Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 20

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die disharmonie van die sewe geeste in die mens

20 (RafaEl): “So sou dit ook in die mens moet wees, maar dit is helaas nie so nie. Wel is die vermoë aan elke mens gegee, maar sonder dat dit ooit volledig ontwikkel en beoefen word. Daar is maar weinig mense wat al sewe geeste in homself tot volledige en gelyke werksaamheid bring en daardeur waaragtig aan God en aan ons engele gelyk word. Maar, netsoos gesê, het baie hulle daarvan afgekeer en bekommer hulle weinig daarom en sien sodoende die ware geheim van die lewe nie heeltemal in hulleself nie. Sulke blinde en halfdooie mense kan dan nie waarneem wat aan die doel van hulle lewe ten grondslag lê nie, omdat hulle hulleself slegs deur die een of deur die ander van die sewe geeste laat lei en beheer.

[2] So leef die één suiwer vanuit die gees van die liefde en skenk glad geen aandag aan die ander geeste nie. Wat is so `n mens dan anders as `n vraatsugtige roofdier wat nooit genoeg kry nie? Sulke mense sit altyd vol eieliefde, vol afguns en gierigheid en is hardvogtig teenoor hulle medemens.

[3] Ander het `n verligte liefde en is daarom ook egte wyses en kan hulle medemens baie goeie lesse gee, maar hulle wil is swak en hulle kan daarom niks volledig ten uitvoer bring nie.

[4] Weer is daar ander by wie die geeste van liefde, van die lig en van die wil baie aktief is, maar waar dit met die gees van die orde en van die ware erns baie sleg gestel is. Die soort mense sal ook egter verstandig en gereeld selfs wys spreek en ook hier en daar iets ten uitvoer bring, maar die mens wat werklik heeltemal wys is vanuit al sewe geeste, sal maar al te gou uit hulle woorde, spreek en handel aflei dat daar geen orde en geen samehang heers nie.

[5] En dan is daar nog mense wat liefde, lig, wil en orde besit, maar die gees van die erns mis. Daarom is hulle angstig en vreesagtig en kan hulle werk maar selde volledig tot hulle reg laat kom.

[6] Weer ander is daarby ook vol erns en moed, maar het nie voldoende geduld nie. Sulke mense oorhaas hulle gewoonlik, en bederf met hulle ongeduldige entoesiasme baie meer as wat hulle goed doen. Ja, vriend, sonder die regte geduld kom daar niks tot stand nie, want wie nie die regte geduld het nie, spreek `n sekere doodsvonnis oor homself uit! Want die mens moet wag totdat die druif volledig ryp geword het, as hy `n goeie oes wil insamel. Doen hy dit nie, wel, dan het hy dit uiteindelik aan homself te wyte wanneer hy in plaas van `n edele wyn slegs `n ondrinkbare suur wyn geoes het.

[7] Geduld is dus by alles wat jy doen `n noodsaaklike gees: ten eerste om die gees wat ek erns noem, te beheer en in die juk te hou, aangesien hierdie gees baie tot in die oneindige wil gaan - omdat hierdie gees in verbinding met die liefde, die wysheid en die wil ontaard in die grootste hoogmoed, wat dan netsoos bekend, by die mens geen grense ken nie - en ten tweede, omdat die geduld veral, netsoos ek jou reeds laat sien het, die moeder is van die gees van die barmhartigheid, welke gees aan alle voorafgaande geeste die goddelik-geestelike volmaaktheid verleen en die siel van die mens tot die volle en ware wedergeboorte in die gees bring.

[8] Daarom het die Heer Self julle almal nou, veral die liefde tot God en tot die naaste, op die hart gedruk en daarby gesê: ‘Wees barmhartig, netsoos ook julle Vader in die hemel barmhartig is en wees sagmoedig en deemoedig, netsoos ook Ek van ganser harte sagmoedig en deemoedig is!’

[9] Die Heer gebied julle mense dus om veral die sewende gees tot ontwikkeling te bring, omdat alle voorafgaande juis in hierdie laaste gees aanwesig is en tot ontwikkeling kom. Wie hom dus inspan om hierdie laaste gees te ontwikkel en kragtig te maak, doen dit terselfdertyd ook met die voorafgaande geeste en word daardeur die vinnigste en sekerste voleindig. Wie egter sy ontwikkeling begin met één of ook meer van die ander geeste, bereik moeilik of heeltemal nie die hele en volledige lewensvoleinding nie, omdat hierdie ander geeste suiwer op hulself nie die sewende gees bevat nie, terwyl alle geeste wel in hierdie gees, wat hom noodsaaklikerwys voorafgaan, aanwesig is.

[10] En sien, dit is dan ook die val van die engele of van die gedagtes en idees uit God - wat ons ook die bestendiging van God se uitgaande kragte kan noem - wat voortduur solank hulle nie in hulle totaliteit nie die sewende gees in die wese van die mens tot ware en hoogste volmaaktheid gebring het nie. Want alle ander geeste is min of meer vry aan byna alle skepsele gegee, maar die sewende gees kan die mens eers deur sy hoogste eie inset en ywer verkry.

[11] En net soos wat al die ander ses geeste eers daardeur hulle ware betekenis en ware lewensdoel bereik, so bereik die hele mens dan ook eers daardeur die volledige lewensvryheid en selfstandigheid. En nou vra ek jou of jy dit ook alles goed verstaan het?”

[12] Lasarus sê: “Ja, van God se Gees vervulde dienaar van die Heer, ek kan jou vir jou groot geduld en barmhartigheid werklik nooit genoeg dank nie! Nou eers begryp ek die wysheid van die ou boeke! Dit is net ewiglik jammer dat net ek dit nou begryp, daar ek `n te slegte skrywer is om hierdie leer in `n boek op te teken. Miskien moet jy dit ook aan die ander leerlinge van die Heer vertel, omdat sommige van hulle wel die skryfkuns magtig is, sodat hulle dit vir alle tye en volkere kan opteken; want hulle sal nog niks daarvan weet nie.”

[13] RafaEl sê: “Moet jou nie daaroor bekommer nie, want op dieselfde oomblik wat ek jou alles oor die wonders, oor die oorloë van JaHWeH en oor die sewe geeste van God uitgelê het, het die Heer Self in die saal dieselfde netso noukeurig verstaanbaar aan almal uitgelê, soos wat ek dit aan jou uitgelê het, en Johannes en Matthéüs het die vernaamste punte daarvan ook opgeskryf! As jy egter `n leë en onbeskrewe boek het, wil ek dit ook self op die oomblik woord vir woord vir jou opskryf.”

[14] Lasarus sê: “So `n boek het ek wel, sal ek dit vir jou kry?”

[15] RafaEl sê: “Dit is nie nodig nie! Laat ons nou ook maar na binne gaan, dan sal jy daar jou boek al vol geskryf vind!”

[16] Lasarus was baie verheug daaroor en beide kom baie gou na Ons toe in die groot eetsaal.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205