Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 7
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 99

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221, 222, 223, 224, 225, 226, 227, 228, 229, 230.

Die geroep van die Indiërs na God word nie verhoor nie

99 RafaEl sê: “Ek is nie boos vir julle nie, want ek weet goed hoe julle is; maar dit sê ek vir jou, en onthou dit goed, dat God op Homself die ewige Waarheid en Wysheid Self is en Hom daarom nooit deur een of ander manier van bedrieëry laat vind en begryp nie; want God is gewyd. Bedrog is egter - in watter vorm ookal en om welke beweegredes dit ookal gepleeg word - op sigself onheilig, daarom verdoemenswaardig en `n heilige God geheel onwaardig.

[2] Wie God as die hoogste waarheid wil soek en vind, moet Hom in alle deemoed en waarheid van sy hart soek en dan sal hy Hom so ook vind; maar met allerlei leuens en bedrog, laat God hom nooit vind nie!

[3] Julle het immers ook reeds van ouds geheime wyse manne in julle land, wat julle Pirmanji noem. Hulle ken ook nog die een, ware God. Waarom wil julle jul dan nie deur hulle oor God laat onderrig nie?”

[4] Die hooftowenaar sê: “Ons weet wel dat hulle `n dieper wysheid en kennis besit; maar wie kan daar by hulle kom? Hulle bewoon streke wat slegs vir adelaars toeganklik is, maar verder vir geen sterfling nie. Ons weet maar net dat hulle hulleself êrens in die dale van die hooggebergte bevind; maar waar, dit is `n ander vraag.

[5] Wel het ons daar al `n paar persoonlik leer ken en ook met hulle gepraat; maar met al ons slimheid kon ons niks van hulle te wete kom nie. Ons het hulle egter herken, omdat hulle ons presies kon vertel wat daar sedert ons kinderjare met ons gebeur het, en hulle voorspel ook die toekoms, wat daar nog met ons sou gebeur, en dit was al tien jaar gelede. En kyk, alles wat hulle vir ons voorspel het, het nou woordeliks uitgekom!

[6] Toe ons egter met hulle begin te praat oor die bestaan van `n ware God, ontwyk hulle die vraag en gee ons geen duidelike antwoord nie. Ons dring toe ernstig daarop aan by hulle en gee hulle te verstane dat hulle in ons mag is.

[7] Toe sê hulle: “Ons bevind ons in die mag van die enigste ware God, en geen enkele mag van hierdie wêreld gaan daardie mag te bowe nie!”

[8] Daarna verlaat hulle ons skielik en verdwyn letterlik voor ons oë. Daarby het ons wel gewen, wat ons in elk geval `n sterker vermoede van die bestaan van `n ware God gee, maar van enige duideliker begrip oor Hom was daar geen sprake nie.

[9] Maar netsoos dit met ons gegaan het, het dit ook met ons hoëpriester gegaan; want hy weet net soveel as ons. Daarom stuur hy ook bykans elke jaar `n aantal van die bekwaamste onderpriesters die wêreld in om betroubare informasie oor die enigste ware God te kry, oor wie in ons ou boeke staan: Ja seam skrit (Ek is verborge). Maar waar? Dit is die ewig fatale rede dat ons die Verborgene steeds soek en nêrens vind nie. Ons volk het dit maklik, want hulle glo vas en seker dat Hy op ons hoë, onbeklimbare, heilige berg in `n goue paleis verborge is, en die volk word ook steeds deur ons wonders in daardie geloof versterk; maar waar is die enigste ware God vir onsself verborge? Dit is `n ander vraag!

[10] Ons het Hom reeds in alle uithoeke van die aarde, wat maar enigsins vir ons toeganklik was, gesoek, ons het vele seldsame dinge gevind, maar die Verborgene het ons tot nou toe nog nie gevind nie. En tog lyk dit op die aarde, in die lug en ook tussen die sterre soos `n huis, waarvan die inrigting duidelik aantoon dat dit `n baie goeie en wyse Huisvader het. As mens egter na Hom vra en Hom self van naderby wou wil leer ken, is Hy nooit aanwesig nie, en niemand kan hom daarop laat voorstaan om Hom ooit te gesien het of mee gepraat het nie. En tog moet Hy êrens wees en vir die orde in Sy huis sorg. - En, jong, wyse vriend, nou het ons eers by die regte punt gekom!

[11] Dit is nie so moeilik om met `n ernstige gesig `n trooster te wees vir `n mens in nood of mettertyd vir `n hele volk nie, terwyl mens self altyd, tot aan die laaste asemtog elke troos moet ontbeer. En daarom kan geen enkele God ons - as daar êrens een is - kwalik neem dat ons, as van ouds beproefde troosters van die volkere, ten slotte ook vir onsself ware troos soek nie, wat ons reeds onvoorstelbaar lank aan die arme, blinde volk gegee het. Dat ons hierdie troos vir onsself, netsoos jy sê, met die mees ongeskikte middele soek, betwyfel ons gladnie; maar hoe kan ons weet wat die eintlike ware middele is?

