Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 54

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die uitleg van die derde ligverskynsel

54 Nikodemus sê: “Majesteit en Heer, dit begryp ek nou en ek dank U uit die diepte van my hart vir hierdie baie belangrike lering! Maar omdat U ons nou die twee ligverskynsels uitgelê het, wil ek U vra om vir ons ook nog die derde verskynsel uit te lê; want daar moet iets baie besonders daarin verborge wees.”

[2] Ek sê: “Ja, ja, Ek sal wel die derde verskynsel vir julle uitlê, maar julle sal dit nie goed begryp nie; want wat die verre toekoms nog sal bring, sal julle eers duideliker insien wanneer julle in die gees wedergebore is. Maar Ek sal tog iets daaroor vertel, luister dus!

[3] Die ligpilaar wat uit die hemel na aarde teruggekeer het, is Ek in die gees van My lewende woord, wat Ek in die toekoms in die harte van die mense sal lê wat My liefhet en aan hulle wat My gebooie sal hou; na hulle sal Ek Self kom en aan hulle sal Ek My openbaar. En so sal hulle almal opnuut deur God onderrig word.

[4] Dat die pilaar in talloos baie dele uiteengaan, beteken dat die innerlike, geestelike betekenis van al My woorde en leringe onthul sal word, wat Ek sedert die begin van die menslike geslag aan die mense by monde van die aartsvaders, die profete en sieners en nou Self gegee het.

[5] Uit al die vele gedeeltelike onthullings van die innerlike, geestelike betekenis van God se woord sal daar uiteindelik `n ware en groot lig- en lewensleer ontstaan, en hierdie leer sal dan die groot en nuwe Jerusalem wees, wat uit die hemel na die mense sal neerdaal. En wie in die nuwe leer sal wees en lewe, sal in die nuwe Jerusalem wandel en ewig daar woon, en aan hulle grenslose salighede sal nooit `n einde kom nie. Want Ekself sal by hulle wees en hulle sal die tallose heerlikhede van My Liefde, Wysheid en Almag aanskou.

[6] Daar sal egter vanaf die ondergang van hierdie ou stad Jerusalem tot by die tyd waarop die nuwe stad van God na die aarde toe kom, weinig lig by die mense op aarde wees; want daar sal maar al te gou `n groot aantal valse profete en priesters in My Naam opstaan en valse wonders verrig en die mense mislei en blind maak. Ja, die Antichris sal sulke dinge met die hulp van die aardse konings doen, dat selfs My uitverkorenes, as Ek dit sou toelaat, verlei sou word om hulle knieë te buig vir die nuwe Baäl. Dan sal Ek weer `n tyd van groot nood onder die mense laat aanbreek, soos wat daar nog nooit vroeër onder die son voorgekom het nie. Dan sal Baäl netsoos die groot hoer van Babel terneergewerp word, en die lig van die lewende woord in die harte van vele mense sal dan skyn en sal die mense wat gebuk gaan onder hierdie nood, oprig en verlos, en hulle sal hulle almal verheug in die nuwe lig en My Naam loof en prys.

[7] In die tyd sal die mense dikwels omgang hê met die rein geeste uit My hemel, wat hulle leraars sal wees en hulle sal onderrig in alle geheime van die ewige lewe in God, netsoos dit in die derde verskynsel aan julle getoon was deurdat daar mense deur die twaalf poorte in- en uitgegaan het.

[8] Die twaalf poorte beteken nou egter nie meer dat die nuwe stad gebou is uit die twaalf stamme van Israel nie, maar uit die twaalf vernaamste grondbeginsels van My leer, wat vervat is in die tien gebooie van Moses en in My twee nuwe gebooie van die liefde; want dit is die poorte waardeur die mense voortaan sal binnegaan in die nuwe stad van God, wat vol lig en lewe is.

[9] Slegs diegene wat My gebooie sal hou, sal ook hierdie stad binnegaan en hulle sal lig en lewe gegee word; wie egter nie die gebooie sal hou nie, sal ook nie in hierdie nuwe stad kom nie. Die twaalf soorte edelstene waaruit die muur om die groot stad gebou was, was eweneens weer `n aanduiding van dieselfde twaalf gebooie.

[10] Hierdie twaalf gebooie is vir die mens dus nie alleen die ingangspoorte tot die lig en die lewe nie, maar ook hulle onverwoesbare beskerming en afskerming, en die poorte en magte van die hel of die materiële wêreld kan dit nooit verwoes of oorwin nie.

[11] Ook het julle by die verskynsel opgemerk dat die klip van die mure in al hulle kleure ook `n sterk lig uitstraal. Dit toon julle dat in die gegewe twaalf gebooie ook alle grade van die Wysheid van God vervat is, en so kan die mens maar net deur die hou van die twaalf gebooie tot volmaakte Wysheid kom. Want in die gebooie lê alle Wysheid uit God, en omdat al God se Wysheid daarin lê, lê ook alle Mag en Krag van God daarin opgesluit, omdat die alwyse en almagtige wil en daardeur die hoogste vryheid in hierdie gebooie opgesluit lê.

[12] Wie dus deur die hou van die gebooie die wil van God tot syne gemaak het, die het ook die goddelike mag en die goddelike vryheid tot syne gemaak; hy het die toestand van die ware geestelike wedergeboorte bereik en is as `n ware kind van God so volmaak as die Vader in die hemel Self.

[13] En Ek sê nou aan julle almal, dat julle deur noukeurige opvolging van die gebooie daarna moet strewe om reeds hier op aarde netso volmaak te word as die Vader in die hemel, dan sal julle ook kan doen wat Ekself nou doen en nog groter dinge. En wanneer julle jul in hierdie toestand bevind, is julle reeds tydens die lewe burgers van die nuwe Jerusalem. Dit is dus die betekenis van die derde verskynsel. Het julle dit goed gehoor en begryp?”

[14] Hierdie uitleg van My oor die derde verskynsel verwonder almal baie en hulle dink `n rukkie diep na, maar wis tog nie presies in hoeverre hulle hierdie laaste uitleg goed of miskien tog nie heeltemal begryp het nie.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205