; neem die volgende aandagtig ter harte!

[2] Luister! Jy is `n mens. Jou liggaam bestaan uit byna ontelbaar baie organe, waarvan jy heeltemal niks weet nie. Sonder die organiese inrigting van jou liggaam sou die lewe van jou siel daarin absoluut nie denkbaar gewees het nie. En tog lê die vernaamste organe van jou liggaam bepaald nie baie ordelik in jou liggaam nie! Kyk maar net na jou are! Hoe onreëlmatig lyk dit deur jou arms te loop! En tog heers die hoogste doelmatige orde daarin. Kyk net na die plasing van jou hare! Sowel op jou hoof as op jou hele liggaam staan hulle ordeloos deurmekaar en tog is elke haar deur God getel en op die regte plek geplaas! En by ander mense staan hulle weer anders as by jou en staan tog ook op die regte plek, omdat dit die Heer in Sy wysheid behaag het om bykans elke mens `n ander gedaante en ook `n ander gemoedsgesteldheid te gee, sodat hulle hulleself makliker onder mekaar kan herken en mekaar dan as mense kan liefhê.

[3] So het die Heer selfs die huisdiere `n enigsins verskillende voorkoms gegee, sodat die mense hulle huisdiere makliker kan herken, terwyl die wilde diere uit die bos almal so veel moontlik na mekaar lyk, omdat dit vir geen enkele mens noodsaaklik is om hulle te herken nie. Kyk ook net na die huisvoëls en die wilde voëls in die lug, ook by hulle sal jy dieselfde omstandigheid teenkom!

[4] Laat ons eers aanneem dat alle landstreke op aarde soos twee druppels water op mekaar sou lyk en elke huis ook presies so daaruit sou sien as elke ander en ook nie groter of kleiner mag wees nie, dan sou ek net van jou wil weet hoe jy, as jy ver weg is, jou vaderland ooit êrens sou kan terugvind!

[5] Kyk vervolgens eers na die vrugtebome wat by die een huis hoort, en ook na die wat by `n ander huis staan, dan sal jy in hulle vorm `n groot verskeidenheid ontdek, ondanks die feit dat dit één en dieselfde soort is! En dit het God ook toegelaat, sodat elke eienaar sy bome as ou goeie vriende al van verre kan herken.

[6] Ek sal jou egter nog `n voorbeeld gee voor ons tot die hoofsaak sal oorgaan, luister dus! Kyk, hoe sou dit wees as alle meisies byvoorbeeld, oud of jonk, presies dieselfde gesigte sou gehad het en netso groot sou wees, dieselfde daar sou uitsien en op dieselfde manier gekleed sou gaan, netsoos wat dit die geval is by die voëls in die lug en die wilde diere in die veld en die bos? Sou jy dan jou dogters wel kan onderskei van jou vrou, of van die dogters van jou buurman, of van jou moeder, of van jou susters? As jou vader presies so daaruit sou sien as jy en jou seuns, hoe sou dit jou as denkende mens geval? Volkome gelyke omgewings, met volkome gelyke menslike gestaltes en vorms, kort en goed, almal, jonk of oud sou volkome gelyk wees, heeltemal één en dieselfde, - hoe sou dit jou byvoorbeeld geval?”

[7] Die towenaar sê: “O vriend, so-iets sou vir ons die dood beteken terwyl ons nog lewe! Ag, hou maar op met sulke absurde voorbeelde! Dan sou immers ook al die denke by die mens heeltemal ophou, want dit is sonder vergelykings eintlik onmoontlik! Wel, ek sien al, waarheen jy eintlik na toe wil gaan! Maar gaan maar deur; want elke woord uit jou mond is duisend maal duisend pond suiwer goud werd!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205