Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 188

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die Heer belig die teenspraak van die fariseërs

188 Hierop sê die fariseërs : “Ons sien wel in dat Jy oor `n besondere krag beskik wat tot op hede ongekend is, veral wat die genesing van verskillende menslike siektes aangaan wat geen arts waarskynlik ooit kon genees het nie. Dit is ons ook nie onbekend, dat dit vir Jou selfs moontlik skyn te wees om jong mense, wat net oorlede is, in die lewe terug te roep of op te wek nie! En ook het ons verneem dat Jy verder `n baie nugter, fatsoenlike mens is en so uiters liefdadig, dat Jy vir jou buitengewone genesings nog nooit van iemand iets verlang het nie. Wel, dit is Jou onteenseglik goeie en voortreflike kante!

[2] Maar dat Jy daarby te midde van elkeen Jouself uitgee as die Seun van God en sê dat Jy die beloofde Gesalfde van God is en daarby die wette van Moses omseil en omgaan met heidene, tollenaars en alle moontlike sondaars, - kyk, dit is Jou slegte en baie bose kante, wat die tempel nooit kan goedkeur nie, omdat hy hom streng by die wette van Moses hou!

[3] Waarom verhoog Jy jouself tog soseer voor die mense vanweë Jou besondere eienskappe, terwyl Jy tog duidelik ook maar `n mens is? Wie van ons kan respek vir Jou hê, wanneer Jy ook van ons verlang dat ons moet glo dat Jy God se Seun is en die beloofde Gesalfde van God, en wanneer Jy diegene wat dit om verskillende redes nie kan glo nie, verdoem? Jy sê wel dat Jy die waarheid, die lig en die lewe is, - maar hoe kan Jy ons dan bewys, dat dit inderdaad alles so is? Gee ons `n oortuigende bewys, dan sal ons aan Jou glo!”

[4] Ek sê: “Kyk net na die klippe wat hier en daar op die grond lê! Ek sal eerder hierdie klip oortuig daarvan dat Ek die Ene is van wie Moses en die profete geprofeteer het, as vir julle!

[5] As Ek tekens verrig wat niemand nog ooit vóór My verrig het nie, ook nie die grootste profeet nie, sou julle oë tog moes oopgegaan het, sodat julle die tekens van hierdie tyd sou kon herken het tot julle heil! Maar julle is blind, doof en verstok van hart en sien, hoor en voel daarom niks. En so lê ook die oordeel oor julle in julleself en daarmee die sekere dood van julle siele.

[6] Julle hou julle wel jaarliks besig met die witkalk van die graftes van die voorvaders en die profete; maar wat die witgekalkte graftes is, dit is julle ook. Wat die buitekant betref is julle wel beklee met die wet van Moses en Aäron, op wie se stoele julle sit, - maar van binne sit julle vol bederf en walglike lug!

[7] Julle sê nou wel dat dit `n slegte en baie bose kant van My is dat Ek met heidene, tollenaars en sondaars omgaan en dat Ek `n Sabbatskender is en My nie hou by die wette van Moses nie. Maar hoe hou julle jul aan sy wette? Ek sê julle dat julle jul nie eens skynbaar aan die wette van Moses hou nie; maar wel het julle self `n groot aantal onsinnige en waardelose wette ingestel, wat julle hou omdat dit vir julle materiële voordele oplewer, en waarmee julle die arme volk onderdruk en uitbuit. Het Moses dit dalk ook voorgeskryf? Maar as dit volgens Moses se wette wel toegestaan en selfs voorgeskryf is om die esel, die os en die skape ook op die Sabbat te voer en te laat drink, en as daar `n esel in `n kuil of `n put geval het, om hom daaruit te haal, sou dit dan nie des te beter en redeliker wees om ook `n mens in nood op `n Sabbat te help nie? O julle blinde, dowe en dwase van hart en verstand! Is `n mens vir God dalk minder werd as `n dier?!

[8] Het Moses nie die volgende gebod gegee nie: “Eer jou vader en jou moeder, sodat jy lank sal leef sodat dit met jou goed sal gaan op aarde!”? Waarom sê julle dan aan die kinders: “Kom hier en bring die vir tempel `n offer; daaraan sal julle meer hê!” As julle dit onderrig, handel julle dan volgens die wet van Moses?!

