Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 71

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die wese van die gees

71 (RafaEl): “Maar omdat ons nog tyd het, sal ek julle nog iets anders laat sien, want anders sou julle nog op die gedagte kan kom dat ek my maar net met klippe besighou. Sien, die pilaar staan goed daar en hy sal eeue lank op die plek bly staan, en duisend jaar behoue bly deur die standvastigheid van my vrye wil! Maar om veral julle Romeine te laat sien dat absoluut niks vir `n gees onmoontlik is nie, sal ek op die plek waar die geweldige granietpilaar vroeër uit lug ontstaan het, `n groot dadelboom, ryk belaai met ryp vrugte, laat staan met twee vyebome daarnaas, wat ook geen gebrek sal hê aan ryp vrugte nie.

[2] Sien, ek sê en wil dit, en die genoemde bome, ryklik met vrugte belaai, staan al op die plek! Gaan daar nou almal daarheen en proe die genoemde vrugte, ek dink dat dit vir julle almal baie goed sal smaak!”

[3] Toe staan elkeen op om die wonderwerk te gaan ondersoek. Almal sê dat hulle nog nooit edeler en volmaakter vrugte van hierdie soort geproe het nie.

[4] Die engel sê: “En nou sal ons daar op die groene weide voor die huis van ons ou, liefdevolle vriend en broer Lasarus nog `n dosyn skape uit lug skep! - Kyk, daar is hulle almal al gesond en wel ter plaatse en is die eiendom van die liefdevolle Lasarus!

[5] Daarby dink ek egter ook, dat julle deur hierdie teken nou wel sal insien waartoe `n suiwer en volkome gees met `n vrye wil alles in staat is. Dink `n bietjie daaroor na en sê vir my wat julle daarvan begryp het, dan sal daar vir julle `n nog groter lig deur die Heer gegee word! Dink nou dus goed oor alles na!”

[6] Agricola sê: “O, my vriend uit God se hemel, as ons ons al in jou verhewe sfeer sou bevind, sou dit wel maklik wees om daaroor na te dink, maar ons lewensweg daarheen kan nog wel aardig lank wees! Wat jy, hemelse vriend, deur die barmhartige toelating van die Heer aan ons geopenbaar het, kan ek, altans vir sover `n mens daartoe in staat is, begryp; maar hoe die standvastige wil van die gees nou eintlik die mees uiteenlopende elemente bevattende stof van die materie van die hele aarde is en kan wees en selfs van die ander wêrelde in die eindelose ruimte, dit kan ons onmoontlik so duidelik begryp soos jy, o hemelse vriend.

[7] Die materie is dus niks en die siel, in `n sekere sin `n produk van die materie, is op sigself ook niks; slegs die suiwer gees is as sodanig werklik iets. Uit watter stof bestaan `n suiwer gees dan in en op sigself, of wat is hy? Dit is `n vraag wat `n sterflike mens nooit volledig sal kan beantwoord nie, solank hy nog maar net vanuit sy minstens nog half stoflike siel en vanuit sy stoflike liggaam dink en wil, en self nie byna heeltemal geestelik geword het nie. En, hemelse vriend, sodoende moet jy wel `n bietjie geduld met ons hê! Want ondanks die wonders wat jy so pas daar gedoen het, begryp ons jou verklarings, met betrekking tot hierdie uiters tere lewensvraag, nie heeltemal nie. Jou uitleg verskaf ons nog nie voldoende lig om helder te begryp wat se stof die lewende suiwer gees op sigself is en watter iets dit eintlik is nie.

[8] Ja, die woord “gees” is vinnig en maklik uitgespreek, maar wat moet jy daaronder verstaan? Daarom het dit vir ons geen sin om kort of lank daaroor na te dink nie, dit is ook volkome vrugteloos, en jy, beste hemelse vriend, kan ons maar eerder weer duideliker uiteen lê wat die eintlike wese van die suiwer gees is, tenminste, as ons onbegrip nie vir jou te lastig word nie.”

[9] RafaEl sê: “Om God bo alles lief te hê en julle mense te dien, wat geroep is om netsoos ons, suiwer geeste, Sy kinders te word, is immers ons hoogste geluk en saligheid! Hoe kan iets wat julle nog `n groter lig kan gee, dan vir my lastig wees? Let dus goed op wat ek julle nog verder oor die wese van `n suiwer gees gaan meedeel!

[10] Uiteindelik is slegs God die allersuiwerste en suiwerste oorspronklike gees van alle geeste, en Hy is as sodanig dan ook die oerstof en die ewige oerelement van alle oerelemente.

[11] Die suiwer gees in haarself as stof en element is `n vuur en `n lig, of in haarself die liefde en die wysheid self. Daaronder moet julle jul egter geen stoflike vuur en geen wellustige liefde voorstel nie, en dus ook geen lig soos byvoorbeeld van die aardse son of `n brandende lamp nie - alhoewel daar `n ooreenstemming tussen beide bestaan - want die vuur van die gees is suiwer lewe en die lig daarvan is wysheid.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205