Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 173

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die wense van koning Abgarus van Edessa

173 (Kado:) “Toe ek spoedig daarna alles in Athene in orde gekry het en toe ook sonder verdere oponthoud die tuisreis aanpak, neem ek vanuit Tirus die weg langs die ou Nasaret en doen daar sorgvuldig navraag oor die goeie Heiland, Jesus. Mense toon my toe baie gou `n klein woninkie baie naby die stad. Hierdie woning het ek dadelik besoek en ek tref daar enkele vroom en opregte timmerlui aan, wat my voorstel aan `n vrou met die naam Maria, wat al `n weduwee, en die liggaamlike moeder van die gesoekte Heiland was, maar wat my tog nie kon sê waar haar seun Jesus hom in die tyd en op die oomblik bevind het nie.

[2] Sy vra my egter baie dringend om hom op te soek en, as ek hom êrens sou aantref, haar daaroor te berig - wat ek dan ook op my woord van eer beloof het om te doen. Sy en ook die timmerlui, wat sy Sy broers noem, weet heelwat wonderlike dinge oor hulle geliefde Jesus te vertel, en ek, van my kant af, het hulle ook vertel wat ek op my reis oor hom gehoor het, wat hulle sigbaar groot genoeë gedoen het.

[3] Wat die familie, wat ek ook geskenke gegee het, vir my oor die geliefde Heiland gesê het, stem heeltemal ooreen met wat ek van die koning van Frigië gehoor het en, voor ek nog na Nasaret gekom het, ook al in Tirus en in verskeie stede langs die oewers van die see.

[4] Nou hang dit nog net daarvan af of hierdie Wonderman wat jy, liewe vader, vir my getoon het, die geliefde Heiland Jesus uit Nasaret is, vir wie ek die brief by my het, en dan het ek my heil gevind!”

[5] Hierop buig Kado voor My en sê: “Heer en groot Majesteit, sê my tog, of U volgens waarheid Die Een is vir wie ek hierdie brief by my het!”

[6] Ek sê: “Vra dit eers aan hierdie geneesde bedelaar en daarna ook aan al hierdie leerlinge van My; want hulle is nou almal My troue getuies, en hulle sal jou die waarheid sê en dit nie van jou weerhou nie!”

[7] Die bedelaar sê met groot vreugde: “O Kado, soek nie verder nie; want wie jy so ywerig soek, het jy al gevind! Dit is die liewe en goeie Heiland Jesus uit Nasaret en as sodanig `n seun van Dawid, soos die ou profete en vaders hom ook al lank gelede van vroeg af genoem het.”

[8] Toe die seun dit van die bedelaar hoor, vra hy nie meer verder nie, maar haal die brief uit sy sak en gee dit aan My met die woorde: “Heer en Leraar, U is inderdaad Die Een wat ek gesoek het! Vergeef my dat ek U so lank met my gepraat en verhale vermoei het!”

[9] Ek sê: “Ek sou vandag ook nie hier gewees het, as Ek nie geweet het dat jy nog hierdie aand hier sou aankom nie, op soek na My. Maar maak julle nou gemaklik, aangesien julle ietwat moeg is van die lang reis; kom daarna terug, dan sal ons nog baie met mekaar te bespreek hê!”

[10] Die seun dank My vir die antwoord en gaan toe dadelik met sy vader en met syne na `n groot aangrensende kamer, waar hy ander klere aantrek en die bagasie wat hulle by hulle het, in orde bring; want al die baie ander dinge en skatte word deur sy dienare en ook deur die van sy vader in die groot naasgeleë huis ingebring, en ook word die baie lasdiere versorg. 

[11] Die seun kom dan ook met sy mense gou weer na My toe terug en vra My of hy aan My tafel mag plaasneem, wat Ek hom ook die allervriendelikste toestaan. Natuurlik moes enkeles van My leerlinge aan `n ander tafel gaan sit, omdat My tafel maar klein was; maar dit maak nie saak nie, omdat daar nog `n tweede tafel nie ver van My gestaan het nie.

[12] Ons sit nou baie opgewek bymekaar, en Kado vra My of Ek nou nie eers die brief van die koning wil oopmaak en dit lees nie.