[9] Het Moses nie plegtig aan elkeen die gebod gegee om die weduwees en wese nie te onderdruk nie? Maar wat doen julle? Julle beloof die weduwees en wese hulp deur lang gebede, wat sogenaamd verhoor word, maar ondertussen maak julle jul meester van hulle besittings; en wanneer die weduwees en wese huilend by julle kom kla dat julle gebede gladnie help nie, stuur julle hulle weg en dan sê julle dat hulle sondaars is vir wie God selfs die kragtigste gebede nie verhoor nie! Sê eens, het Moses ooit `n dergelike manier van doen voorgeskryf? Julle handel in alles teen die wette van Moses en sê aan My, dat Ek in stryd met die wette van Moses handel?!

[10] Sien, omdat julle so van Moses afgewyk het, is julle met blindheid geslaan en kan julle nou die ligste dag wat vir julle oë sigbaar is, nie meer sien nie, - en dit is julle oordeel, julle dood en julle verdoemenis! So suig julle die muggies uit met julle leë en uiters duur betaalde gebede en verslind daarvoor hele kamele, en tog sê julle dat julle Moses se leerlinge is! Maar hoe kan julle leerlinge van Moses wees, as julle - netsoos reeds gesê - in stryd handel met alle wette van Moses, nog erger as alle heidene? Daarom sal die lig julle ook ontneem en aan die heidene gegee word.

[11] Ek het in hierdie wêreld gekom om julle langs die vriendelikste en liefdevolste weg deur leer en dade op die regte lewenspaaie te bring; maar julle agtervolg My oral waar Ek gaan of staan en probeer om My te vang en te dood, terwyl julle beweer dat Ek `n volksverleier en opruier is. Maar Ek het ook getuig en God Self, wat in My is, netsoos Ek in Hom, is My getuie dat julle almal bose leuenaars is voor God en die hele volk.

[12] As die Romeine, wat nou die aardse heersers is in die land van diegene wat eintlik die kinders van God behoort te wees, ook maar enigsins gemerk het dat Ek `n opruier sou wees, dan sou hulle My al lankal voor die gereg gedaag het, want met hulle skerp oë sien en merk hulle alles wat ook maar enigsins `n gevaar sou kan vorm vir hulle heerskappy! Maar omdat hulle selfs nie die minste ontdek het van alles waarvan julle My beskuldig nie, kom hulle My ook oral baie vriendelik tegemoet en blyk mense te wees vol geloof, liefde en respek ten aansien van My, My leer en My dade. En daarom sal hulle ook opgeneem word in My lig en My lewe; maar julle sal in die buitenste duisternis gewerp word, netsoos dit geskryf staan, en daar sal baie gehuil en tandegekners wees!”

[13] Toe Ek dit gesê het, word ook die nog enigsins gematigde Judeërs en fariseërs boos en sê: “Kyk nou tog eens hoe onsinnig Jy praat! Wie agtervolg Jou dan en wie probeer Jou dood te maak? As Jy iets goeds onderrig en aan die mense goed doen, agtervolg niemand Jou en wil ook niemand Jou doodmaak nie; maar as Jy as mens, netsoos ook ons slegs mense is, Jou uitgee as `n seun van God, dus vir die beloofde, die Gesalfde van God - wat volgens die profete soveel beteken as JaHWeH Self, moet Jy self tog ook wel insien dat ons dit so lank as die ergste godslastering moet beskou, totdat Jy ons voldoende bewyse gee dat Jy volgens waarheid die beloofde Gesalfde van God is, en ons aan Jou kan glo, of Jy moet te midde van ons en die volk Jou getuienis oor Jouself herroep! Maar solank Jy nóg die een nóg die ander doen, sal Jy verlief moet neem dat die tempel Jou as `n godslasteraar sal agtervolg! Het ons geen gelyk, wanneer ons Jou dit nou voorhou in die teenwoordigheid van die hele volk nie?!”

