Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 120

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Oor die naasteliefde

120 Ek sê: “Daaraan sal julle baie goed doen! Maar nou sal Ek julle nog iets sê, en wel vir julle gemoed, in `n gelykenis: Gestel jy sou jouself vir `n bepaalde aangeleentheid en sake op `n ver reis begewe! Maar aangesien jy in vreemde lande is, baie dagreise van die huis verwyderd, kan dit gebeur - soos wat so iets ook deur toelating van bo al baie kere in die wêreld gebeur het - dat jy jou hele vermoë, wat jy op die lang en ver reis saamgeneem het, sou kwytraak en jou vervolgens in die vreemde land en in `n volkome vreemde plek heeltemal vertwyfeld sou raak, en jy sou dan baie treurig gestem en met `n droewige gesig in die vreemde plek rondloop. 

[2] Maar as iemand dit duidelik aan jou sou merk en vir jou sou vra: “Vriend, jy skyn baie treurig en terneergedruk te wees! Vertel my wat jou makeer!”  

[3] Jy sou dan vir hom van jou ongeluk vertel en daarop sou hy vir jou sê: “Vriend, kom, ek wil jou help; maar wees in die vervolg versigtig en bewaar die goed wat joune is! As jy my by geleentheid kan vergoed wat ek jou nou gee, dan sal jy goed optree; en sou jy dit nie kan doen nie, dan het jy aan my geen skuldeiser nie!” En daarna sal die man jou gee wat jy verloor het.

[4] Sê nou vir My en ook aan jouself hoe ongelooflik bly sou jy nie gewees het nie en hoeseer sou jy nie vir God en so `n edel mens daarvoor loof en prys nie; en as jy dan weer behoue sou terugkeer, sou jy dan nie alles in werking stel om jou dank uitermate teenoor so iemand en ook teenoor God te betoon nie?!

[5] Maar stel dit nou ook eers vir jouself voor van iemand anders, wat van êrens ver vandaan na jou toe kom en wie `n ongeluk oorgekom het, en wat hom vol droefheid voor jou welvarende herberg ophou, en huil en hy geen raad weet nie. As jy nou na buite sou gaan om hom te vra: “Vriend, jy is baie treurig en skyn in `n baie hinderlike situasie te verkeer? Wat skeel nou? Sê dit openlik aan my, want kyk, ek is iemand wat, vir sover dit binne my mag lê, bereid is om jou te help”, en die mens dan vir jou sou sê: “Ag, edele vriend, Ek het vir sake uit `n ver land hierheen gereis en is ver van hier deur diewe oorval, wat al my geld gesteel het, dit het bestaan uit twintig pond goud en bowendien nog duisend silwerstukke in die gangbare munt van die land, en nou staan ek hier sonder enige vermoë en ek weet, so ver van my land en huis, geen raad nie en weet nie waar ek hulp kan kry nie!” Maar as jy dan vir hom sou sê: “Vriend, kom, ek sal jou help! Jou naam, jou land en jou woonplek hoef jy my nie eers te vertel nie; maar hoe die land, hierdie plek en ook hoe ek heet, kry jy nog wel te hoor! As jy my die geld wat ek jou leen kan terugbring, sal jy goed daaraan doen in die oë van God en alle goeie en regverdige mense; en as jy dit nie sou kan doen nie, is dit ook in orde!”, waarna hy hom dan sou gee wat hy verloor het - hoe dink julle dat God `n dergelike daad van naasteliefde sou beskou en beloon? En hoe sou hierdie mens, wat jy weer gelukkig gemaak het, eenmaal tuis, hom nie in alle opsigte inspan om hom dankbaar en erkentlik te betoon, omdat jy hom sonder enige eiebelang so `n groot vriendskap bewys het nie?! En al sou hierdie mens, in die roes van sy aardse geluk, miskien nie aan jou dink nie, sal God jou dan nie in die geval honderdvoudig gedenk nie?

[6] Waarlik, wie sulke dade doen sonder eiebelang, maar uit suiwer naasteliefde, die is ook `n groot vriend van God; en is reeds op hierdie aarde gelyk aan die engele van die hemele en het die oorvloed van die ryk van God al in sy hart!

[7] Want `n arme uit `n ander land is honderd maal armer as `n arme in sy eie land, wat nog maklik hulp vind by al diegene wat sy nood goed ken; maar die arme uit `n vreemde land lyk soos `n onmondige kind wat sy nood aan niemand kenbaar kan maak nie, behalwe deur te huil. Wees daarom ook barmhartig teenoor vreemdelinge, dan sal julle ook in die hemel barmhartig opgeneem word; want vir die hemel is julle tot nou toe nog louter vreemdelinge, wat tydens julle aardse reis daarheen `n ongeluk oorgekom het! - Wat dink jy nou van hierdie woorde van My?”

