Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 185

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Aanwysings van die Heer vir die besoek aan die tempel

185 Nikodemus en Josef van Arimatea, asook die ou rabbi, raak `n bietjie in die verleentheid om op die Sabbat na sonsopgang aan die oggendmaal deel te neem.

[2] Ek sê egter aan hulle: “As julle hier al bedenkings in julle laat opkom vanweë die Sabbat - terwyl julle nou tog moet weet dat Ek ook Heer is van die Sabbat en van Moses, - hoe sal dit dan nie met julle gaan as julle weer in die kollege van fariseërs en oudstes sal sit nie?”

[3] Na hierdie woorde vermaan die drietal hulleself en keer met Ons huiswaarts, eet en drink saam met Ons en was baie opgewek.

[4] En die ou rabbi sê: “Ja, ja, die Majesteit en Heer het in alles gelyk! `n Ou gewoonte is soos `n hemp met roesvlekke; hoe jy ook jou bes probeer, jy kry dit nooit meer heeltemal skoon nie!”

[5] Ek sê: “Dit is `n waar woord; trek daarom die ou mens heeltemal uit en trek `n nuwe aan, - want die ou mens is voortaan nie meer geskik nie! Maar eet en drink nou nog iets, dan gaan Ons daarna na die tempel!”

[6] Waarop Nikodemus sê: “Durf U dit wel aan om U nog `n keer onder die woestelinge van die tempel te begeef?”

[7] Ek sê: “Vir hulle gaan Ek ook nie na die tempel nie, maar vir die volk wat vandag terwille van My hiernatoe gekom het; en daarom vrees Ek die woestelinge nie! Maar laat Ons nou Ons bes doen om vinnig na die tempel te gaan!”

[8] Teen hierdie opmerking van My durf niemand meer iets in te bring nie; want elkeen dag by homself: “Hy het mag oor hemel en hel en hoef nie op te sien teen die woestelinge van die tempel of selfs bang daarvoor te wees nie!”

[9] Maar nog voordat Ek na die tempel vertrek, vra die Romeine en ook My leerlinge My of hulle ook saam na die tempel sou gaan en wat daar in die tussentyd met die jongeres moes gebeur.

[10] Ek sê: “Niemand van julle kan die toegang tot die tempel geweier word nie; maar die jongeres bly hier, My dienaar weet wel wat hom te doen staan. As julle egter na die tempel gaan, gaan dan vooruit om goeie plekke uit te kies, Ek kom later. Maar My oudste leerlinge bly hier en gaan saam met My; want vir hulle is dit belangrik dat hulle getuie is van al My woorde en dade!”

[11] Die Romein Agricola sê: “Dit sou ek ook wel wil wees, maar ook hierby geskied slegs U heilige wil, netsoos oral en altyd!”

[12] Ek sê: “As jy alleen ook as getuie van My wil wees, kan jy jou ook by My oudste leerlinge aansluit. Want Ek sal nog `n teken verrig, voordat Ek My mond vir die Judeërs sal open. Iemand wat al vanaf sy geboorte blind is, sal Ons nie ver van die tempel aantref nie; hy sal siende word, en uitgereken vandag op `n Sabbat! Gaan julle nou vooruit, maar julle vier, wat eers sedert gister My sy gekies het, sal beter daaraan doen om hier te bly; want in die tempel sou julle vinnig herken en agtervolg word.”

[13] Dit sien die viertal ook in en hulle bly op die Olyfberg.

[14] Ook Nikodemus kom nog na My toe om te vra hoe hy ongemerk met sy twee vriende sou kan afdaal.

[15] Ek sê: “Sluit julle aan by die Opper-Egiptenare, hulle sal julle so na benede loods dat niemand julle sal opmerk nie!”

[16] Daarmee was ook hulle tevrede en hulle begewe hulle saam met die Opper-Egiptenare dadelik op pad; alle ander volg hulle vinnig. Slegs die drie towenaars, wat nog altyd by My was, bly nog en maak aanstaltes om My ook te volg.

[17] Toe sê Simon Juda, Petrus genaamd: “Heer, wil U dat ook hierdie drie met Ons saamgaan?

[18] Ek sê: “Waarom is jy besorg daaroor? Toe Ek aan alle ander gesê het dat hulle vooruit moes gaan, het ek geen uitsondering vir hierdie drie gemaak nie; maar hulle wil en hulle hart het Ek daarom nog nie onder dwang gesit nie en hulle kan dus doen wat hulle wil en waartoe hulle in hulle hart gedryf word. As Ek iets goed vind, hoef jy jou geen sorg te maak dat daar iets sal gebeur wat nie reg is nie; want wie Ons volg, wandel beslis nie op `n dwaalweg nie.”

[19] Daarmee was dan ook Ons Petrus tevrede en ons maak aanstaltes om op pad te gaan.

[20] Tot slotte kom die herbergier, Jordan, My nog vra wat hy met die middagmaal moes doen.

[21] Maar Ek sê aan Hom: “My vriend Jordan, nou moet Ons die mense wat geestelik honger en dors ly, te ete en te drinke gee, wat veel meer werd is as spyse vir die liggaam en drank vir `n droë keel! Maak jy daarom nou nog maar geen sorg oor `n middagmaal nie. As Ek weer terugkom, sal alles nog op tyd in orde kom!”

[22] Met hierdie korte uitleg was ook die herbergier tevrede, wat dadelik daarna alle dienare van die huis byeen roep en hulle allerlei goeie lesse gee, sodat hulle daarna almal, by die dertig man, aan My glo. Want vóór die tyd wis hulle eintlik nie so goed wat hulle van My moes dink nie, ofskoon hulle baie tekens gesien het. Daarmee het ook Jordan ooreenkomstig My raad mense wat geestelik honger en dors ly in My Naam te ete en te drinke gegee.

[23] Maar nadat Ek Jordan hierdie raad gegee het, gaan Ek onmiddellik met My leerlinge na die stad, waar dit in alle strate en stege krioel van die mense.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205