Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 124

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die opwinding van die leerlinge van Johannes

124 Dit was al taamlik laat in die middag, en daarom is dit ook begryplik dat ons taamlik laat na sonsondergang in Bethanië aangekom het; alles was egter uitstekend vir ons ontvangs voorberei, omdat RafaEl dit vir elkeen in die huis van Lasarus laat weet het, naamlik wanneer ons sou terugkeer. Hierdie keer gebeur daar onderweg niks vermeldenswaardig nie. Ons reis baie rustig verder.

[2] Die Romeine praat oor die een en ander met Lasarus en met die herbergiers, wat by ons was, en ook My leerlinge praat baie onder mekaar oor die gebeurtenisse van die dag. 

[3] Ek self praat min, loop meestal swyend vooruit en het niemand naas My nie. Ek doen dit om vinniger vooruit te kom, want anders sou hulle, wat baie met mekaar te bespreek het, elke oomblik stil bly staan om met mekaar te praat sodat ons nouliks voor middernag in Bethanië sou gekom het; want ons moes immers ook nog `n uurtjie by die herbergier in die dal gebly het, aangesien Ek dit die oggend aan die familie beloof het.

[4] Deurdat ons vinnig deurloop, bereik ons dan ook in enkele ure die herberg in die dal, waar die herbergier ons dadelik brood en wyn laat bedien en My vra om `n klein versterking tot My te neem. Dit doen Ek dan ook vanweë die aanwesiges, want hulle durf, behalwe ons Judas Iskariot, niks vóór My neem nie; maar toe Ek ietwat brood en wyn geneem het, val almal vervolgens flink weg en eet en drink.

[5] Daar was ook enkele van die leerlinge van Johannes die Doper aanwesig, wat weliswaar nog baie vroeër as ons hier aangekom het, omdat hulle van plan was om na Galilea te gaan, waar hulle iets te doen gehad het; maar omdat hulle van die herbergier gehoor het dat Ek gedurende die aand met baie leerlinge hier sou aankom, bly hulle in die tweede herberg in die dal, om My te sien, te hoor en te spreek. 

[6] Toe ons dan aankom en in die groot eetkamer plaasneem en onsself laaf met brood en wyn, vererg die leerlinge van Johannes hulle heimlik omdat ons nie dadelik met ons binnekoms aandag aan hulle geskenk het nie.

[7] En één van hulle kom na My toe en sê: “Heer en Leraar, weet U leerlinge nie dat mens eers die hande moet was, en verseker as mens `n reis agter die rug het, voordat mens brood in sy hande neem, dit breek en daarna eet nie? Maar ek sien dat al U leerlinge die brood met ongewaste hande breek en dan eet! Moses het dit immers ook aanbeveel, en wat hy aanbeveel het, moet `n ware Judeër tog ook doen!”

[8] Toe die leerlinge en ook die Romeine hierdie woorde, wat aan My gerig was, hoor, vererg hulle hulleself en wil hierdie leerling van Johannes met harde woorde teregwys.

[9] Maar Ek kalmeer hulle en sê toe: “Hou die ergernis weg van julle siel, want dit verontreinig die mens in sy hart, en dit is uit die bose; maar om met ongewaste hande die brood te breek en te eet, verontreinig nie die mens nie. Maar as julle, leerlinge van Johannes, julle vererg het en julle reeds vooraf gehoor het dat Ek op hierdie aand hier sou aankom, waarom het julle dan nie ter ere van My voorbereidings getref nie, sodat daar volgens Judese gebruik reeds by ons binnekoms water, `n waskom en doeke vir ons gereed gestaan het!

[10] Ek sê vir julle, deur water gereinigde leerlinge van Johannes, julle neem ook net soos die Jode al die uiterlike vertoon nougeset in ag en was en reinig julle sewemaal per dag, sodat julle steeds rein van liggaam bly; maar julle hart en siel is nog erg ongewas en daarom is julle ook nog ver verwyderd van die ryk van God.