[8] Die herbergier sê: “Heer en Leraar! Wat moet iemand soos ons nog daaraan toevoeg? Dit is `n suiwer waarheid en vir mense soos ons bly daar niks anders oor as die suiwer, goddelike betekenis daarvan in voorkomende gevalle ten uitvoer te bring nie. Want wie aan my goed sou doen as ek in `n vreemde land in nood sou raak, dan is ek dit ook `n vreemdeling in my land verskuldig! Want diegene wat in lande en ryke ver hiervandaan woon, is immers ook mense. Ook al het hulle ander gewoontes en `n ander geloof, dan moet mens dit volgens my mening geen rol laat speel nie en mens moet nie doen volgens die leer van ons Fariseërs, wat sê dat die ware Judeër alle heidene as honde moet beskou nie, solank as wat hulle in hulle heidendom volhard nie, - en dat die een wat `n heiden `n weldaad bewys die toorn van God op hulle hals haal en sy siel aan die duiwel verkoop. Hy moet hom liewer ook teenoor die heidene vriendelik betoon en hulle laat sien dat hy as Judeër `n goeie en vriendelik mens is; dan sal die heiden hom eerder vra: “Vriend, wat is die leer van jou geloof, waaruit sulke goeie mense voortkom?”, as wat ek my teenoor hom as `n harde en bowendien nog vyandig gesinde Judeër betoon.

[9] As ek ware vriendskap aan `n heiden betoon, dan is die gevolg daarvan tog nie dat ek self tot sy duistere geloof oorgaan nie, soos die Fariseërs ook sê, maar ek bly `n Judeër en het deur my vriendelikheid die heiden maar net die weg getoon waarlangs ook hy `n goeie Judeër kan word.

[10] Ware liefde en sagmoedigheid is vir alle mense beslis `n baie beter leraar en bekeerder as woede en wraaklus vir diegene wat hulle beslis sonder hulle skuld in die nag van die gees bevind! Soos dit ook seker uiters dwaas en onmenslik sou wees om `n mens, omdat hy die lig in sy oë verloor het, te haat, te vermy, te verag en geen liefde aan hom te betoon nie, so skyn dit my dwaser en erger te wees, as `n mens mense, wat in die gees blind is en hulleself nie kan help nie, en `n mens nooit moeite doen om hulle ook maar in die verte enige menslike vriendelikheid te betoon nie. 

[11] Dat ons Judeërs ons helaas teenoor vreemdelinge meestal hard en onvriendelik gedra het, kom tog deur niemand anders nie as deur ons priesters, wat liewer sou wil sien dat mense hulle al die beste vrugte offer en die vreemdelinge van kruisbessies sou voorsien. Maar van nou af aan sal dit in my huis baie anders word! U woord, Heer en Leraar, sal in die vervolg die rigsnoer vir die optrede van my hele huis wees, en ek sal daarvoor sorg dat ook my bure in die verre omtrek hulle volgens my sal rig.”

[12] Ek sê: “Jy het nou in alle opsigte goed en waar gespreek en so is dit. Die blindheid van die Fariseërs is die enigste oorsaak van al die verkeerde wat nou onder die Judeërs gebruiklik is. Hulle is self blinde leiers van blindes wat, wanneer hulle by `n kuil kom, beide daar sekerlik daar sal inval, terwyl geeneen van beide die ander daarna sal kan uithelp nie; daarom moet julle van hulle niks anders aanhoor en aanneem as slegs die leringe van Moses en die profete nie. Maar hulle eie bepalinge moet julle verafsku net soos hulle werke, wat louter en alleen boos is!

[13] Mense sê wel dat die oudstes, Skrifgeleerdes en Fariseërs op die stoele van Moses en Aäron sit. Dit is dan ook so! Neem daarom alleen dit van hulle aan wat hulle julle van Moses en Aäron voorlees; maar al die ander moet julle beskou as `n witgekalkte graf, wat na buite toe wel skitter, maar van binne vol verrotting en smerige stank en dood is.

[14] Nou het Ek julle die mees noodsaaklike ooreenkomstig die volle waarheid gesê en getoon. As julle daarvolgens sal lewe en handel, sal julle ook die loon ontvang wat Ek julle beloof het; want Ek self het die mag om dit aan julle te gee, soos Ek ook die mag het om alle liggaamlike siekes deur My woord en deur My wil volkome gesond te maak en die dooies tot lewe te wek, waarvan almal wat hier om My heen is, teenoor julle `n geldige getuienis kan gee; en hulle sal dit na My ook gee, wanneer Ek sal terugkeer na waar Ek vandaan gekom het. Maar nou genoeg oor dit alles; nou gaan ons jou huis nog ietwat van naderby bekyk!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205