[13] Ek sê: “Vriend, dit is nie vir My nodig nie; want Ek ken die inhoud al baie vroeër as wat die koning daaraan gedink het om My `n brief te skryf! Maar maak jy die brief maar oop en lees hom ook aan die ander voor; want hier sal nie baie wees wat die Griekse taal nie ken nie! Hier is die brief, lees jy hom voor!”

[14] Kado sê: “O beste, goeie Heiland, dit sou te brutaal van My wees; want wat U alleen aangaan, hoef ons nie van U te hoor nie, en omdat die brief alleen aan U gerig is, hoef ons die inhoud daarvan ook nie te weet nie. Maar dat die koning, wat U so buitengewoon liefhet en die grootste agting vir U het, in die brief dieselfde gevoelens geuiter het soos wat hy hardop teenoor My uitgespreek het, dit kan elkeen hulle wel voorstel, en dus gee ek hierdie baie waardevolle brief met alle respek weer aan U terug.”

[15] Nou neem Ek die brief, gee hom aan die leerling Johannes met die opmerking dat hy dit moes lees en daarna in My Naam ook moes beantwoord, wat Johannes ook gedoen het, omdat hy goed in Grieks kon skryf.

[16] En reeds die volgende dag stuur Kado die skriftelike antwoord deur middel van drie bodes aan die koning en skryf hom ook self `n brief, waarin hy hom meedeel hoe hy My gesoek en tot sy groot geluk ook gevind het.

[17] Nadat Ek nou die brief aan Johannes gegee het, vra Ek aan Kado: “En nou kan jy ter wille van die ander nog voor die aandete in kort iets vertel oor die dinge, waaroor die koning, ten aansien van My, hoofsaaklik met jou gespreek het?”

[18] Kado sê: “O beste, goeie Heiland! As ek alles moes vertel wat die koning aan my aan goed en verhewe oor U gesê het, dan sou ek wel dae lank besig wees; maar om net die hoofsaak aan te roer, waarvan ek in my inleidende woorde al iets na vore gebring het, sal nie baie tyd verg nie.

[19] Dit grootste verlange van die koning sou wees om U, o Heer en Leraar, saam met al U leerlinge en vriende by hom te hê, en wel soveel te meer, omdat hy uit betroubare bronne verneem het hoeseer die vername Judeërs en hulle trotse en buitengewone heerssugtige en hebsugtige priesters U haat en U in hulle onbegrensde blindheid en raserny selfs om die lewe wou bring. Hierdie koning heers oor `n baie vreedsame land en volk, wat U weldra sou erken en U saam met die koning uit louter liefde, hoogagting en dankbaarheid op hulle hande sou dra. In sy land sou U veilig wees vir elke vervolging en sou U die rus hê, wat U elders miskien wel nêrens sou vind nie.

[20] So het die koning ook `n seun, wat van tyd tot tyd in meerdere of mindere mate met siekte te kampe het. Dat hy graag sou wil hê dat U hom volkome genees, dit weet U, beste en goeie Heiland, die beste. So het hy teenoor my ook eenmaal sy vurige verlange geuiter dat hy graag ten minste `n getroue afbeelding van U sou wil hê en so moontlik ook van enkeles van U beste leerlinge. En dit is volgens my ook wel die vernaamste wens van die koning, omdat hy baie daaroor gespreek het. Heer en Leraar, vergeef my, as ek my so hier en daar ietwat grof en ongepas uitgedruk het!”

[21] Ek sê: “Jy het hier, baie kort saamgevat, `n buitengewone goeie verslag gegee - en kyk: Dieselfde, is dit in ietwat ander woorde, soos dit ook in `n brief gebruiklik is, staan ook in die brief, en veral in die huidige brief, hoe en waarom hy My by hom sou wil hê! Die wens van die koning verheug My baie, en voordat daar van nou af `n jaar verby sal wees, sal Ek dit ook in die gees en in die volste waarheid realiseer; maar eers moet daar nog baie groot dinge gebeur, wat My leerling hom wel sal meedeel. Daardeur sal die koning dan ook baie gerusgestel en getroos wees.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205