Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 57

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die Jakobsleer. Oor die wese van die droom. Die siel aan die anderkant

57 Nikodemus sê: “Majesteit en Heer van ewigheid, nou sien ek eers werklik volledig in dat U alleen waaragtig die Messias is, die Gesalfde van God wat in Sy volheid in U woon! Want nog nooit het `n profeet so op hierdie aarde onderrig nie. Noudat U ons egter al soveel onthul het, wil U ons nie, as dit U heilige wil is, ook nog opheldering gee oor die hemelleer van vader Jakob, waarop ook engele tussen hemel en aarde opgestyg en neergedaal het. Uit hierdie visioen was dit nooit baie duidelik vir my gewees wat JaHWeH, wat bo aan hierdie leer gesien word, aan Jakob wil sê nie. Want Jakob het hierdie droom beslis veel beter begryp as ek, en omdat ons tot nog toe geen verdere uitleg oor daardie visioen van hom oorgelewer is nie, - Heer, terwille van my groot liefde vir U, vra ek U daarna!”

[2] Ek sê: “Wat Jakob in sy droom gesien het, was presies wat Ek julle almal nou meer as duidelik genoeg uitgelê het. Die leer is die band tussen die hart en die verligte kop van die mens. Die hart is hier eweneens die aarde wat Jakob sien en wat destyds ook in hom, toe hy hom in groot nood en verleentheid bevind het, te woes, verlate en sleg verlig was. Maar juis in hierdie toestand het hy baie aan God begin te dink, en hy het nagedink oor wat hy moontlikerwys kon gedoen het dat God hom in sulke groot probleme laat kom het. Toe slaap hy buite op die veld en sien in homself die verbinding tussen sy hart-aarde en die lighemel in sy kop. Toe sien hy hoe die gedagtes, idees en begrippe van sy kop soos langs `n leer afdaal na sy hart, haar verlig en troos, en so, deur die verhoogde liefde van die hart self lewendiger en versterk weer omhoog na God styg om daar weer meer en sterker verlig te word. En as jy nou na die hele verloop van Jakob se lewe kyk, dan sal jy sien dat hy van toe af aan steeds meer aan God gedink het en ook steeds strenger volgens die wil van God geleef het.

[3] Deur die gedenkwaardige droom word ook aangetoon hoedat daar uit Jakob `n leer sou voortkom as `n ware verbond tussen sy nakomelinge en God, waarop die kinders van God in die nou eens stygende en dan weer afnemende kennis van God sou toe- en afneem, en dat, op die hoogste punt van die leer wat hy sien, JaHWeH Self Hom in My persoon as mens sou openbaar en die ou verbond sou vernuwe en dit deur en deur tot die mees lewende waarheid sou verhef.

[4] En so is nou aan jou en julle almal ook die Jakobsleer dubbel en dwars uitgelê en nou weet julle wat julle alles werklik geestelik onder die begrip “engel van God” moet verstaan. Maar tog vra Ek julle terwille van julleself, of julle dit alles goed begryp het.”

[5] Nikodemus sê: “ Vir my het ook hierin `n groot lig opgegaan, en dit is so en kan nie anders wees nie; maar wat hierdie sigbare engel betref, is dit die vraag of hy reeds `n werklike op sigself staande realiteit is - of is hy slegs `n so deur U vasgehoue gedagte, voortkomend uit U Liefde, Wysheid en Almag?”

[6] Ek sê: “Dit is werklik `n kinderlike vraag van jou! Ek sê jou dat die engel - netsoos jy en alle mense en die hele eindelose skepping - albei tegelyk is, omdat daar in die hele oneindigheid geen ander werklikheid buite My bestaan as net My gedagtes, idees en begrippe nie. Hulle word deur My liefde tot lewe gewek en deur My wil vir ewig in stand gehou en vasgehou. Maar wat Ek as God kan doen en van ewigheid gedoen het en ook verder ewig sal doen, sal julle ook eendag in My ryk kan doen.