[12] Jy het ons nou weliswaar goed aangetoon dat God, as die ewige oerwaarheid, Hom ook maar net deur die waarheid laat vind. Dit, lieftallige vriend, is baie goed en baie pragtig gesê; maar wat is die waarheid, en waar vind ons dit in hierdie wêreld?! Gelukkig is die seldsame mens wat van die waarheid ook maar enige vermoede het; maar waar is diegene wat haar volledig besit?! O, sê ons wie dit is, dan sal ons hom tot aan die einde van die wêreld volg en hom alle skatte van ons groot ryk aanbied sodat hy ons `n deel van sy geestelike skat kan aanreik!

[13] Jy kan nou egter van ons dink wat jy wil; maar dit sê ek jou nou baie openlik en vry, sonder enige reserwe - selfs op gevaar af dat jyself die Verborgene sou wees, wat ons al so lank soek. - Uiteindelik is die mens wat, met alle middele wat hy maar kan en wil bedink en ondanks alle moontlike lewensmoeilikhede wat daar maar op die wêreld is, volhardend die waarheid soek, ewe veel werd as - of miskien nog meer werd as - `n mens wat die geluk het om die waarheid deur een of ander onberekenbare toeval gevind het, maar haar vervolgens hardnekkig weerhou van sy arme medemens en hulle geestelik hongerig en dorstig laat verder gaan, terwyl hy hulle miskien met `n paar woorde vir duisende jare meer as voldoende kon versadig het. Ja, ek sê vir jou nog meer:

[14] Ons het juis die grootste twyfel aan die bestaan van die enigste, ware God, omdat ons Hom al so lank soek en Hy Homself nog steeds, netsoos duisende jare gelede, laat soek. Wat kan julle nou eintlik op ons voor hê omdat die ware enigste God Homself deur julle laat vind het? Wie kan eintlik weet of jy Hom ooit yweriger gesoek het as ons?

[15] Ja, vriend, met ons Indiërs is dit in die opsig wel moeilik te praat; want ons is nie van gister nie, maar netsoos wat ons nou is, is ons al sedert ondenkbare tye gewees. Dat ons nog steeds op die ou punt staan en miskien nog duisende jare op dieselfde punt sal bly staan weet ons, minstens wat die toekoms betref, nie heeltemal verseker nie. Maar dit is so, - mens kan egter nie sê dat dit ons eie skuld is nie!

[16] Gestel dat jy êrens `n groot skat versteek het en dan aan jou bediendes sou sê: “Gaan heen en bring die verborge skat na my toe terug! As julle hom vind, sal julle loon groot wees; vind julle hom egter nie, terwyl ek julle bowendien laat blinddoek, dan sal julle ewig daarvoor gestraf word!” O, dit sou egter `n soort regverdigheid wees wat jy selfs nouliks by ons tiers en hiënas sou kan vind!

[17] As daar `n God vol wysheid en goedheid is, wat dit van ons, onmagtige wurms van hierdie aarde sou verlang, dan sou dit vir die mense oneindig veel beter wees as hulle nooit geskape was nie. As iemand my die weg na `n onbekende plek vra, dan is dit my heilige plig hom welwillend die weg te wys, - en ek het nog nooit iemand geweier om, as dit maar netso kon, die weg te wys nie.

[18] As ons God en Sy waarheid egter met alle ywer en met alle middele wat ons ten dienste staan soek en voortdurend hardop in onsself roep: “God, Skepper en Heer, waar is U, Verborgene?”, en Hy ag ons nie die geringste antwoord waardig nie, dan is daar drie gevalle moontlik: of Hy bestaan gladnie en alles bestaan ewig volgens `n norm wat in die natuur vanself toevallig gevorm en vervolgens georden is, óf God is iemand wat Hom maar net bekommer oor eindelose groot dinge, óf God is `n wese wat so doof en gevoelloos is, dat die mense vir Hom dieselfde is as wat die myte op `n blaar vir ons en die ontelbare muggies in die lug is.

[19] En vriend, in hierdie drie gevalle het ons glad geen God nodig nie; want dan het die diere meer aan Hom as ons, armsalige mense, wat met harsings en verstand begaafd is! Dit bly egter merkwaardig dat Hy êrens moet wees, maar Hom tog nie deur ons laat vind nie.

[20] Wat het jy nou op my eerlike woorde te sê? Want ek het jou nou laat sien hoe en waarom ons tereg aan die bestaan van `n ware God twyfel. As jy wil, is die woord nou weer aan jou!”

 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205