Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 39

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die opvattings van die jong slaaf. Die toekoms van Rusland

39 Toe staan Ek vinnig op saam met die drie genoemde manne en Ons gaan na Ons jong mense, wat Ons baie rustig en in `n opgewekte stemming aantref, want hulle het mekaar steeds baie te vertel oor die wonderlike dinge wat elkeen van hulle tydens die verre reis gesien en opgemerk het, en hoe dit te make gehad het met hulle huidige bevryding. Enkeles het drome gehad, ander weer beweer dat hulle nou eers op aarde en dan weer aan die hemel ander verskynsels gesien het. En so onderhou hierdie jongeres hulle baie goed vir enkele ure met mekaar en merk nouliks dat dit al byna aand geword het.

[2] Toe Ons hulle ruim vertrek binnekom, was hulle buite hulleself van vreugde en almal roep: “Wees gegroet, enigste egte en ware Vader van ons, want U het ons goed te ete en te drinke gegee, U het ons bevry van ons harde boeie en ons naakte lywe goed beklee, en daarom is U alleen ons egte en ware vader en ons almal het U nou bo alles lief! Maar ons gevoellose ouers kan ons nou nie meer so baie liefhê nie, want hulle het nooit iets goeds aan ons gedoen nie, behalwe dat hulle ons `n tyd lank vetgemes het om ons dan duurder te kon verkoop. Ons wens hulle daarom tog geen kwaad toe nie, maar ons wens net dat hulle spoedig tot die insig sal kom dat dit hoogs onregverdig is wanneer mense ander mense en selfs ouers hulle kinders netsoos ander huisdiere, verkoop aan wins beluste kooplui. Maar omdat ons nou almal so `n meer as goeie Vader gevind het, het ons ook die ou misdaad wat ons ouers aan ons, hulle onskuldige kinders, begaan het, vergewe, wat U, onbarmhartige koopman Hibram, hulle wel tuis kan vertel, as daar nog `n eerlike bloeddruppel deur u are vloei!”

[3] Lasarus en ook Agricola verbaas hulle oor die groot beslistheid waarmee hulle hierdie toespraak tot My en ten dele tot die slawehandelaar Hibram rig, want Ek het die twee die gawe gegee om die taal van hierdie kinders uit die noorde te verstaan, asook om met hulle te praat, omdat dit hoogs noodsaaklik was, sodat die Romein hom veral vir hulle beter verstaanbaar kon maak. Ek kon hierdie gawe ook vir hierdie jongeres gegee het, maar dit sou nie vir hulle so goed gewees het nie, want as hulle die taal beter sou verstaan, sou hulle ook vroeër en vollediger kennis van alle moontlike ontaardings, ondeugde, sonde en slegte gewoontes gekry het. Wanneer hulle egter die taal van die Romeine, wat nog vir hulle vreemd was, eers langsamerhand sou leer, dan sou hulle voorlopig deur die Romein, wat uiteindelik tog alle jongeres saam na Rome sou neem en vir Lasarus nie één sou agterlaat nie, in hulle taal in My leer onderrig word, wat hulle dan `n voortdurende beskerming sou gee teen die dwaashede van Rome; en alles was dus goed netsoos wat Ek hierdie saak gereël het.

[4] Toe hierdie jongeres `n goeie gesprek met Ons gehad het en ook Hibram hulle die plegtige versekering gegee het dat hy tuis uitstekend vir hulle agtergeblewe vriende sou sorg en dat hy in die vervolg ook geen mensehandel meer sou dryf nie, vir welke belofte alle jongeres, sowel die jong seuns as die meisies, hom baie dankbaarheid betoon het, sê Ek dat hulle nou almal met Ons saam na buite moes gaan, wat hulle met genot doen.

[5] Toe Ons buite was, sien Ons die mooi landskap met sonsondergang en die jongeres sê, heeltemal dronk van geluk, dat hulle nog nooit so `n mooi landskap gesien het nie.

[6] En een van die jongeres, wat besonder begaafd was, wat die denke en die spraak aanbetref, sê: “Waarlik, in hierdie land wat werklik so mooi en warm is, moet die mense veel nader aan die goeie God staan as waar ons gebore is, want daar is dit maar `n kort tyd warm en daarna `n lang tyd baie koud, sodat die water van louter koue in klip verander en die hele land sien daar baie triestig uit! Daarom staan die mense daar ook nader aan die bose god en is daarom ook boos en sleg. Want daar het die mense mekaar nie lief nie en elkeen streef maar net hoe hy sy medemens kan kwaad aandoen. Die sterkste is daar `n verskriklike heerser vir die ander swak mense en dwing hulle om die swaarste dienste sonder loon vir hom te verrig - dit moet die bose god egter daar veroorsaak! En u, Hibram, is ook so `n sterk heerser daar; laat daarom in die toekoms, as u tuis is, u hart en u verstand tog nie meer deur die bose god gevange neem nie en bring hom geen offers meer nie, maar offer aan die goeie God van dié land, dan sal ons land ook so mooi en warm word soos wat dit nou is.

[7] Want ek dink dat die goeie God veel magtiger is as die bose, wat die water wel kan dood en tot klip maak, maar dit self nie weer vloeibaar en lewend kan maak nie. Hier het u die goeie en magtigste God gevind; neem Hom saam in u hart en offer aan Hom alleen, dan sal Hy ons groot land beslis ook seën! As u tuis egter weer aan die bose god offer, sal ons land nooit so word soos die mooie, warm land nie.”

