Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 86

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die vermomde tempeldienaars by Lasarus

86 Toe almal voldoende geëet en gedrink het, kom daar `n dienaar van Lasarus en sê: “Heer van die huis, daar staan `n aantal mense buite wat alleen met U wil praat! Ek dink dat dit Bethlehemiete is, hulle sien egter baie behoeftig en armsalig daaruit. Wat wil U hê moet ek doen!”

[2] Lasarus vra My: “Heer wat kan hulle van my wil hê? As U my eers `n aanduiding kan gee, sal ek makliker met hulle kan praat.”

[3] Ek sê: “Vertrou hulle nie! Dit is geen Bethlehemiete nie, maar verklede tempeldienaars, wat baie netjies en hoflik van jou wil verneem of jy dalk weet waar Ek My bevind. Hulle sal jou die versekering gee dat hulle leerlinge van My wil word as hulle maar geweet het waar Ek My bevind. Onder hulle mantels het hulle egter toue en swaarde om My te vang en vas te bind en dan voor die Hoë Raad van Kajafas te sleep. Die slegte owerspelige (vermengde) soort daar benede het, noudat die volk hulle meerendeels versprei het, weer moed gekry om My ten gronde te rig; maar My tyd het nog nie gekom nie. Gaan jy dus nou saam met RafaEl na buite, dan sal jy wel in die mond gelê word wat jy moet sê; RafaEl sal dan wel dieselfde doen.”

[4] Daarop gaan Lasarus vinnig met RafaEl na buite en sien in een van die eerste tente ongeveer twintig manne wat op hom sit en wag.

[5] By hulle gekom, staan hulle op van hulle sitplekke af en een van hulle, as die woordvoerder sê, nadat hy `n diep buiging gemaak het: “Beste, goeie vriend! Ons almal kom uit die omgewing van die ou stad van Dawid en het vanweë die verskriklike teken wat in hierdie nag te siene was, nog voor middernag vertrek en vinnig hierheen gekom om van `n wyse man te hoor wat ons moontlikerwys te wagte sal wees. Vir dié doel het ons dadelik na die tempel gegaan, wat oop was, en daar verneem ons die een en ander, wat ons beslis nie gerusgestel of bevredig het nie. Maar daar verskyn toe al die volk in die tempel al baie ongeduldig geword het, `n baie ou rabbi, wat die volk toegespreek het, en die meeste skuld afskuif op die tempeldienaars en hulle slegte gedrag ten opsigte van die leer van Moses, wat vir ons almal maar al te duidelik die volle waarheid was. Ten slotte begin hy oor `n sekere profeet, Jesus uit Galilea te spreek, waarby hy taamlik onomwonde sy vermoede uitspreek dat hierdie Nasarener die beloofde Messias was. En kyk, die hele volk juig hom toe en staan hom sonder meer by!

[6] Toe dink ons by onsself: “Die ou man het die volle waarheid gespreek!”, en ons neem die vaste besluit om Hom, die Nasarener, te gaan opsoek om moontlik Sy leerlinge te word. Ons doen al sedert vanmôre navraag na die plek waar hy Hom op die oomblik uiteindelik sou kan bevind, en het van iemand wat ons vaag ken gehoor dat u ons verseker daaroor kon inlig, omdat die Profeet, netsoos bekend, `n spesiale vriend van u huis is en u dus, netsoos gesê, die allereerste sou wees om te weet waar die groot man van God Hom nou bevind. As u daaroor betroubare gegewens of informasie het, wees dan so vriendelik om dit aan ons mee te deel, sodat ons dan dadelik daarheen kan gaan om ywerige leerlinge van Hom te word!”

[7] Lasarus sê baie ernstig: “Julle weet dat ek vroeër `n getroue aanhanger en `n steunpilaar van die tempel was; maar deur die hebsug, wat ten opsigte van my steeds maar toeneem, wil die tempel ten slotte bykans alles van my afneem en my volledig tot die bedelstaf bring. Toe al my teenvoorstelle, hoe redelik en verstandig ookal, niks meer bereik het nie, het daar vir my niks anders oorgebly as om die Romeinse burgerskap heeltemal aan te neem en my volledig onder Romeinse beskerming te stel, om veilig te wees vir die hand oor hand toenemende vervolging van die tempel, sodat ek nou elke aanval van die kant van die tempel met die swaard van Rome kan afslaan. As julle my ook maar met één gewelddadige vinger van die tempel sou aanraak, staan julle môre voor die onverbiddelike streng Romeinse regters en sou julle waarskynlik met die dood bestraf word, dink maar goed daaraan; want so staan dit in my Romeinse beskermbrief. Ek sê dit maar net vooraf vir julle om ietwat makliker met julle oor die eintlike saak te kan praat.

