Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 200

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die Heer hekel met die fariseërs

200 Dergelike uitsprake van die kant van die volk skiet die fariseërs in die verkeerde keelgat. Daarom staan daar enkele redenaars op om kalmerende woorde tot die opgewonde volk te rig, waarby hulle dit nie nalaat om My en My leer verdag te maak en in `n slegte daglig te plaas nie. Hulle beskuldig My van groot ongepaste aanmatigings en sê dat Ek die wet van Moses ophef wanneer Ek verlang dat geen kind van nou af aan meer sy ouers die eer mag bewys om hulle met die woord “vader” of “moeder” te begroet nie. Moses had immers uitdruklik die gebod gegee dat mens sy vader en moeder moes eer.

[2] Die volk word daardeur onseker en uiter hulle twyfel onder mekaar en sommige onder hulle sê: “Tja, eintlik kan jy die fariseërs en skrifgeleerdes geen ongelyk gee nie. Dit lyk of dat Hy in sy entoesiasme tog wel te ver gegaan het!”

[3] Toe kom die meer gematigde fariseër na My toe en sê: “Hoor jy wat die volk nou sê? Jy het ons baie verdag gemaak voor die volk, sodat hulle hulle stem teen ons verhef. Maar ons het wel in die oog dat Jy jou vergaloppeer (te ver gegaan) het deur selfs teen Moses in te gaan. Daarom was dit hoog tyd om die volk tot ander gedagtes te bring. Hulle sien nou hulle vergissing in, en my vraag is wat Jy nou nog verder van plan is.”

[4] Ek sê: “Ek hoef tog werklik nie aan julle te vra wat Ek verder nog moet doen of sê nie! Toe Johannes die volk onderrig en tot boetedoening gemaan het, het julle ook so opgetree om julle wêreldse reg te handhaaf, maar julle het geen boete gedoen en julle het ook die volk daarvan afgehou deur julle huigelagtige woorde, wat julle netnou ook weer doen. Maar daardeur sal julle julleself ook des te meer verdoemenis op die hals haal. Dit sê die Een aan jou wat die mag het om jou te behou of jou te gronde te laat gaan, afhanklik van wat julle met julle nietige handelswyse wil bereik.

[5] Julle dwase van hart en verstand! Wanneer jy self God jou vader noem en sê dat mens God se naam nie mag laster nie, - hoe kan julle God dan gelykstel aan die mens?! Wat is dan die verskil as julle God julle vader noem, maar ook diegene wat julle verwek het in die skoot van `n vrou?

[6] Julle wil skrifgeleerdes wees en ken nie meer die verskil tussen die oerhebreeuse woorde “jeoua” en “jeoutza”! Die eersgenoemde beteken “vader” en die tweede “verwekker”. En as dit so is en nie anders nie, - wie anders as julleself het die volk dan in die grootste verwarring gebring?

[7] Daarom wee julle, skrifgeleerdes en fariseërs, dwase huigelaars! Deur julle groot traagheid, domheid en boosheid grendel julle steeds die ware hemelryk vir diegene wat daarin wil gaan. Waarlik, julle sal ook nie daar inkom nie en niemand wat in die vervolg so sal optree soos wat julle nou doen nie.

[8] Self gaan julle die Godsryk van die waarheid en die lewe nie binne nie, en diegene wat op een of ander manier nog daarin wil gaan, laat julle nie daarin nie, maar vervolg en vervloek hulle en versper hulle op hierdie manier alle weë na die lig en die ewige lewe. Daarom ook sal des te meer vervloeking julle deel wees!

[9] Om nog `n ander rede sê Ek wee, julle skrifgeleerdes en fariseërs, huigelaars! Julle verslind die eiendom van die weduwees en wese en gee voor dat julle lang en kragtige gebede daarvoor uitspreek! Ook daarvoor sal des te meer vervloeking op julle ter rus kom!

[10] Nog meer redes om te sê wee, julle skrifgeleerdes en fariseërs, vreeslike huigelaars! Julle reis oor land en see om êrens `n heiden tot Judeër te maak; as hy dit geword het, maak julle van hom baie gou `n kind van die hel, tweemaal so erg soos julleself. Ook daarvoor sal julle jul loon in die hel oes!

[11] Nogmaals wee, julle verblinde leiers, wat sê: As mens sweer by die tempel, beteken dit niks nie; maar wie by die goud van die tempel `n valse eed aflê, is skuldig en strafbaar! O, dwase en blinde! Wat is groter en meer: die tempel waardeur die goud gewy word, of die goud op sigself waardeloos is?

[12] So spreek en onderrig julle ook: As iemand sweer by die altaar, het dit geen betekenis nie, maar as iemand valslik sweer by die offer wat op die altaar lê, is hy skuldig en strafbaar. O, dwase en blinde! Wat is ook hier groter: die offer of die altaar wat die offer wy?

[13] Is dit dan nie waar en korrek dat elkeen wat sweer by die altaar, daardeur ook sweer by alles wat op die altaar is nie? En wie by die tempel sweer, daarmee ook by alles sweer wat in die tempel is nie? En wie ten slotte sweer by die hemel, sweer seker ook by God se troon en derhalwe ook by Hom wat daarop sit, of liewer gesê, daarop rus en heers.

[14] Nogmaals wee, julle skrifgeleerdes en fariseërs, groot huigelaars, wat wel volgens die ou wet die tiende hef oor die ou muntkrui, die dille en die komyn, omdat dit in julle voordeel is, maar nie sorg vir die moeilikste en die belangrikste nie, naamlik `n korrekte en ware regspraak, die geloof en die barmhartigheid, sodat aan elkeen in julle teenwoordigheid volledig reg gedoen word. Ek sê egter nie hiermee dat mens die eersgenoemde nie mag doen nie; maar wat Ek wel sê is dat mens daarom die tweede, wat baie belangriker is, nie mag nalaat, netsoos julle dit doen nie!

[15] O, totaal verblinde leiers: Muggies sif julle uit, maar julle verswelg wel kamele! Wee, julle skrifgeleerdes en fariseërs, huigelaars in alle opsigte, wat die in die tempel heilige bekers en bakke van buite wel skoon hou, maar wat niks kan skeel as julle houers van binne vol roof en buitensporige vraatsug is nie! O, jou blinde fariseër, reinig eers die binnekant van die beker en die bak, sodat ook die buitekant vervolgens na waarheid kan rein word!

[16] En nog baie meer wee oor julle, skrifgeleerdes en fariseërs, huigelaars, julle almal! Julle is soos die witgekalkte grafte, die sien daar van buite ook stralend skoon uit, maar van binne sit hulle vol doodsbeendere en is weersinwekkend vuil. Sulke grafte gee presies weer wat julle is. Ook julle maak van buite `n vrome indruk op die mense; maar van binne sit julle vol huigelary en allerlei ondeugde.

[17] En veelvoudig wee julle, skrifgeleerdes en fariseërs, deur en deur skynheiliges! Julle bou nou grafmonumente vir die ou profete en verfraai so die grafte van die regverdiges en kla as volg: “O, as ons ten tyde van ons vaders in die wêreld was, sou ons nie saam met die blinde vaders skuldig gewees het aan hulle onskuldig vergote bloed nie!” Maar daarmee gee julle juis self die getuienis, dat julle ware kinders is van hulle wat die profete gedood het! Gaan aan, maak dan ook vir My die bose maat van julle vaders vol, netsoos julle reeds vir Sagaria en vir Johannes die maat volgemaak het! Slange, addergebroedsel, hoe wil julle ontsnap aan die helse verdoemenis, as julle julleself so gedra?!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205