[11] Johannes het in die woestyn met skerp woorde boetedoening gepredik ter vergewing van die sonde en het sy leerlinge, wat sy woord aangeneem en boete gedoen het, in die rivier van die Jordaan gedoop en hy het almal die weg na My getoon, aan Wie dit alleen toekom om die mens hulle sonde daadwerklik te vergewe! Maar hoe gebeur dit dan dat julle julleself nou ook so voor My gedra asof julle bo My en bo My leerlinge verhewe is? Het Johannes dit ook vir julle geleer?” 

[12] Op hierdie antwoord en die uiteindelike vraag van My, raak die leerlinge van Johannes erg in die verleentheid en weet nie wat hulle My moes antwoord nie.

[13] Maar toe kom daar `n ander, wat meer beskeie was, na vore en sê vir My: “Heer en Leraar, ek het die wyse betekenis van U woorde gehoor en daarin die volste en suiwerste waarheid gesien; maar tog het dit my hart baie bedroef gemaak, toe U vir ons sê dat ons nog ver verwyderd is van die ryk van God, terwyl ons al geglo het om midde daarin te staan. Wat moet ons doen om in die ryk van God te kom?”

[14] Ek sê: “Doen wat My leerlinge doen, en oordeel die mens nie na die uiterlike skyn nie, maar na hulle innerlike waarde! Vee altyd slegs voor julle eie huisdeur en kyk nie eers na die deur van die buurman nie, of die weg daarheen al gevee is nie! Eers wanneer julle die weg voor julle eie deur skoongemaak het, kan julle ook vir die buurman sê: “Vriend, kyk, ek het die weg voor die deur van my huis al skoongemaak, maar jy nog nie; as julle tyd en geleentheid het, maak dan ook die weg na die deur van jou huis skoon! Maar as julle `n ander dringender besigheid het, staan my dan toe dat ek ook jou weg skoonmaak!” Wanneer die buurman dan vir jou sal sê: “Doen die liefdediens vir my!”, dan kan julle die weg voor die deur van julle buurman skoonmaak; maar maak eers die van jouself skoon!

[15] Geen enkele leerling is ooit meer as sy meester nie. Maar as hy deur vlyt en ywer so volmaak word soos sy meester, sal hy ook soos hy lyk. Maar wanneer die leerling soos die meester lyk, sal hy ook doen wat sy meester doen en gedoen het. Dan het hy ook opgehou om `n leerling te wees en is vanaf daardie oomblik ook `n meester. Eers wanneer hy dit is, kan hy ook leerlinge werf en hulle geheel en al sy kuns en kennis bybring.

[16] Julle is egter nog lank geen meesters nie, maar slegs uiters swak leerlinge van Johannes. Hoe kan julle dan nou al self leerlinge werf en hulle iets leer wat julle self nie ken nie? Dit is immers al `n ou lewensreël, wat sê dat niemand `n ander iets kan gee wat hy nie eers self besit nie. Hoe kan julle dan julle leerlinge leer om die ryk van God te ontdek, terwyl julle self nog ver daarvan verwyderd is? Leer daarom eers self die ryk van die God en sy geregtigheid ken van die Heer, wat die ryk van God in Homself het en wat dit ook aan julle kan gee! As julle dit dan van die regte Heer in julleself ontvang het, kan julle dit eers meedeel en gee aan die ander mense wat dit wil hê en soek; dan sal die regte Heer julle daaroor prys en egte vreugde belewe aan julle en julle leerlinge!

[17] Maar wanneer `n meester van julle soort as leier van die ander wat blind is, self nog blind is, waarheen sal hy sy leerlinge dan kan bring? Sal die leier en sy leerlinge dan nie, as hulle by `n kuil kom, tegelyk daarin val nie, terwyl die een die ander nie daaruit sal kan help nie? As julle egter met alle geweld leraar wil wees, leer dit dan eers self van die een wat `n ware Heer en Leraar is!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205