Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 95

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die drie towenaars uit Indië en hulle wonders

95 Maar nou kom daar weer `n bediende van die herberg wat aan Lasarus sê: “Heer van die huis, daar het drie manne na bo gekom wat u wil spreek! Wie hulle is en wat hulle wil, weet ek nie; maar so te sien is dit mense uit die môreland.”

[2] Lasarus sê: “Ek gaan nie na hulle toe nie; maar laat hulle hierheen kom en my ter plaatse vertel wat hulle wil! Gaan, sê dit vir hulle, en bring hulle hier!”

[3] Toe gaan die kneg weg en sê dit aan die drie vreemdelinge.

[4] Die drie besluit om dit te doen en kom baie gou saam met die kneg na Ons toe.

[5] En Lasarus gaan hulle volgens Judese gebruik sewe treë tegemoet en sê: “Wat wens julle, en wat verlang julle van my? Ek is naamlik die eienaar van hierdie herberg. Spreek!”

[6] Een van hulle sê baie vriendelik: “Heer, ons is drie buitengewone towenaars en tewens kunstenaars uit Indië en sou hier in hierdie stad `n paar voorstellings wil gee om ons losies te verdien, want ons is van plan om nog verder na die weste te trek en daar, so ongeveer aan die einde van die aarde, die ondergaan van die son, van die maan en van die sterre te ondersoek. Ons hoor egter al ver hiervandaan, dat u een van die rykste mense van hierdie groot stad is en bowendien `n buitengewoon groot vriend is van alles wat uitsonderlik en wonderbaarlik is; omdat mense ons dus hierheen verwys het, het ons dan ook die moed gehad om u te kom vertel wat ons van plan is om te doen. Sou u instem dat ons hier nou, maar net by wyse van `n proef, voor u en al u gaste `n paar wonders doen?”

[7] Lasarus sê: “Ja, my gewaardeerde kunstenaars, dit hang in die belang van my gaste nou nie van myself af nie, maar veeleer van hierdie buitengewoon hooggeëerde gaste! Ek sal eers met hulle praat en julle dan hulle wil meedeel.”

[8] Daarmee stem die drie towenaars in, en Lasarus vra My wat hy nou moes doen.

[9] Ek sê: “Laat hulle maar `n paar staaltjies van hulle kuns vertoon, sodat die Romeine, wat nog steeds iets buitengewoon in dergelike towery sien, baie duidelik die verskil leer ken tussen My dade en tekens, en die wonders van hierdie towenaars! Want dit sal `n groot invloed op hulle hê en hulle geloof in My versterk. Hulle sal môre dan ook makliker insien en begryp waartoe die ware mens, deur die krag van sy wil, alles in staat is en dat die towery heeltemal niks is nie vergeleke by die werk van die wil van `n ware mens. Gaan maar en laat hulle maar `n demonstrasie gee van hulle kuns!”

[10] Lasarus wend hom weer tot die towenaars en sê wat Ek hom gesê het, en kom daarop terug na My toe.

[11] Toe haal die drie towenaars hulle towerstokke uit hulle wye mantels, trek drie kringe om hulle heen op die grond en daarna ook in die lug. Die Romeine was heeltemal oë en ore.

[12] Die eerste, die hooftowenaar, begin te praat en sê met luide stem: “Kyk, hoë here, hierdie stokke kom van die wonderboom, wat maar baie selde op ons hoogste berge aangetref word! Wie dit geluk en die kennis het om so `n boom te vind en drie takkies daarvan op `n bepaalde tyd afsny, kan dan as hy die stok in sy hand hou, deur sy wil byna alles doen wat `n mens wil. Daarvan sal ons nou dadelik `n voorbeeld gee.”

[13] Toe haal een van hulle `n dooie voël onder sy mantel uit en sê: “Kyk, hier het ek `n voël, wat absoluut dood is! Ek sal hom nou in klein stukkies skeur, die stukke vervolgens tussen twee klippe so fyn moontlik maal, daarna aansteek en tot as verbrand en ten slotte met hierdie wonderstaf die nou volledig dooie voël weer heeltemal lewend uit die as te voorskyn haal en die voël sal dan, voor julle oë, lewend wegvlieg.”

