Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 126

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die hoofman van Bethlehem kom na die Heer toe

126 Toe hierdie saak nou gereël was, kom ook die hoofman van Bethlehem, wat ons in die herberg agtergelaat het, ons met nog enkele metgeselle te perd agterna; want hy wou My nog eenmaal sien en hoor en het ook met die Romeine nog die een en ander te bespreek.

[2] Toe hy die perde buite aan die knegte oorgegee het, kom hy dadelik in die groot kamer na ons toe en sê (die hoofman) vir My: “O groot Heer en Leraar! Eers toe julle die herberg verlaat het, het ek asof uit `n droom ontwaak en wil my toe geheel en al tot U aanbeveel, maar toe het julle al verdwyn. Daarop word ek gegryp deur `n allesoorheersende verlange om U nog eenmaal te sien, te spreek en te hoor. Ek laat my dan ook onmiddellik uit Bethlehem die beste ryperde bring en ry met hierdie vriende van my in vlieënde galop hierheen en hoor buite van die mense van die huis dat U hier `n klein ruspouse geneem het. Toe spring my hart op van vreugde. Saam met my metgeselle spring ek in alleryl van die perd af en haas my na binne, en nou is ek hier om U te begroet, en om U van ganser harte te bedank vir die eindelose groot barmhartigheid wat ek van U tot heil van my heidense siel ontvang het. Neem daarom, o Heer en Leraar, hierdie dank ook barmhartiglik van my aan!”

[3] Ek sê: “Vriend, meer sulke heidene soos jy, en dit sal weldra lig en helder word onder die mense op hierdie aarde! Maar helaas is daar maar weinig sulke mense en heidene, en daarom staan die mense, ondanks My koms na hierdie aarde, in die algemeen `n lang geestelike nag te wagte, waarin nog baie gevegte pro en contra (teen en vir) gevoer sal word, maar daarby sal die ware oorwinning van die ewige waarheid oor die nag van al die valse en bose onbeslis bly.”

[4] Die hoofman sê: “Heer en Leraar! In die groot herberg by Bethlehem het dit U maar één woord en wil gekos, en twee siekes, wat deur alle artse ongeneeslik siek verklaar was, het gesond geword. Aangesien U dit kon doen, sou dit vir U tog ook met dieselfde gemak moontlik wees om te sê: “Luister, duistere siele! Ek wil dat dit lig word in julle!”, en kyk, na so `n magswoord, deur U met U wil uitgespreek, sou daar op die hele aarde seker nie één duistere en slegte mens meer bestaan het nie!” 

[5] Ek sê: “Daarin het jy wel gedeeltelik gelyk; maar Ek, wat wel die beste weet hoe die hele mens van nature is en waarom hy ook so moet wees, om `n mens en geen mensedier te wees nie, sê vir jou dat die mens, slegs wat sy liggaam aanbetref, `n baie kunstige en wyse ingerigte masjien is, waarvan die gesondheid, instandhouding en gebruiksmoontlikheid nie afhanklik is van die vrye wil van die mens nie, maar slegs van Hom wat die masjinerie geskape en gebou het. Wanneer daar dan iets met die masjiene makeer, kan die Heer daarvan deur Sy almagtige wil ook maklik help, sonder om daardeur ook maar in die minste skade te bring aan die vryheid van kennis, geloof en wil van die mens. Maar as Ek dit ook so sou doen met die siel en gees van iemand, dan sou die eie lewenskrag van die siel, wat bestaan uit haar vrye liefde, wat net so vry dink, navors en ken, uit die geloof en uit die vrye wil, so goed as gebroke en vernietig wees en daarmee dan ook elke individuele selfstandigheid. Wat sou `n siel en uiteindelik Ek self, dan daaraan hê?

[6] Daarom moet die siel van die mens deur goeie onderrig en vervolgens deur haar eie navorsing, beproewing, kennis, geloof en wil kom tot die innerlike, lewende lig van haar gees, wat vanuit God in haar woon, en dan is hulle vir ewig waaragtig geholpe; elke ander mag om haar volgens jou idee te help, sou maar net vernietig en nooit helend op haar lewenselemente inwerk nie.

[7] En kyk, daarom neem Ek dan ook leerlinge aan en onderrig Self, soos ook `n egte wyse vader sy kinders onderrig, wat hulle moet glo, ken en vervolgens doen; want as Ek hulle met geweld met één klap met My Gees sou vervul, dan sou dit gedaan wees met hulle eie selfstandigheid, met hulle eie soeke, navorsing, beproewing, kennis, geloof en wil, maar ook met hulle individuele lewe en met die vryheid daarvan.

[8] Maar as Ek hulle nou leer om die volle waarheid te ken en selfstandig daarvolgens te handel, word die volste vryheid van hulle siele nie in die minste daardeur belemmer nie, en wat hulle weldra volgens My leer sal verwerf en bevog, sal dan hulle werk en ook hulle volledige eiendom wees.

[9] En kyk, dit is dan ook volgens die ewige orde die wil van God ten aansien van die ware en enigste werklike nuttige lewensvorming van die mens op hierdie aarde, en slegs op hierdie manier kan `n siel tot die ware, ewige lewe kom en ten slotte, soos God, ook haar eie lewe en haar eie hemel skep!

[10] Om hierdie redes, wat Ek jou nou uiteengesit het, is dit vir My wel maklik om die siek liggaam van `n mens te genees, maar nie tegelyk ook `n siek en duistere siel nie. Ek genees die siele ook wel, maar slegs deur My leer, wanneer hulle dit gelowig aanneem en vervolgens hulle wil en handel daarvolgens rig. Maar wie dit wil, het hulleself met `n dergelike vaste wil My Gees al eie gemaak en daardeur `n toereikende lewenskrag in homself, wat hy met die volste reg syne kan noem, ook al sien hy in dat dit tog alleen My krag in hom is wat handel en heers.

[11] Wie dus in die geleentheid is om die mens My leer en My wil mee te deel, sal as `n troue arbeider in My wingerd van menselewens ook sy loon in My ryk ontvang. - Het jy dit nou goed in jou opgeneem en begryp?”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205