Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 141

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

God se welwillende liefde vir die mens. Die plek van die mens ten opsigte van God. Die ware deemoed. Die ware aanbidding van God. Vergewing van sonde

141 Agrippa sê: “O Heer, eindeloos wyse Heer van ewigheid, hoe groot moet U liefde vir ons mense, U skepsele wees, dat U Uself so diep verneder het om in die gedaante van ons mense uit U hemel tot ons wurms in die vuil van hierdie aarde neer te daal, om ons die weë te leer en te wys waarop ons moet gaan om die ewige lewe te bereik?!”

[2] Ek sê: “Beste vriend, jou vraag weerspieël wat daar in jou hart leef en is goed, omdat ook jou hart goed is; maar in jou verstand het dit nou eers `n bietjie begin te dink, en die liefde van God vir julle mense kom vir jou as iets onbegryplik wonderbaarlik voor, omdat jy God vir jou as `n baie verhewe en magtige keiser voorstel, wat hom slegs baie selde aan die gewone mense laat toon en nog minder met `n eenvoudige mens spreek.

[3] As jy God vanuit daardie gesigspunt beskou, vergis jy jou baie; want God is die Skepper van alle dinge en wesens, en geen ongekende trotse keiser wat op `n goue troon sittend al sy onderdane maar net sien as weersinwekkende, veragtelike wurms en elkeen met die dood bedreig wat dit sou waag om hom sonder vooraf gevraagde en ontvange toestemming die troon van die keiser te nader.

[4] Maar wanneer dit vas staan dat alle wesens werke van God is, dan is hulle ook werke van Sy Liefde want hulle bestaan is `n werk van die hoogste, goddelike Wysheid, wat hulle die ooreenkomstige vorm gegee het en hulle ook in stand hou. As daar egter geen skepsel sonder God se Liefde en Wysheid kan bestaan nie, waarom vind jy dit dan so wonderlik dat God julle mense so buitengewoon liefhet?

[5] Julle is immers self alleen suiwer liefde uit God en in God, en julle bestaan is immers in homself deur die wil van God se liefde maar net beliggaamde liefde van God! En as dit onweerlegbaar so is, hoe kan dit vir julle dan so wonderlik wees dat God se liefde vir julle so groot is, dat Hy Self in die gedaante van `n mens na julle toe gekom het en julle nou die weë leer ken na die vrye, as te ware uit julle self voortkomende aan God gelyke selfstandige lewe? Is julle dan nie God se werk nie? Ja, dit is julle sekerlik!

[6] Maar God is van ewigheid `n volkome meester sowel in die grootste asook in die kleinste, Hy was nooit `n knoeier en sukkelaar gewees nie en hoef Hom dus nie vir Sy werk te skaam nie. Die mens is die volmaakste van die talloos vele en oneindig verskillende skepsele, die hoogtepunt van die goddelike Liefde en Wysheid, en voorbestem om self God te word. Waarom sou God Hom dan skaam vir Sy mees voortreflike werk en dit onwaardig vind om hulle te nader?!

[7] Kyk, My beste vriend, sulke idees oor God, wat suiwer van die uiterlike wêreld afkomstig is, moet jy laat staan! Hulle is ten eerste verkeerd, en ten tweede help hulle jou nie om steeds nader aan God te kom nie, maar sulke verkeerde idees sou jou maar net steeds verder van God verwyder, en mettertyd selfs sodat jy van pure verkeerde eerbied Hom heeltemal nie meer sou durf liefhê nie, - netsoos daar nou in groot getalle mense en volkere op aarde is, wat, terwyl hulle self tog sigbare werk van die goddelike Liefde en Wysheid is, die volkome verkeerde geloof en ook die netso verkeerde mening het dat God so eindeloos bo Sy skepsele verhewe is, dat maar net `n allerhoogste priester Hom op bepaalde tye met bepaalde gebede tydens die skitterendste en luisterrykste seremonies mag nader. En na so `n toenadering beskou die opperpriester homself so oneindig verhewe en geheilig, dat nie eens `n onderpriester nie, - laat staan `n ander, ongewyde mens - in sy nabyheid mag kom nie, omdat die mens van mening is dat niks onheiligs die hoogste gewydheid van God mag en kan nader nie, omdat die hoogste gewydheid van God daardeur ontheilig sou word, - wat mens vir die arme en blinde mense as `n riglyn aangemerk het, wat so groot is, dat dit met die vuurdood bestraf moet word. O wat `n vrywillige en meer as domme blindheid van die mense!

