Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 155

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die drie grade van innerlike lewensvervolmaking

155 Ek sê: “Beloof is veel makliker, as om die beloofde te doen! Julle is nog te veel geheg aan die wêreld en aan julle groot skatte, waaraan veel bloed van weduwees en wese kleef, en dit skep vir wêreldse mense altyd `n bykans onoorbrugbare kloof.

[2] Maar netsoos by God alle dinge moontlik is, is dit ook vir die mees verstokte wêreldse mens en sondaar moontlik, om hom vinnig en doeltreffend te verander as hy opreg, in die volle geloof en vertroue op God, doen wat die goddelike Wysheid hom aanraai. Hy moet dan aan homself, deur `n streng ommekeer van sy wil, `n egte wonderwerk verrig, en wel deur `n totale selfverloëning van al sy vroeëre swakhede, gewoontes, luste en slegte neigings, wat uit die ongegiste en baie onsuiwere natuurgeeste van sy liggaam in sy siel opgestyg het en haar verontreinig en mismaak het.

[3] Tel nou eens op hoeveel verskillende hartstogte julle wel het! Neem `n ernstige besluit om dit alles te oorwin en My dan na te volg! As julle dit kan doen, dan kan julle ook baie gou die innerlike lewensvervolmaking bereik; maar as julle dit nie kan doen nie, is dit baie moeilik.”

[4] Die fariseërs sê: “Wat ernstige wil betref, daaraan ontbreek dit nie by ons nie; want as ons tog `n ernstige wil oor het om te sondig, waarom sou ons dit dan nie kan hê om die goeie te doen nie?”

[5] Ek sê: “Ja, ja, dit is nie so sleg geredeneer nie! Maar die wil om te sondig vind in die mens altyd veel steun, en wel in die prikkels en neigings van sy liggaam; maar vir die wil om die goeie te doen, vind hy in sy liggaam heeltemal geen steun nie, die vind hy alleen in die geloof in `n waaragtige God, en veral in die liefde tot Hom, en ook in die hoop dat die beloftes wat God hom gegee het, volledig in vervulling sal gaan.

[6] Wie dus deur die vaste en lewende geloof, deur die liefde tot God en die naaste en deur die onwankelbare hoop, alle slegte hartstogte van sy liggaam kan bestry, en sodoende meester geword het oor homself, die sal dan ook weldra meester oor die hele sigbare natuur word, en dan bevind hy hom, omdat hy volkome meester oor homself geword het, ook reeds in die eerste graad van die waaragtige innerlike lewensvervolmaking, hoewel dit hom nog meermale nie sal ontbreek aan allerlei versoekings nie, wat hom sal prikkel tot die begaan van die een of ander ligte sonde.

[7] As hy nou ook daarin slaag om met al sy sintuie `n standvastige verbond te sluit, om hom van alle aardse prikkels af te wend en hom maar net na die suiwer geestelike toe te keer, dan is dit al `n sekere teken vol lewenslig, dat die innerlike Gees uit God die siel heeltemal deurdring het, en dan bevind die mens hom in die tweede graad van die innerlike, ware lewensvervolmaking.

[8] In hierdie graad het die mens ook so `n sterkte en lewensvryheid gekry dat hy, omdat hy in sy siel heeltemal vervul is van God se wil en daarvolgens kan handel, nooit meer enige sonde kan begaan nie; want omdat hy self rein geword het, is alles ook vir hom rein.

[9] Maar hoewel die mens dan al `n volmaakte meester oor die hele natuur is en in homself die volledige oortuiging het dat hy onmoontlik meer kan sondig, omdat al sy doen en late gelei word deur die ware Wysheid uit God, dan bly hy daardeur tog maar net in die tweede graad van die innerlike lewensvervolmaking.

[10] Maar daar is nog `n derde en allerhoogste graad van innerlike lewensvervolmaking.

[11] Waaruit bestaan dit dan, en hoe kan die mens dit bereik?

[12] Dit bestaan daaruit dat die volmaakte mens, goed wetend dat hy nou as `n magtige meester van die hele natuur sonder sonde kan doen wat hy maar wil, tog sy wilskrag en mag deemoedig en sagmoedig in toom hou, en by alles wat hy doen en laat uit pure liefde tot God wag tot hy regstreeks van God `n opdrag daarvoor kry, - wat juis vir die volmaakte meester van die natuur ook nog `n baie moeilike opgawe is, omdat hy in sy volkome wysheid altyd besef dat hy maar net korrek volgens die in hom self wonende wil uit God kan handel.

[13] Maar `n nog dieper gaande gees besef ook dat tussen die spesiale wil van God in hom en die mees vrye en eindeloos algemene wil in God nog `n groot onderskeid bestaan, waardeur hy sy spesiale wil heeltemal ondergeskik maak aan die algemene goddelike wil en maar net uit eie krag iets doen, wanneer hy direk deur die enigste, eie wil in God opdrag daartoe kry. Wie dit doen, het in homself die mees innerlike en allerhoogste lewensvervolmaking bereik, dit is die lewensvervolmaking in die derde graad.

[14] Wie dit bereik, is ook volledig één met God en besit netsoos God die hoogste mag en krag oor alles in die hemel en op aarde, en niemand kan hom dit ooit meer ontneem nie omdat hy volkome één is met God.

[15] Maar hierdie hoogste lewensvervolmaking, waarin die aartsengele hulle bevind, kan niemand bereik voordat hy die eerste en tweede graad van lewensvervolmaking bereik het nie.

[16] Elke aartsengel het die mag om alles oombliklik tot stand te bring, wat God onbeperk Self tot stand kan bring; maar tog doen geen aartsengel iets heeltemal uit homself nie, maar eers wanneer hy van God Self die opdrag daarvoor kry. Daarom vra selfs die hoogste aartsengele, wanneer hulle veral by die mense van hierdie aarde `n bepaalde gebrek sien, of God hulle wil opdra om dit of dat te doen.

[17] Kyk na hierdie jong man! Hy bevind hom geheel in die derde graad van innerlike lewensvervolmaking, en wat hy wil is reeds so goed as `n volbringde daad; maar tog doen hy uit homself en vir homself niks nie, maar alleen wat Ek wil. As Ek egter vir hom sou sê: “Handel nou suiwer uit jouself, en na eie goeddunke, dan sal hy ook laat sien wat in hom is en daarvolgens handel.”

[18] Die fariseërs sê: “Die jong man is dus al gelyk aan `n aartsengel; want U innerlike is immers die volledige suiwer Gees van God?”

[19] Ek sê: “Ja, ja, salig diegene wat dit in sy hart glo!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205