Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 51

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die verlede en die toekoms van die Judeërs

51 Die Romeine hoor ook die gesprek en Agricola staan verontwaardig op en sê: “Heer van alle hemele en wêrelde, mag die gebroedsel daar benede nooit so-iets van plan hê teen U nie, want dan sal U almag dit ons wel vooraf kan laat weet en dan sal ons nie aarsel om vir altyd `n einde te maak aan daardie bedrieërs gebroedsel nie; ek sal Pilatus nog môre nadruklik daarop wys!”

[2] Ek sê: “My allerbeste vriend, jy het dadelik op die eerste dag wat jy hier gekom het, My leërskare en My mag gesien, en Ek hoef slegs één wenk te gee of tallose skares almagtige engele staan My ter beskikking, waarvan daar één al voldoende sou wees om die hele aarde en die hele sigbare hemel in `n oogwenk te vernietig! Ek het egter nie na hierdie wêreld gekom om haar te oordeel en te vernietig nie, maar slegs om haar van ondergang te red. En daarom moet Ek die wil van die mense, hoe dit ookal is, die vrye loop laat neem, selfs wanneer hulle hulle aan My liggaam sal wil vergryp; want as Ek daarteen ingaan met die goddelike mag van My wil, wat aan My deur die Vader gegee is, dan dood dit die siel van elke mens, en kan niemand dink aan `n ewige lewe na die aflegging van sy liggaam en nog minder daaraan glo en daarop hoop nie.

[3] O ja, die mense hoef hulle gladnie aan My liggaam te vergryp om tog die ewige lewe van hulle siel te kan verwerf nie, netsoos wat julle dit ook sal verkry wanneer julle tot aan die einde van julle aardse lewe in My leer sal bly sonder dat iemand hom aan My hoef te vergryp; en die een wat hom aan My sou vergryp, sou die lewe nie hê en ook nie verwerf nie.

[4] Maar daar benede by die wêreldse mense is die sake anders. Hulle het almal duidelik dienare van die hel en haar leuenvors geword en staan nou in sy wêreldse diens. Hulle stapel sonde op sonde en gruwel op gruwel, begaan allerlei hoerery, egbreek en bloedskande, en probeer voortdurend iemand ook tot Judeër te maak, deur hom die hemel en die ewige lewe te beloof. Wanneer iemand egter na hulle geloof oorgegaan het, trek hulle hom byna heeltemal uit, sodat hy vir hom so die hemel en die ewige lewe koop.

[5] As hulle so `n blinde heiden egter heeltemal van sy vermoë ontdaan het, dan sê hulle met `n skynheilige gesig: “So, vriend, nou is jy al halfpad op pad na die hemel en die ewige lewe! Tot nou toe het ons vir jou gewerk, maar van nou af aan moet jy self werk volgens die wet wat ons jou laat sien het, anders sou ons voorbereidende werk en die offers wat jy aan God gebring het, geen waarde hê nie!”

[6] En so beroof hulle die een na die ander en doen dan verder heeltemal niks meer vir hom nie; en as hy by hulle kom om raad, dan verwys hulle hom na hulle preke, as hy nie vir die raad kan betaal nie. Kan iemand egter goed betaal vir advies, dan kry hy behalwe die preek, ook advies wat gewoonlik uit `n listig inmekaargevlegte leuen bestaan.

[7] En omdat hierdie hemel-en-ewige-lewe-verkopers self nie in die hemel kan kom nie, omdat hulle self nie daarin glo nie en ook nooit daarin geglo het nie, laat hulle ook niemand anders daar binnegaan nie, omdat hulle deur hulle uiters duistere leuens die weg daarheen versper.

[8] Wie dit nog met `n helder verstand herken en na die waarheid begin te soek, die verdoem hulle weldra as ketter en godslasteraar en hulle vervolg hom verwoed tot die laaste druppel bloed, netsoos hulle ook om dieselfde rede die profete wat van God se gees vervul was, merendeels gedood het, wie se graftes hulle nou vir die skyn eer en op bepaalde herdenkingsdae witkalk. Maar hulle is self soos witgekalkte grafte wat daar van buite baie stigtelik uitsien, maar van binne vol kadawers en vol walglike lug is.