[8] Kyk, julle hele, meer as skandelike, leuenagtige verhaal was baie goed gebring en netsoos voorheen baie netjies uitgedink; maar julle het daarby vergeet dat Lasarus by elke mens in staat is om oombliklik te deursien wat hy eintlik heimlik in die mou voer. En dus het ek dan ook dadelik deur julle gesien en maar al te duidelik ontdek wie se geesteskinders julle is.

[9] Julle sê dat julle uit die omgewing van die ou stad van Dawid kom, - maar in werklikheid kom julle van hier, en elkeen weet dat julle die mees omkoopbare dienare is van die heers- en hebsugtige fariseërs! Met welke reg en om welke rede trag julle om my dan so ontsettend te belieg? Julle maak asof julle op soek is na `n sekere Jesus van Nasaret, en julle het swaarde en toue by julle om die Profeet moontlik so te gryp en hom dadelik te wurg of voor julle Hoë Raad te sleep. Is dit `n manier om so hier by my, Lasarus, aan te kom? Wag maar, die duiwelse vermetelheid van julle sal vir julle as les vir julleself en vir julle Hoë Raad duur te staan kom! Saam met die Hoë Raad is julle die mees goddelose vervolgers wat daar is, en hierdie brutaliteit is te veel om as Romeinse burger ongestraf te laat!

[10] Sê my welke duiwel julle opdrag gegee het om my, Lasarus van Betánië, wat tog deur elke mens geken en geag word, tot verraaier te maak van `n Mens met goddelike gawes, die allerbeste, eerlikste Mens wat ek ken! `n Vyand van my huis het ek dit nog nooit aangedoen nie en sou ek dit aan die beste en onskuldigste Mens aandoen, omdat Hy julle boosaardige leuenpolitiek al te veel in die weg staan, en die mense wat deur julle van God afgedwaal het, weer tot God terugbring, en hulle weer bekend maak met die waarheid wat al so lank ontbeer is? Praat, ellendelinge! Waarom het julle my dit aangedoen? Wie het vir julle gesê dat ek die beste sou weet waar die Verlosser uit Galilea Hom êrens sou ophou?”

[11] Daarvan skrik die verklede geregsdienaars geweldig, en die vroeëre woordvoerder sê: “Hoe kan u dit van ons beweer nog voordat u ons van naderby gehoor het?”

[12] Lasarus sê luid en heftig: “Wat, wil julle dit nog bestry, dat julle godvergete leuenaars en geregsdienaars is? Wag maar, dit sal julle nog duurder te staan kom! Ek is iemand wat oral herberge besit en nog nooit van `n arme reisiger kosgeld gevra het nie. Volgens die Romeinse wet moet ek aan elke reisiger gasvryheid verleen, of dit nou `n Judeër is of een of ander heiden. As ek dan ook aan die profeet Jesus uit Galilea eens onderdak verleen het, hoe kan julle my dan daarvoor tot verantwoording roep? Ek doen as Judeër - en nou as Romeinse burger - steeds my plig, en verdien dit nie om deur sulke ellendige skepsele soos julle ondervra te word nie!

[13] Julle het die groot teken in die afgelope nag goed gesien, wat tog van so `n aard was dat dit die harte van elke mens met groot angs moes vervul, maar julle dierlike harte het verstok gebly, en saam met julle Hoë Raad het julle die bose moed reeds vandag, op die eerste dag na die verskriklike voortekens, om sonde op sonde te stapel! Maar ek sal julle daarvan oortuig dat ek nie ten onregte aan julle gesê het, wat ek gesê het nie!”

[14] Toe sê Lasarus aan RafaEl: “Ontmasker hierdie godslasteraars, dan kan ons hulle nog duideliker laat sien wie se geesteskinders hulle is!”

[15] RafaEl gaan daarop voor die twintig geregsdienaars staan en sê aan hulle: “Plaas julle jul mantels neer, volgens die wens en wil van Lasarus, anders sal ek dit doen!”

[16] Die woordvoerder sê: “Dan sou daar wel baie van sulke fyngeboude jongelinge soos jy moet kom, voor hulle ons sou kan dwing om ons mantels neer te sit. Begryp, jy melkmuil van `n jong man?”

[17] Toe sê RafaEl: “Goed dan, omdat julle dit op my krag wil laat neerkom, wat julle dink baie nietig is, sal ek hierdie krag ook gebruik en ek sê: Weg met julle mantels, wat julle swaarde en toue vir ons verberg!”

[18] Nouliks het RafaEl dit gesê, of die mantels was ook al volledig vernietig, en die twintig staan nou so verdoof daarby, asof hulle deur die bliksem getref was; want so `n manier van ontmaskering het hulle nog nooit meegemaak nie.

