Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 125

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die versoek van die leerlinge van Johannes

125 Toe hierdie tweede leerling van Johannes dit van My gehoor het, sê hy: “Heer en Leraar, ons sien in dat U alleen `n goeie en waaragtige Heer en baie volmaakte Leraar is; neem ons aan as U leerlinge, dan sal ons U volg en alles van U leer! In één dag sal ons van U beslis meer leer as wat ons by Johannes in `n jaar geleer het. Ons wil U volg, waarheen U ook maar wil gaan!”

[2] Ek sê: “Dit sou wel `n baie goeie idee van julle wees; maar voordat Ek vir julle sê: “Kom!”, moet Ek julle nog op iets wys; as dit julle nie sal hinder nie, kan julle My gerus as leerlinge volg! Kyk, die voëls het hulle neste en die jakkalse hulle gate; maar Ek, as die Seun van die mens het op die hele aarde nog nie eers `n klip wat Ek onder My hoof sou kon lê nie! Maar as julle `n egte vertroue en `n lewende geloof het, volg My dan!” 

[3] Een ander leerling sê: “Heer en Leraar, ons het maar net U leer nodig, - ons liggaam sal ons self goed versorg; want ons is vermoënde mense en dit is nie nodig dat ons ook deur ons Heer gevoed word nie.” 

[4] Ek sê: “Wat Ek vir julle gesê het, het Ek nie gesê omdat Ek julle ver van die tafel sou wil hou, waaraan Ek nog altyd met My leerlinge geëet het nie; maar Ek het dit vir julle gesê, om te voorkom dat julle as My leerlinge aan `n materiële verdienste aan My sy sou dink, - want so iets is daar nie by My nie! By My is daar maar één verdienste op sigself geoorloof en dit is: Die ryk van God en die ewige lewe! As julle alleen terwille daarvan vir My as leerlinge wil volg, kan julle My ook volg!”

[5] Die leerling sê: “Heer en Leraar! Ons het vroue en kinders en ons het ook huise, akkers, weiding, tuine en wingerde en osse, koeie, kalwers, esels, skape, bokke en `n groot hoeveelheid van allerlei mak voëls, en ons drywe daarmee dan ook `n eerlike handel en het nog nooit iemand afgesit nie. Dit het die origens baie streng profeet Johannes ons ook nie verbied nie en hy het ons daarby gesê dat dit vir God welgevallig is wanneer die mens werk en aldus op `n passende wyse sorg vir sy huis en sy gesin; maar wie woeker dryf met die gawes wat God hom geskenk het, sal met toornige oë deur God aangesien word en geen barmhartigheid by Hom vind nie.

[6] Sodoende begewe ons onsself dan ook onder die mense en vertel hulle wat ons van Johannes gesien en gehoor het. Wel nou, by dergelike geleenthede het ons natuurlik ook gewag gemaak van die feit dat ons die een en ander te verkoop het vir so `n redelik moontlike prys; en na so `n aanbod word die aangebede dinge dan ook dikwels en herhaaldelik van ons gekoop, en met die opbrengs kon ons steeds ons huishouding eerlik en goed voer. Daarin bestaan dan ook ons broodwinning wat ons met ons posisie van leerling en die van prediker verbonde is. Maar as dit vir U, o Heer en Leraar, nie aangenaam is wanneer ons as U leerlinge ook af en toe aan U sy aan ons huise en gesinne dink nie, dan kan ons ook daarvan afsien en vir die sorg vir ons huishouding baie ander voorsiening tref. U kan maar net U wil vir ons duidelik maak, dan sal ons daarvolgens handel!” 

[7] Ek sê: “Julle kan doen wat julle wil, want elke mens het sy volkome vrye wil. Maar as iemand My as My leerling volg om die ryk van God te wen, dan moet hy tot die tyd van die volledige geestelike wedergeboorte huis, vrou en kinders uit liefde vir My verlaat; want by die soek en nastrewe na die ryk van God, moet hy alle sorg oor die dinge van hierdie wêreld slegs aan Hom oorlaat, wat alles weet en wie se almagtige wil alles vermag. Want as `n ware leerling homself aan My sy tewens druk maak oor die dinge van die wêreld, lyk hy soos `n landbouer wat sy hande wel aan die ploeg slaan, maar daarby voortdurend agtertoe kyk, en nie let op die gang van die ploeg nie en is derhalwe nie geskik vir die ryk van God nie.

[8] Kyk na My ou leerlinge! Hulle het om My ontwil ook huis, haard, vrou en kinders verlaat en het My gevolg; maar hulle aardse huishouding bestaan voort en is versorg. 

[9] Wie as My leerlinge nie die wêreld volledig kan ontsê nie, sal nie sterk word in die ryk van God nie; want om God en die wêreld te dien gaan moeilik of eintlik glad nie saam nie. Eers as iemand sterk in die ryk van God geword het, kan hy elkeen ook op nuttige wyse waaragtig dien.   

[10] Toe die ware profeteskole nog in vroeëre tye op bepaalde berge bestaan het, moes die een wat `n egte profeet wou word, hom volledig terugtrek van alles en elkeen en in homself die lewende woord van God soek; wanneer hy dit gevind het, word hy ook vrygelaat en was so eers in staat om die wêreld waaragtig in nuttige sin te dien.

[11] Hoe die ware profete en in die oertyd ook die aartsvaders die wêreld gedien en tot nut was, weet julle uit die Skrif en Ek hoef dit nie vir julle te vertel nie. Nou ken julle dus My wil en My raad, en kan nou doen soos julle ook wil. 

[12] Wie nie eers volkome van God vol word, voordat hy hom in die wêreld begeef om daar te werk nie, die sal verlei word deur die wêreld, wat weldra sonder enige moeite sy hart en sy siel sal verslind; maar wie eers heeltemal vol van God geword het, die kan die wêreld nie meer aanvaar nie; want hy het `n stewige dam om hom heen en `n kasteel vir homself gebou, wat nie deur die poorte van die hel oorwin kan word nie.” 

[13] Toe die paar leerlinge van Johannes hierdie dinge van My gehoor het, dink hulle na oor wat hulle moes doen.

[14] Eén van hulle, wat die eerste gespreek het, sê vir die ander: “Weet julle, ek raai julle aan om nou dadelik hier te bly as ons Hom as leerlinge wil volg! Ons huishouding is tog al goed gereël, aan arbeiders en metodes ontbreek dit daarby nie en meer is nie nodig nie. Wat die Heer en Leraar nou vir ons gesê het, is waar, laat ons dan ook dadelik by die waarheid bly!”

[15] Hierop kom hulle na My toe en vra My of Ek hulle sal toestaan om dadelik te bly.

[16] Ek sê: “Bly dan en word goeie en aktiewe arbeiders in My wingerd!”

[17] Eén van hulle sê: “Heer en Leraar! Hoe kan U nou `n wingerd hê, terwyl U tog eers gesê het dat U nog geen klip besit om onder U hoof te lê nie?”

[18] Ek sê: “Hierdie wêreld is My wingerd en die mense wat My woord hoor en hulle daaraan hou en in My, die ware Seun van God, glo, is die goeie en edele ranke, wat My deur hulle goeie werke ook baie vrug sal oplewer; maar tussen die edel ranke is ook baie onedeles en dit moet ook veredel word en daarvoor is baie kragtige arbeiders nodig. Heil aan diegene wat hulle as bekwame arbeiders in hierdie wingerd van My sal betoon, en wel uit liefde tot God en die naaste!”

[19] Na hierdie woorde bedank hulle My en is bly, en begin met My ou leerlinge te praat.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205