Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 123

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die aanneem van die woord van die Heer in Indië

123 Die towenaar sê: “Omdat U, o Heer, dit aan ons gesê het, glo ons dit nou ook vas en seker, en ons sal dit miskien soos geen ander volk op aarde, streng in praktyk bring! Maar nou doen nog `n ander vraag hom voor, en dit lui: Sal ons weer na Indië teruggaan, of moet ons daardie ou sondige land vermy soos ons ergste doodsvyand, of moet ons weer huistoe gaan en die blindes die lig bring wat ons eindelik na `n lang soeke gevind het? Ons het weliswaar besluit om ons vaderland, waarvan ons die omstandighede maar al te goed ken, vir altyd te vermy en ons lewe by vreemde volkere te eindig; maar omdat ons nou in U die Een gevind het vir wie ons ons land lank gelede verlaat het, verander dit ons eerste besluit, en ons sou ook daarin volledig volgens U wil wou handel.”

[2] Ek sê: “Bedink die volgende: `n profeet word nêrens minder geëer as in sy vaderland nie! Julle staan by julle landgenote bekend as mense met enigsins oordrewe denkbeelde. Hulle het julle daarom ook sulke verre reise laat maak, omdat julle gereeld ietwat te veel op hulle gewete gewerk het. As julle nou met `n regte lig by die huis sou kom, sou julle weinig weerklank by hulle vind en by die buitengewoon dom geworde volk nog veel minder. Daarom is dit vir julle sieleheil beter om by julle eenmaal geneemde besluit te bly. Stuur julle dienare na julle land om in julle naam julle sake af te handel en dan weer terug te keer! Bekommer julle verder nie daaroor nie; want julle land is vir My lig nog byna twee duisend jaar te jonk, dit wil sê, te blind en te dom. Julle sal egter in die weste mense aantref wat meer ingenome sal wees met My lig as julle volk tuis; aan hulle kan julle meedeel wat julle hier ontvang het!

[3] In die toekoms sal dit so wees dat die ou môreland, waaraan eens die grootste lig gegee was, in `n lang aanhoudende nag sal moet ronddool en dat die lig van die lewe in `n westelike rigting sal uitstroom. Selfs hierdie plek, waar die lewenslig nou opgegaan het, sal nog in die donkerste nag en duisternis teregkom; want ook die volk, slegs enkele mense uitgesonder, het geen wete van sy belangrikste en mees heilvolle beproewing nie. Wee die volk, wanneer die lig van hulle weggeneem en aan die heidene gegee word!

[4] Julle is vreemdelinge uit die verre môreland, en julle het My gevind en herken; en dit was ook vreemdelinge uit julle land wat, toe Ek My met die liggaam van hierdie wêreld beklee het, My My eerste intrede in hierdie wêreld as eerstes gesoek en reeds in die pasgebore kind herken het. Maar van die van ouds uitverkore volk het nog maar baie weiniges My herken, maar tot nou toe des te meer agtervolg, hoe en waar hulle maar kon; daarom word die lig ook van hulle weggeneem en aan die heidene gegee.

[5] Maar voordat die lig weer in hierdie landstreek sal deurdring, sal dit in julle land aan die groot see kom. - Begryp julle dit alles?”

[6] Die towenaar sê: “Ek begryp dit, o Heer; maar dit verwonder my dat die kinders van die land U nie herken nie, terwyl ons vreemdelinge U tog baie maklik en vinnig herken het! U sou seker al vir die kinders van die land groot tekens verrig het, - en tog het hulle U nie herken nie?! O, my domste landgenote sou beslis nie so blind gewees het nie! By vele sou, netsoos by ons, net U woord al voldoende gewees het! En as ons hoëpriester so `n teken te siene sou kry, soos wat U dienaar enkeles daar verrig het, dan sou ook hy die lig aangeneem het, hoewel hy dit waarskynlik nooit aan die volk sou deurgegee het nie; want die volk ken reeds sedert onheuglike tye niks anders as hulle blinde geloof nie en is daarom stellig nie in staat om so `n lig te aanvaar nie. Maar dit is nie ons skuld nie, maar van die tyd en `n groot aantal van ons baie selfsugtige voorgangers. Kortom, die blindheid van ons volk is te verklaar deurdat daar in hulle midde waarskynlik nooit so `n lig geskyn het nie; maar die blindheid van die volk hier is onverklaarbaar, want hulle het die son wat hoog op die toppunt staan, maar verkies die duisternis, netsoos wat dit alleen in die diepste grotte in die berge van die aarde aangetref word.

[7] Ons het alles gedoen om die lig te soek, en is nou meer as bly dat ons dit eindelik gevind het, - en hulle het dit in hulle land voor oë en loop daarvan af weg, verag en vervolg dit! O, dit moet tog baie slegte en totaal blinde mense wees, wat die naam “mens” nie eers verdien nie! Omdat dit so met hierdie mense voorstaan, is dit ook baie korrek dat U, o Heer, al die lig van hulle sal wegneem en dit aan die heidene gee, wat dit kennelik meer werd is; want daaruit blyk U ewige geregtigheid, wat vol is van die grootste lig, en dit is vir ons weer `n nuwe bewys, dat U die Ene is wat ons so lank tevergeefs gesoek het.”

[8] Ek sê: “Ja, ja, so is dit helaas met die volk van My! Daarom sal Ek ander volkere opwek, nou baie en nog meer in die toekoms; maar altyd sal dit so wees dat daar onder die vele geroepenes maar weinig uitverkorenes sal wees.”

[9] Die towenaar sê: “O Heer, wat bedoel U daarmee? Sal daar steeds baie geroepenes wees, maar weinig uitverkorenes?! Dit klink soos `n woord uit U goddelike mond wat nie vir die toekomstige heil van die mense baie opwekkend is nie, as jy dit neem netsoos dit gesê is; want ek verstaan onder die weinige uitverkorenes die mense, vir wie die ware lewenslig voortdurend helder sal skyn en onder die vele geroepenes alle mense, wat weliswaar ook na die lig moet kom, maar deur allerlei omstandighede en oorsake verhinder word en dus netsoos ons landgenote nooit tot die ware lig sal kom nie.

[10] Ons enkelinge kan ons nou ook beskou asof ons uitverkore is; maar alle mense van ons volk, wat helaas nie die geluk het nie, hoort selfs nie in die ry van geroepenes nie! Wat sal hulle lot later, na die afval van hulle liggaam, wees?

[11] Die volk hier behoort kennelik tot die geroepenes en te midde van hulle is daar tog altyd nog `n aantal uitverkorenes, waarby hulle vir raad kan gaan wanneer hulle `n behoefte daaraan het; maar by ons is geen uitverkorenes en ook geen geroepenes nie, en daarom is die lot van die groot Indiese volk baie betreurenswaardig, dit wil sê, as U laaste uitspraak so opgeneem moet word, soos wat dit in `n sekere sin vir alle plekke en tye deur U uitgespreek is.”

[12] Ek sê: “Jy het hierdie uitspraak van My nie korrek verstaan nie, en daarom moet Ek dit vir jou beter uitlê.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205