[9] Julle dink nou natuurlik by julleself: “Ja, as die bose gebroedsel al sedert so lank so is, dan kon God hulle tog ook al lankal volkome vernietig het!” Ja, dit kon God ook wel gedoen het en dit het Hy ten dele ook gedoen deur allerlei oordele, wat eens sover gegaan het dat die hele Judese volk veertig jaar lank in die harde gevangenskap van Babilon moes beland, en die tempel van Salomo en grotendeels ook die stad Jerusalem verwoes is. Daarop doen die volk weer boete en keer terug na God toe. En hulle word weer vry en kom weer in die beloofde land, bou die stad en die tempel opnuut op en leef toe `n tyd lank heeltemal volgens die reëls. Maar toe dit weer tot uiterlike glans en aansien kom, begin hulle langsamerhand ook van die korrekte weë af te wyk en maak vir hulleself wette, - dit wil sê vernaamlik die tempel, wat hierdie wette in die plek gestel het van die wette van God, en spoor die volk aan om hierdie menslike wette streng na te volg, terwyl die priesters openlik aan die volk leer: “Dit is verdiensteliker vir julle om hierdie nuwe wette op te volg as die oue!” En so gaan dit altyd maar deur, en dit het slegter en goddeloser geword as tydens die rigters en konings.

[10] Dit het egter nooit aan vermanings en ten dele ernstige beproewings ontbreek nie, wat helaas geen vrugbare bodem meer gevind het nie. Toe die volk en hulle konings en priesters nouliks meer gedink het aan die lewende God, en elkeen daar in die roes van die wêreld `n losse lewe gelei het, het God weer profete gestuur en waarsku die volk ernstig dat daar `n magtige vyand in die land toegelaat sou word wat alle Judeërs sou onderwerp en hulle konings gevange sou neem, en wat die vroue, dogters, osse, koeie, kalwers en skape van die Judeërs as gyselaars sou wegvoer, en ook baie goud, silwer, edelstene en pêrels van hulle sou afneem, en dat die volk vir altyd verkneg sou word. Kortom, dit was vir die Judeërs in goeie begryplike taal beskryf hoe dit met hulle sou gaan as hulle hulle wêreldse wette en hulle wêreldse gesindheid nie sou verlaat nie. Maar dit was alles tevergeefs en die voorspelling het in vervulling gegaan, want die Romeine dring die land binne, verower dit en handel volgens die voorspelling.

[11] Toe kry die Judeërs genoeg wêreldse wette in hulle land, wat hulle om lewe en dood moes nakom. Die tempel keer daarna onder enkele vrome priesters tydelik weer tot God terug, bly egter nie daarby nie en het sedert - sê maar - dertig jaar heeltemal afgegly tot `n rowershool en `n moordkuil, en is nou as tempel slegter as `n willekeurige afgodstempel uit die voortyd of uit die hedendaagse tyd.

[12] En hoewel Ek nou as die Heer, omhul met `n liggaam, Self in die tempel onderrig, terwyl Ek die duidelikste tekens doen en die hele volk en die tempeljode die waarheid leer, help dit tog heeltemal niks nie, en die fariseërs gaan nog erger as ooit hulle gang met leuens en bedrog, en beraadslaag voortdurend hoe hulle My uit hierdie wêreld kan help. En selfs dit sal hulle nog toegestaan word, sodat die maat van hulle gruwels sal vol word. Maar dan kom ook die groot oordeel oor die volk wat vir julle almal in die tweede verskynsel getoon is, en daarmee ook die einde van hulle, as Judeërs, waarna hulle dan soos kaf na alle uiteindes van die aarde verstrooi sal word. En hulle naam, wat tot nou toe oral geroem word, sal verag word.

[13] As hulle hierdie tyd van groot barmhartige beproewing sou herken het, dan sou hulle sekerlik vir ewig die eerste volk van die hele oneindigheid geword het en ook gebly het; maar juis omdat hulle hierdie groot tyd van die tye nie wil herken nie, sal hulle dan ook deur die groot oordeel wat oor almal begin het, die laaste volk van die aarde word. Verstrooi onder alle volkere van die aarde sal hulle onder allerlei vervolgings soos die voëls in die lug hulle voedsel moet soek, en hulle sal oral onderdanig wees.

[14] En ook al sal daar in latere tye enkeles wees wat berge geld sal versamel, dan sal hulle daarvoor tog nêrens op aarde `n land, `n ryk of `n vorstedom kan koop nie; en tot getuienis van My voorspelling sal hulle so bly tot aan die einde van die tye van hierdie aarde.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205