[19] Daarop sê Lasarus: “Wil julle nou ook nog beweer dat julle Bethlehemiete is, en dat julle hierheen gekom het om te verneem waar die Verlosser uit Nasaret Hom bevind, om Hom te volg en sy leerlinge te word? Julle is mooi leerlinge, wat met toue en swaarde volg, en wat op hulle kleding die kenteken dra van die knegte en geregsdienaars van die tempel en die Hoë Raad! Wat wil julle nou doen? Julle is in my mag en hierdie jong man is in staat om julle almal net so te vernietig as wat hy julle armsalige mantels vernietig het! Daarom vra ek julle nog één keer: Wat sal en wil julle nou doen?”

[20] Die woordvoerder sê nou met `n bewende stem: “Luister na ons, vader Lasarus! Ons lê hier ons wapens en toue neer, en gee ons in barmhartigheid en onbarmhartigheid aan u oor. Ons is sleg en miserabel, maar nie soseer deur eie wil nie, alhoewel deur die Hoë Raad, wat ons moes dien teen `n maer loontjie. Van geboorte af aan is ons al baie arm en ons het nooit die geleentheid gehad om iets beter te leer nie; maar omdat ons sterk en kragtig geword het, het mense ons weldra vanuit die tempel tot daardie een gemaak, wat ons nou helaas is. As ons van die tempel sou kon loskom en êrens anders werk sou kan kry, sou ons sekerlik baie gelukkig wees. Dat ons onsself helaas so duiwels slu gedra het teenoor u, was ons so deur die Hoë Raad opgedra; maar uit ons self het ons dit nooit gedoen nie. En nou kort en goed, ons is u gevangenes, en doen u nou maar met ons wat u wil! Ons het die krag van die jong man ondervind, waarteen ons niks kan inbring nie, en dus gee ons ons volkome aan u oor. Nooit sal ons die tempel meer dien en ons sal nie die hand slaan aan die Verlosser uit Nasaret nie!”

[21] Lasarus sê: “Skeur dan die kwade kentekens van julle klere af en gaan na die omgewing van Bethlehem, waar ek ook baie grond besit, tree daar in my diens, dan sal julle beter beloon word as in die tempel! Om te sorg dat julle daar deur my saakwaarnemer aangeneem word, kry julle van my `n bewys van indiensneming, waarvoor my jong vriend hier dadelik sal sorg.”

[22] Toe Lasarus klaar gepraat het, het RafaEl die teken ook al byderhand, en toe die twintig die tempelteken van hulle klere afgehaal het, gee Lasarus hulle die bewys dat hulle in sy diens geneem was. Bowendien gee hy elk van hulle sewe muntstukke as reis- en verblyfgeld tot by hulle nuwe plek van bestemming en sê: “As julle goed vir my werk en volgens die ware gebooie van Moses lewe, kry elk van julle, behalwe kos en inwoning, jaarliks nog honderd silwerlinge loon. En gaan nou op weg sodat julle nie te laat in die nag aankom nie! Binnekort sal ek self daarheen gaan en sien hoe julle in my diens presteer.”

[23] Almal bedank hom, begewe hulle vinnig op pad en loop baie gemoedelik na Bethlehem. Onderweg breek hulle hulle daar natuurlik die hoof oor, wie wel die tengerige en tog so wonderbaarlik kragtige jong man kon wees, en hulle bespiegel oor alles.

[24] Maar die woordvoerder sê: “Al ons vermoedens is sinneloos en lei tot niks; wanneer Lasarus na ons toe kom, sal hy wel iets daaroor sê!”

[25] Daarmee was hulle woordestryd verby, en die twintig loop rustig verder.

[26] Maar Lasarus laat deur sy bediendes die swaarde en toue binnenshuis bring en kom daarna met RafaEl weer by Ons in die eetsaal.

[27] Toe hulle by Ons is, sê Ek aan Lasarus: “Jy het jou opdrag goed uitgevoer, waardeur twintig siele aan die hel ontruk is; maar die Hoë Raad sal nie aan die hel ontruk word nie! Die woordvoerder sou die Hoë Raad berig gestuur het van alles wat hy hier oor My te wete gekom het, en eers daarna sou hy verdere aanwysings vir My gevangeneming gekry het. Maar omdat geeneen van die sluwe geregsdienaars, op wie se berig die Hoë Raad nou al met groot spanning wag, hulle nog ooit weer in die tempel sal laat sien nie, is die plan van die Hoë Raad voorlopig vir `n tyd verydel. En dit moes nou juis bereik word, en alles word so toegelaat om dit te bereik, wat nou bereik is.

[28] Maar wat sal die Hoë Raad nou doen? `n Gedeelte sal na die middagmaal na Nikodemus in Emmaus gaan, om ook iets oor die derde teken te hoor; maar Nikodemus, die ou rabbi en `n sekere oudste, Josef van Arimatea, is baie verstandige mense, en die afvaardiging van die Hoë Raad sal daar nie maklik iets te hore kry wat in hulle snode kraam te pas sal kom nie. So staan die sake nou, en so is dit goed. Ons gaan nou weer na buite om op die plek waar Ons vanmôre was, die hele middag, tot aan die aand toe, ongestoord deur te bring!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205