Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 50

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die Heer lê die ligverskynsel uit

50 (Die Heer): “Die twaalf vuurpilare in die ooste stel werklik die twaalf stamme van Israel voor, en die sterk middelste stam was Juda, die buitenste twee was Benjamin en Levi. Deur die verskillende gebeurtenisse smelt die twaalf stamme saam tot die laaste een stam van Juda, en dit is Ek, wat gekom het om alle ander stamme in My, die enigste ware stam van Juda, te verenig, sodat hulle almal in My net so één sal word, soos wat Ek en die Vader in die hemel volkome één is van ewigheid tot ewigheid.

[2] Toe julle die sewe pilare gesien het, sien julle in sekere sin die sewe geeste van God, wat reeds aan julle bekend is, en toe dit later drie word, sien julle in Benjamin die Seun, in Levi die Gees en in die middel Juda as die Vader. En sien: Vader, Seun en Gees word één, was van ewigheid één en sal ook ewig één bly! En hierdie Ene is ook Ekself, en wie My woord hoor en daarvolgens leef handel, sal ook één wees met My en in My. Hy sal netsoos Ek opvaar na die hemel van God en in My die ewige lewe hê. Dit is baie kortliks die volkome ware betekenis van die eerste verskynsel.

[3] Wat die tweede verskynsel betref, dit laat die volle maat sien van die gruwelike sonde van die volk, wat nou tydens die klaarligte dag wat oor hulle opgegaan het, tog in volkome duisternis wandel en ook wil bly wandel. En daarom sal hulle die vrugte oes volgens hulle dade, en wel binne die tyd wat Ek jou, vriend, reeds buite bekend gemaak het, naamlik oor veertig of vyftig jaar, en Ek gee daar nog `n ekstra termyn van hoogstens tien en sewe jaar by, waarin Ek nog geduld sal hê; dan sal dit egter ook vir alle tye van die tye heeltemal gedaan wees met die volk. En dit sê Ek vir julle: Hierdie aarde en hierdie sigbare hemel sal vergaan, en voos en broos word soos `n ou kleed, maar hierdie woorde van My sal vervul word en in ewigheid nooit vergaan nie!

[4] Want Ek is die Heer. Wie wil met My twis en met lanse en swaarde teen My optrek?! Ja, ook dit sal hulle nog doen, en My liggaam sal weliswaar die dood vind aan die kruis, maar dit sal hulle maat juis vol maak en hulle ondergang onherroeplik verseël. Want die blindheid wil heers en haar God dood. En dit sal sy binne nie al te lang tyd doen, en ook sal hierdie gruweldaad toegelaat word, sodat haar ondergang vir alle tye van die tye volkome seker en onafwendbaar sal word. Maar wat vir die volk die ondergang sal wees, sal vir julle dien tot die grootste heil en die volmaaktste verwerwing van die ewige lewe.

[5] Maak julle egter nie besorg daaroor, noudat Ek dit vooraf vir julle gesê het nie, want die kwade gebroedsel daar benede kan wel My liggaam dood, maar nie Hom, wat in My leef en ewig werk en skep en orden nie. Maar Ek sal ook die liggaam waarlik nie in die graf laat nie, want reeds op die derde dag sal Ek ook die liggaam weer opwek en Ek sal dan weer tot aan die einde van die tye met diegene omgaan wat in My sal glo, My sal liefhê en hulle aan My woord sal hou. En julle, My broers, sal My kan sien en net so met My kan praat soos nou, terwyl Ek in die nog nie verheerlikte liggaam te midde van julle verkeer.

[6] As julle dit alles goed oordink, sal julle almal insien dat daar vir die tweede treurige verskynsel `n aanwysbare rede is. Maar laat niemand van julle sê: “Heer, dit sou U wel met U almag kan verander!” of: “Wat sou U anders kan doen!” Want waarlik, Ek sê vir julle dat Ek nou al die alleruiterste doen wat My ewige en hoogste goddelike Wysheid My aangee, en tog help dit die volk daar benede niks meer nie, want hulle is deur hulle eie, onnoemlike boosheid so verstok, dat ook God se mag dit nie meer kan help nie.