[8] Deur hierdie kinderlike wyse woorde van die jong man word Hibram tot trane toe beweeg en hy belowe hom baie plegtig dat hy sy raad en wens nougeset sou opvolg en nooit meer `n offer sou bring aan die veronderstelde bose god nie; wel sou hy daar aan al sy ondergeskiktes die goeie God verkondig, wat hy hier baie goed leer ken het, en laat sien hoe mens aan Hom alleen kan en moet offer.

[9] Daarby druk hy ook alle jongeres op die hart om nou ook self ywerig daarna te strewe om die goeie en enigste ware God steeds beter te leer ken en Hom bo alles te eer en lief te hê, en as hulle in die kennis van die goeie en enigste ware God volleerd sou wees, dat hulle hulle vaderland dan nie moes vergeet nie.

[10] Ook dit beloof die jongeres en die spreker sê: “As ons eenmaal die seën en die krag van die goeie, enigste ware en almagtige God op gelyke wyse besit as hierdie mense hier - waarvan ons onsself almal met die hoogste verbasing oortuig het - dan sal ons ook baie maklik die weg na die huis kan vind en huiswaarts keer, want dan sal Sy gees ons wel die regte en vinnigste weg toon en ons ook lei. Maar sonder so `n Leier en almagtige Gids en Beskermer sou ons ons land, wat ontsettend ver hiervandaan lê, wel nooit kan vind en dit des te moeiliker omdat ons vier dae lank met geblinddoekte oë en met leem bedekte ore op die wa en karre uit ons vaderland weggevoer is. Laat daarom ook hierdie slegte gewoonte vaar, want dit is iets verskriklik om blind en doof as slaaf jou vaderland, ook al was dit hoe onvriendelik, vir altyd te moet verlaat. Dink dus ook daaraan, Hibram, want u is `n magtige meester in ons land en heers oor die arme mense in die wye omtrek!

[11] Daarna wend die jong man hom met `n liefdevolle blik na My toe en sê: “O, goeie Vader en wyse en magtige Man, wat heeltemal vervul is van die goeie God en wat alle mag en krag besit, sê U tog ook aan Hibram dat hy moet doen wat ons, wat arm is, hom by monde van my, eerlik en openhartig aangeraai het, dan sal hy dit des te sekerder doen, omdat ook hy reeds veel agting vir U skyn te hê! As hy dit tuis sal doen, dan sal ons land ook so mooi en warm word soos wat dit hier is, en die bose god sal dan beslis nie meer in staat wees om die water te dood en ons hele groot land met die baie koue sneeu te bedek nie, wat vir die mense daar die lewe baie moeilik maak.

[12] O goeie Vader van ons almal, wees tog nie net vir ons barmhartig nie, maar ook vir al diegene wat in ons onaangename land woon en gereeld niks anders te ete het as gedroogde vleis van wilde diere en visse nie! Mag ek uit Naam van die Een wat U hier as goeie Vader prys, iets verkeerds gevra het, dan mag u my wel daarvoor straf, want aan mag en krag daarvoor ontbreek dit U, beste goeie Vader, sekerlik nie, waarvan ons onsself almal al oortuig het!”

[13] Ek sê: “Waarom sou Ek dit doen! Ek het in alle ewigheid nog nooit `n wese gestraf, tensy hy homself gestraf het nie - des te minder sal Ek jou ooit straf vir jou goeie en edele hart. Inteendeel, Ek sê vir jou: Jy sal binne sewe jaar na jou land terugkeer en Ek sal uit jou lendene `n geslag verwek wat die uitgestrekte lande van die noorde meer as `n duisend jaar in My Naam sal regeer en lei. Maar jou latere nakomelinge sal die heerskappy nie behou nie, omdat hulle ru en baie heerssugtig sal word. Jy hoef jou net niks daarvan aan te trek nie, want Ek sal daar altyd bestuurders kies netsoos Ek hulle presies sal kan gebruik. Die ryk sal steeds met geringe wysigings dieselfde bly; maar in later tye sal die bestuurders hulle nie in Asië nie, maar in Europa vestig. Wees daarom almal besonder vlytig en leer al die goeie en ware en verplant My lig ook na die baie duistere noorde!

[14] Weliswaar sal daar netsoos tot nou toe die natuurlike winter die aarde beheer, maar dit maak nie saak nie. As julle harte maar warm is deur die liefde tot God en tot julle naaste, dan sal julle dooie riviere wel ontdooi en veel seën in die land bring. Maar julle moet julle nou dus baie ywerig in al die goeie en ware laat onderrig deur diegene wat julle na Rome sal saamneem; julle sal dan oor sewe jaar ryk geseënd na julle land terugkeer. En as julle jul weer in julle ou vaderland bevind, doen dan goed aan diegene wat julle kwaad gedoen het, dan sal julle veel seën daardeur in julle land bring! Het julle dit goed begryp?”

[15] Almal bevestig dit en beloof om hulle daarby te hou.

[16] En Ek sê: “Dan het Ons `n goeie doel bereik; laat Ons dan nou weer na binne gaan!”

[17] Daarmee was almal volkome tevrede en Ons trek Ons vanweë die naderende vreemdelinge weer in die huis terug, waar Ons Helias in `n gloedvolle gesprek met die engel aantref.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205