Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 103

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die Romeine kom by die Heer aan

103 Hierop sê Lasarus: “Heer en Leraar! Dit is tog werklik jammer dat die baie weetgierige, opregte Romeine die baie besondere onderrig ook nie kon hoor nie! Wat sal ons vir hulle sê as hulle ons sal vra wat hier tydens hulle afwesigheid alles gebeur het? Mag ons hulle iets meedeel van die groot les oor die vinnige vlug van die kraanvoëls?”

[2] Ek sê: “As Ek dit vir hulle goed en noodsaaklik sou geag het, dan sou Ek sekerlik ook wel die eerste gewees het om daarvoor te sorg dat hulle daarby was; maar omdat dit voorlopig vir hulle nog nie nodig is nie, maar slegs vir julle weiniges, om die diepere geheimenisse van die ryk van God te ken, het Ek dit ook as iets besonders alleen aan julle weiniges getoon en onthul.

[3] Maar die Romeine het, net soos vóór hulle die Grieke, ook hulle duistere heidendom en afgodedom afgelei uit die onbegrepe ou leringe en voorspellinge van die ou Egiptenare, wat hierdie volkome waar afleidings uit die ooreenstemming tussen die sintuiglike en die geesteswêreld, en meer as die helfte van hulle priesters hou hulle besig met die verskynsels in hierdie natuurlike wêreld en baseer allerlei waarsêery daarop. Die oggende vroeg se vlieg van verskillende voëls is vir hulle baie bruikbaar daarby, net soos die bloed en die ingewande van die voor sonsopkoms geslagte diere, en eweso die wind, die gang van die wolke, die nagtelike stand van die sterre en die verkleuring van die hemel; ook steek hulle in die oggende `n vuur aan en maak ook allerlei waarsêery daaruit en laat hulle daarvoor deur jong en oud betaal. Wanneer die aanwesige Romeine My nou op die manier oor die vlieënde vlug van die kraanvoëls hoor praat het, dan sou hulle dadelik op ons afgekom het met ontelbare vrae oor baie verskynsels wat hulle meegemaak het, en waarvan daar na die waarsêery van hulle wiggelaars ook so nou en dan etlike uitgekom het, en ons sou dae lank werk hê om hulle ook maar die helfte volgens die waarheid tevrede te stel.

[4] As hulle ooreenkomstig My leer sal lewe en handel, sal hulle deur hulle gees immers ook in alle ander wyshede binnegelei word; maar as hulle ook sou weet wat Ek nou slegs aan julle toevertrou het, sou hulle tuis bykans niks anders meer gedoen het as om vol haas en gretigheid die verskynsels van die natuurlike wêreld waar te neem en dit probeer ontraaisel, want omdat hulle siel nog nie voldoende met hulle gees verenig is nie en in allerlei dwalinge verval, wat vir die ontwikkeling van hulle innerlike lewe werklik nie gunstig sou wees nie. Om die rede moet julle wat Ek julle uitgelê het, voorlopig vir julleself hou! - Maar nou sal hulle weldra by ons wees, omdat hulle van RafaEl gehoor het waar ons onsself bevind.”

[5] Ek het dit nog maar net vir die weiniges gesê, of daar kom die hele skare al uit die stad na buite toe, kry ons weldra in die oog en kom na ons toe.

[6] RafaEl lei egter volgens My wil die jeug op `n ander, grotere heuwel en hou hulle met hom besig. Toe hy die jonges die heuwel toon waarop Ek My bevind, val hulle almal op hulle knieë en loof en prys My van ganser harte as die goeie, liewe Vader. 

[7] En nou arriveer die Romeine en alle ander leerlinge ook. Slegs die enkele bekeerde tempeldienare, van wie die vroue en kinders hulle in Bethanië bevind, was nie daarby nie, omdat hulle deur hulle vroue en kinders gesien en bygevolg opgehou was, waaraan hulle niks kon doen nie; want Ek self het dit toegelaat, sodat ons dan die res van die dag deur hulle met rus gelaat sou word. Ons kom dan ook eers by die oggendmaal met die genoemde tempeldienare saam.

[8] Toe die Romeine eers op die heuwel na My toe kom, begroet hulle My baie liefdevol en Agricola sê: “O Heer en Leraar, hoe bly is ons tog nie dat ons U teruggevind het nie en dat ons nou sien dat U ons nie met U heilige persoonlikheid verlaat het nie! Daarvoor het ons almal al bang geword aangesien ons U nie in die huis aangetref het nie en daarna op die gedagte gekom het dat U met die weinige leerlinge miskien al dadelik vir die hele dag êrens heen gegaan het. U agtergeblewe leerlinge het selfs ons mening gedeel, omdat U gister om baie wyse redes niemand uitsluitsel wou gee oor wat U vandag sou onderneem nie. Na baie vrae en ten einde raad deel die heerlike RafaEl ons mee dat U nie ver weg is nie, en wel hier was. Toe vertrek ons dan ook ylings, en haas ons hierheen en vind U ook, tot ons troos. En nou is ons buitengewoon bly dat ons U, ons alles, gelukkig weer in ons midde het!”

[9] Ek sê: “So is Ek ook bly dat julle nog ruim voor sonsopkoms hier by My aangekom het; want aan die een wat aan My vreugde beleef en My liefhet, beleef Ek ook vreugde en het Ek ook lief.

[10] Maar daar sal tye kom dat die mense My ook sal soek, maar nie so vinnig en maklik sal vind soos nou by julle die geval was nie.

[11] Maar wie My ernstig sal soek in sy hart en in sy handel ooreenkomstig My woord, sal My ook vind en groot vreugde daaroor voel dat hy My gevind het. Wie My egter eenmaal gevind het, sal My ook nie meer verloor nie! Op bepaalde oomblikke, om sy liefde en geduld nog meer te beproef, sal Ek weliswaar so nou en dan My gelaat vir hom verberg, maar hom daarom nog nie verlaat nie!

[12] Heil egter aan diegene wat Ek baie sal beproef; want daaraan sal hulle sien dat Ek hulle besonder liefhet! Want wie baie beproef word en die beproewinge goed sal deurstaan, sal aan die ander kant in My ryk ook oor baie en groot dinge gestel word; maar wie minder beproef word, vanweë sy swakheid, sal ook oor minder en kleiner dinge gestel word.

[13] Maar almal sal julle ter wille van My Naam en die waarheid ook nog baie beproewinge te deurstaan kry, en julle geduld, wat in julle nog die swakste gees is, sal nie die vuurproef ontsnap nie. Maar wanneer dit oor julle sal kom, dink dan aan hierdie heuwel en dat Ek dit julle vooraf gesê het; maar bedink ook in julle hart dat Ek dan in die gees tot julle sal kom, julle sal versterk en baie kragtig sal help! Onthou julle dit alles ook baie goed! Want in hierdie dae en ook in die toekomstige tye ondergaan die ryk van God groot geweld, en hulle wat dit met geweld tot hulle trek, sal dit ook besit. In die toekomstige tye sal dit egter wees, soos Ek ook julle nou deur middel van `n gelykenis sal toon.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205