[8] Kyk nou eers! Ek alleen is die Heer van ewigheid, - hoe is Ek dan nou te midde van julle? Kyk, Ek noem julle kinders, vriende en broers, en wat julle vir My is, daartoe is elke mens bestem en daarby is niemand meer of minder as die ander nie! Want elke mens is My voleindigde werk, wat hom as sodanig ook moet leer ken en na waarde skat, maar hom nie heeltemal moet misken en minder ag as watter gedrog dan ook; want wie homself, `n duidelik te herkende werk van My, verag, verag noodsaaklikerwys immers ook vir My, die Heer. En waarvoor sou dit goed wees?

[9] Vriende, die deemoed in die hart van die mens is een van die noodsaaklikste deugde, waardeur mens dan eers tot die innerlike lewenslig kan kom! Maar die deug bestaan eintlik slegs uit die ware liefde tot God en die naaste. Dit is die sagte geduld van die hart, waardeur die mens sy voortreflikheid goed besef, maar hom nooit heerssugtig verhef hom bo sy broers nie, wat nog veel swakker is, maar hulle juis met des te meer liefde omvat en poog om hulle tot die eie bewuste hoër volmaaktheid te verhef deur lering, raad en daad. Daaruit bestaan die enigste, eintlike, waaragtige deemoed; dit bestaan egter nooit uit die veragting van homself nie.

[10] Ek is Self van ganser harte deemoedig en sagmoedig, en My geduld ken geen grense nie; maar julle sal by My nog nooit meegemaak het dat Ek My ooit Self ten oorstaan van die mense verag het nie. Wie homself nie tereg sien as `n werk van God nie, kan sy naaste en ook God nie na waarheid ag nie, maar slegs om `n totaal verkeerde rede.

[11] So verkeerd dit dus is wanneer `n mens homself oorskat en baie gou en maklik `n vervolger en onderdrukker van sy medemens word en daarby die liefde, wat die goddelike lewenselement is, kwyt raak, so verkeerd is dit egter ook, wanneer `n mens homself onderskat. Die oorsaak daarvan het Ek julle laat sien, en laat Ons dus maar mooi gelyk bly en goeie moed hê; want as julle julleself nou ten opsigte van My, omdat julle My herken het, te eerbiedig en kleinmoedig sou gaan gedra, dan sou julle dit immers heeltemal nie meer verdra om deur My onderrig te word nie.

[12] Sien My daarom as `n volmaakte mens, wat volledig vervul is met God se Gees en daarom nou julle Heer en Leraar is, dan sal julle die beste met My oor die weg kom en julle sal die meeste daaraan hê! - Het julle dit alles goed begryp?”

[13] Agrippa sê: “Majesteit en Heer, ons begryp dit baie goed; want dit is alles die baie eenvoudige en naakte waarheid. Maar wat moet ons dan dink van al die gebede en psalms wat by die Judeërs gebruiklik is? Wil U, as die nou erkende, enige ware God, dan nie aanbid word nie?”

[14] Ek sê: “Moses het wel gesê: “Die Sabbat is `n dag van JaHWeH, dan sal jy geen swaar knegtewerk doen en met `n suiwer hart tot JaHWeH God bid!” Maar Ek sê nou, dat van nou af aan beslis elke dag `n dag van die Heer is, waarop die ware mens volgens My leer die goeie moet doen! Wie egter volgens My leer die goeie doen, vier die ware sabbatfees en bid waaragtig sonder onderbreking tot God, en Ek sal My welgevalle aan hom hê.

[15] As iemand daarvan bewus is dat hy gesondig het, moet hy tot `n vergelyk kom met diegene teen wie hy gesondig het, en in die vervolg nie weer sondig nie, dan sal sy sonde hom ook vergewe word; maar deur op `n bepaalde manier te bid, hom te kasty en te vas word aan niemand die sonde kwytgeskeld nie, solank hy self nie ophou sondig nie.

[16] Solank iemand egter bly sondig, is hy nie in staat om in My ryk van die waarheid opgeneem te word nie, omdat die sonde altyd tot die gebied van die leuen en die bedrog hoort. Kyk, so is dit hiermee! - Maar nou kom die middagmaal; dit sal Ons nuttig en eers daarna verder gaan op die weg van die waarheid!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205