[14] Ek sê: “So, - julle het nou gespreek en wel netsoos iemand wat stokblind is, oordeel en spreek oor die kleure van die lig; en omdat julle so oordeel en spreek, spreek julle daarmee ook self julle eie oordeel uit. Ek sal julle nie oordeel nie, maar die woord, wat Ek al so gereeld tevergeefs tot julle gespreek het, sal julle oordeel.

[15] As julle die profeet Jesaja gelees het en slegs `n bietjie daarvan begryp het, moet julle tog weet wat dit sê: “ `n maagd sal vir ons `n Seun baar en Sy Naam sal wees “Emmanuel”, wat beteken “God met ons”!” Het dit, netsoos ook al die ander, nou nie juis deur My in vervulling gegaan nie?! En as dit so is en ook ewig nooit anders sal wees nie, - sou Ek dan nie netsoos julle `n leuenaar wees, as Ek nou terwille van julle duistere mening, sou erken dat Ek nie die Een is wat Ek vir God, vir alle hemel en vir alle skepsele hier op hierdie aarde is nie?!

[16] Andersyds wil julle `n sodanige bewys van My hê, wat julle onherroeplik en sonneklaar sou oortuig, dat Ek die beloofde Gesalfde van God is. Sê My dan maar eers hoe Ek dit by julle met julle totale blindheid moet aanpak!

[17] As Ek voor julle oë werke en dade verrig wat niemand nog ooit vóór My verrig het nie, as Ek lammes en kreupeles genees wat daarna geheel gesond en kragtig rondspring soos herte, en as Ek verder jiglyers en melaatses genees, aan dowes en stommes die volle gehoor en die spraak gee, die blindes siende maak, die besetenes bevry van hulle vreeslike plaaggeeste, selfs die dooies weer tot lewe wek deur die mag van My woord en by geleentheid nog vele ander dade verrig wat vir niemand moontlik is nie, behalwe God, en daarby die armes van gees die evangelie predik van die lewende koms van God se ryk op aarde, en niemand My daarvan kan betig dat Ek ooit `n sonde begaan het nie - en julle dan sê dat Ek dit alles tot stand bring deur die hulp van Beëlsebub, die owerste van alle duiwels, dan vra Ek julle welke ander tekens Ek nog voor julle oë moet verrig om julle te laat glo dat Ek waaragtig die Gesalfde van God is?

[18] Al sou Ek duisend en nog eens duisend ander tekens vir julle doen, dan sou julle ook weer sê dat Ek dit alles met behulp van die opperste duiwel gedoen het! Waarvoor sou nog meer tekens nut hê by so `n groot blindheid van julle? Ek sê julle: netso min as mens `n blinde enige begrip van kleur kan bybring, kan mens aan julle die bewys gee wat julle sal begryp, dat Ek in der waarheid die Gesalfde van God is!

[19] En sien, hierdie bose nag in julle siel is dan ook julle ondergang, julle eie oordeel en julle ware dood! Want Ek alleen is die weg, die lig, die waarheid en die ewige lewe. Wie in My glo en volgens My woord leef en handel, verkry van My die gees van die ewige lewe, en Ek alleen sal hom tot lewe wek op sy jongste dag in My ryk. Wie My egter ontvlug, verag en vervolg, die ontvlug, verag en vervolg ook sy eie lewe en kan dit ewig nooit êrens anders vandaan kry as enkel en alleen van My nie.

[20] Wie derhalwe die ewige lewe van sy siel nie van My wil aanneem nie en hom verset teen alles wat van My uitgaan, bly ook dood in ewigheid.

[21] Maar wie die lewe wil hê, moet dit van Hom neem wat die lewe self is, dus die lewe het en dit kan gee aan wie Hy dit wil. Maar Hy gee die lewe slegs aan diegene wat sterk daarna verlang.

[22] My woord en My leer is nou die lewe, wat tans aan alle mense aangebied word. Wie dus, netsoos reeds gesê, My woord en My leer daadwerklik aanneem, neem ook die lewe van die siel van My aan.

[23] As dit nou met die ewige lewe so gestel is soos wat Ek vir julle en alle ander nou hier uiteengesit het, en nie anders nie, waar wil julle dan die ewige lewe vir julle siel, waarop julle julle hoop soseer gevestig het, vandaan kry?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205