[7] Dat daar sulke kapasiteite in julle mense aanwesig is, kan julle baie maklik en juis opmaak uit julle droombeelde, wanneer dit helder is, want daarin word julle innerlike gedagtes, idees en begrippe tot realiteite en word hulle lewend en kry hulle vorm; julle kan julle daarmee soos met egte objekte besig hou. Wel, julle weet natuurlik nie hoe dit met sy werking gaan nie, dat julle julleself in julle drome in `n baie gewone wêreld te midde van mense bevind, wat gereeld baie wys met julle spreek en wat alles doen nie; maar dit is voorlopig nie belangrik nie. As julle op die manier wat Ek julle dit uitgelê het in die gees uit My wedergebore is, sal julle alle geheime van julle lewe en die rede daarvan duidelik word; maar voorlopig kan julle dit as volkome waarheid aanneem, dat elke verskynsel in die lewe van die mens `n baie wyse en ware rede het, anders sou dit nooit as te nimmer in die mens te voorskyn gekom het nie.

[8] Wanneer die mens liggaamlik sterf, leef die siel weliswaar wat haar wese betref ook in die ruimte, maar het dan geen ander wêreld tot ondergrond en woning as die, welke sy vir haarself geskape het nie, en het met hierdie uiterlike wêreld geen meer wesenlike verbinding nie, omdat sy in haarself maar al te duidelik insien dat die hele materiële wêreld niks anders as `n noodsaaklik en moeilik draagbare oordeel is nie, en dat `n vry en ongebonde lewe oneindig veel aantrekliker is as `n lewe wat aan alle kante gebonde is.”

[9] Toe sê Nikodemus: “Heer, wanneer ek dus eenmaal gesterf het, sal my voortlewende siel niks meer van hierdie aarde te siene kry nie, maar in haar selfgeskape wêreld verder lewe, - en tog is daar op en in hierdie aarde nog baie wat `n siel wat na hoër kennis verlang, graag nog beter sou wil leer ken het! Ons kyk byvoorbeeld gereeld met groot verlange na die sterrehemel en sou wil weet wat die maan, die son, die planete en alle ander sterre is, en ons sou ook die dieptes van die seë wil deurgrond. Maar as die siel na die dood maar net in `n ligte, uit haar fantasie ontspruite droomwêreld sal lewe en handel, en alleen met sulke skynbare menslike gestaltes sal omgaan, wat ook maar net produkte van haar eie fantasie is, dan sal dit volgens my mening, aan die ewig voortlewende siel, gestel dat sy haar aan alles sal bly herinner, geen al te groot genoeë kan skenk nie. Natuurlik, as aan die siel by die aflegging van die liggaam die herinnering slegs in soverre gelaat word soos in `n helder droom, waarin mens meestal sy “ek” herken, maar hom daarby niks of slegs baie weinig werklike dinge van hierdie aarde herinner, dan kan so `n siel natuurlik wel baie aangenaam voortbestaan, want na dit wat volledig van haar, saam met die liggaam ontneem word, sal sy ook nooit meer na terug verlang nie. Ek praat nou netsoos wat ek dit vir my voorstel, maar ek vra U ook in dié opsig om nadere uitleg.”

[10] Ek sê: “Dat jou kennis in hierdie dinge nog baie beperk is, sien Ek maar al te duidelik in; maar jou voorstellings oor die lewe van die siele na die aflegging van hulle liggaam is nog leër, duisterder en swakker as jou gevoelens en innerlike waarnemings. Sê My eers: waar en wanneer sien `n mens met sy natuurlike oë meer: in die nag in `n donker kerker of op `n klaarligte dag op `n aan alle kante vrye en hoë berg? En as iemand, wie dit aan niks ontbreek nie, hom in volledige vryheid met sy beste vriende op die berg bevind, sal hy dan dalk terugverlang na die ou, duister kerker om die donker hoeke en gate daarvan te ondersoek en te bestudeer? Dink eers oor hierdie vraag van My na - luister eerlik na jou gevoel, en gee My dan antwoord, dan sal Ek jou daarna `n helderder lig gee oor jou vertwyfelinge!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205