[7] “Wel”, dink en sê julle by julleself, “hoe is so-iets nou moontlik? God moet tog alles kan doen wat Hy maar wil!” Ja, dit kan God waarlik. Maar by die volkome vryheid van die menslike wil kan en mag God nooit as te nimmer doen wat Hy wil nie, want as God die menslike wil ook maar enigsins sou beïnvloed, sou die mens `n marionet word, bestuur deur die koord van die vaste goddelike wil, en sou dan nooit tot `n vrye, selfstandige lewe kan kom nie. Kan hy dit egter nie uit homself bereik nie, dan is dit met die ewige lewe van sy siel onvermydelik ook vir ewig gedoem.

[8] Die mens moet dus volledige vryheid van wil hê, wat alleen deur wette van buite af en deur vrywillige gehoorsaamheid tot sy werklike voordeel kan strek, en daarby mag die goddelike almag weinig of eintlik heeltemal geen rol speel nie en moet, terwille van die selfstandigheid, toelaat dat die mens alles doen wat hy wil doen, en dus selfs ook dat hy My totaal onskuldige liggaam dood.

[9] En omdat hierdie mense hier in Jerusalem die wet van God bykans heeltemal verwerp het, en in plek daarvan voorskrifte gemaak het wat hulle beter pas en wat hulle wêreldse belange geheel en al dien en wat lynreg ingaan teen My insettinge, wat deur Moses en die profete aan die mense gegee is, en dit heeltemal wil verdring, en omdat Ek nou teen hulle en hulle groot ongeregtigheid ten opsigte van God en die mense getuig, haat hulle My en wil hulle My tot elke prys doodmaak. Ja, ook dit sal toegelaat word, maar dan sal hulle maat van begane gruweldade ook vol wees, en dan sal daar met die volk gebeur wat julle so pas as tweede verskynsel gesien het.”

[10] Toe sê Nikodemus: “Majesteit en Heer, ek is van mening dat die twee verskynsels wel eens behoorlik ontnugterend kon ingewerk het op die tempeldienaars en hulle in die vervolg wel sal uitkyk voor hulle die hand aan iemand sal slaan; want ek het duidelik in die tempel gehoor hoe die volk die priesters, wat hoogs ongemaklik gevoel het, voorhou dat God hulle nou almal sou oordeel, juis omdat hulle as priesters die meeste profete, - tot Sagaria en Johannes - gedood het! En selfs die hoëpriester het geswyg en durf die volk niks antwoord nie, toe hulle die gebragte offers sonder omhaal van die tempel terugeis, wat andersins altyd as `n groot misdaad beskou was. En omdat ek dit self nog gesien het, is ek van mening dat hulle nie meer so vol haat en so opstandig teen U sal wees nie, o Majesteit en Heer. Hulle sal wel daarvoor oppas om vyandig teen U op te tree! Bowendien het die tempel in verband met die ius gladii (swaardreg) van die kant van die hoë Romeinse gereg by monde van `n owerste `n uiters ernstige waarskuwing gekry, en dit sal hulle wel eens en vir altyd die lus kan ontneem om ooit nog iemand sonder `n Romeinse vonnis ter dood te veroordeel.”

[11] Ek sê: “Dit sal hulle ook nie doen nie, maar in hulle woede en moordlus sal hulle so `n druk uitoefen op die Romeinse regter en so `n groot aantal betaalde getuies teen hulle Offerlam na vore bring, dat die regter ten slotte sal moet doen wat hulle wil. Weliswaar glo al baie mense van die volk in My en My leer, maar die tempel het tog `n groot, al is dit ook `n totaal blinde aanhang, waarmee hulle nog alles kan uitrig. Dat die tempel nog baie aanhangers het, bewys die byna ontelbare mensemenigte wat op die feesdae `n bedevaart na die tempel maak. Hierdie groot, massale bedevaart toon immers meer as voldoende aan hoe baie daar nog met die tempel verbonde is, en hoeveel blindes daar nog in die hele Judese land is wat dink dat hulle God `n welgevallige diens bewys wanneer hulle baie gewetensvol doen wat hulle deur die tempel beveel word. As jy dit goed in oënskou neem, sal jy nou nog baie min Judeërs vind wat vir die lewe van My liggaam borg sal wil staan.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205