[14] Daarna doen die towenaar wat hy gesê het. Die twee helpers steek met fosfor en `n paar harsige houtspaanders, wat hulle by hulle het, `n vuur aan. Die heeltemal fyngevryfde voël word vervolgens tot as verbrand, en die vernaamste towenaar buig hom met sy staf na die grond en begin onder die mompel van enkele onbegryplike woorde, met sy staf in die as te roer, en kyk, weldra huppel daar vanself die voël op die grond rond, wat baie gou wegvlieg!

[15] Toe vra die towenaar of ons tevrede was met die wonder.

[16] `n Romein sê: “Dit was iets baie besonders! Laat ons eers nog `n wonder sien, dan sal ons julle na tevredenheid daarvoor beloon!”

[17] Die towenaar sê: “U wens sal dadelik vervul word!”

[18] Daarop haal hy uit sy wye mantel `n bos totaal verdroogde blomme en sê: “Netsoos hierdie staf netnou in staat was om `n dooie en volledig verpulpte voël weer heeltemal lewend te maak, so sal hy ook hierdie verdroogde blomme weer dadelik lewend maak, en netso vars asof hulle in die tuin in vars aarde staan!”

[19] Vervolgens hou hy die blomme `n rukkie in sy linkerhand, stryk daar met sy staf oorheen, en kyk, die blomme word weer heeltemal fris!

[20] Toe laat hy, hom spesiaal tot die Romeine wendend, die volkome vars bos blomme sien en sê: “Kyk, deur die mag van my staf moet uiteindelik alles wat oud en verwelk is, verjong en `n fris, nuwe lewe gaan inadem! As die hooggeëerde gaste dit sou wens, sou ek nog wel `n klein voorbeeld van die mag van my staf laat sien, maar nog maar één, omdat ek die groot wonderwerke maar net voor duisende mense tot stand kan bring!”

[21] Die Romeine, behalwe Agricola, sê: “Ja, ja, dit was opvallend goed, en daarom kan jy ons nog wel `n derde voorbeeld laat sien!”

[22] Die hooftowenaar sê: “Dit verheug my baie om hier op hierdie mooi berg soveel begunstigers van die hoër, tot nou toe nog volkome onbekende, toorkuns te gevind het, en ek hoop dat die geëerde gaste ook my groot voorstellings sal wil bywoon. Ek sal dus die derde voorbeeld dadelik laat sien.”

[23] Toe haal die towenaar `n stuk brood uit `n sak van sy opperkleed en sê: “Elkeen van u kan hom daarvan oortuig dat dit `n egte stuk brood is, en tog sal ek dit deur my magspreuk en slegs deur die aanraak met hierdie towerstok in `n harde klip verander!”

[24] Sommige Romeine sê: “Dit sou egter baie uitsonderlik wees; want ons sien immers duidelik dat daar nog broodkrummels van die stuk brood op die grond val. Verrig dus maar jou wonder!”

[25] Toe raak die towenaar die brood met sy staf aan - wat eintlik vantevore al `n klip was, waarby mens egter gelyktydig broodkrummels op die grond laat val - en sê toe: “Geëerde menere, wil u nou die brood ondersoek om te sien of dit nog wel brood is?!”

[26] Met hierdie woorde gee hy die skynbare stuk brood aan die Romeine, wat hulle daaroor verbaas dat dit werklik klip geword het. En hulle wil die towenaar nou werklik behoorlik baie geld betaal.

[27] Maar Ek wink vir RafaEl, wat tussen die nog ietwat blinde Romeine en die drie towenaars gaan staan, en wat sy regterhand ophef en sê: “Nee, `n duidelik bedrog mag nooit beloon word nie, altyd sal dit baie nadruklik bestraf moet word, omdat `n dergelike bedrog hom die meeste daartoe leen om die siele van die mense gevange te neem en te dood! Dit was valse wonders en julle blinde heidene, het niks van die bedrog gemerk nie. Maar ek sal julle dit dadelik laat sien!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205