Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 176

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die wese van die waarheid

176 Hierop bedank die herbergier en sy seun My nogmaals vir hierdie les, maar die herbergier sê ten slotte: “Dat die mens alleen deur die waarheid vrygemaak kan word van elke waan en begogeling, is beslis `n groot heilige waarheid op sigself; maar by al ons bekende volkere het baie wyses voortdurend na die waarheid gevra, wat ook ywerig gesoek het en haar nie kon vind nie, en niemand het nog, as `n geheel en al `n uitgemaakte saak, en vir die mens begryplik, kon uitlê wat die waarheid is nie. En daarom sou ek nou so graag van u, beste Heer en Majesteit, wil hoor wat die waarheid nou uiteindelik is; want U sal ons wel die beste uitsluitsel daaroor kan gee. Eers wanneer die mens weet wat die waarheid is, en hoe en waar hy haar kan vind, kan hy haar ook as rigsnoer vir sy lewe in homself opneem en hom daardeur bevry van elke waan en begogeling. Wat is dus die volle waarheid, en hoe en waar vind ons dit?”

[2] Ek sê, met `n vriendelike gesig: “Kyk My aan en luister baie goed na wat Ek julle nou sal sê: God, die Enige en Enigste Ware, is die waarheid. Wie God, die Enige Ware, gevind het, die het ook die waarheid gevind, wat hom vry en volkome lewend sal maak. Maar as die mens God gevind het en Sy getroue geopenbaarde wil leer ken het, en hy leef en handel daarvolgens, dan het die mens ook in homself tot waarheid geword; as die mens dit egter is, dan is hy ook al vry en het vanuit die dood van die wêreld en haar materie, deurgedring tot die lewe uit God.

[3] Ek sien in jou weliswaar nog `n vraag, wat nie so maklik te beantwoord is as die een wat Ek nou net beantwoord het nie, maar Ek sal ook vir jou nuwe, nog nie uitgespreekte vraag wel `n antwoord vind wat elkeen sal begryp.

[4] Jou nog nie uitgespreekte vraag lui: “Dit is heeltemal waar dat God alleen die waarheid is, en wie God gevind het, het die waarheid gevind wat hom vry sal maak; maar waar is God, wie is Hy, hoe lui Sy volmaakte ware wil, en ten slotte: Hoe vind Ek God, en hoe weet Ek dat dit inderdaad Hy is?”

[5] Ja sien, my beste vriend, dit is vir My nie moeilik om met My antwoord `n volledige lig op hierdie vraag te laat skyn nie, maar vir jou sal dit tog wel moeilik wees om ook die lig duidelik in die gegewe antwoord te begryp! Maar laat ons dit probeer!  

[6] Kyk, God is `n absoluut suiwer en ewige gees! Hierdie ewige Gees is die reinste en suiwerste liefde, en derhalwe die ewige lewe self. Die liefde is egter `n vuur en in sigself `n vlammende lig, en dit alles is die waarheid.

[7] In God, die ewige oergrond van alle wesenlikheid, is dan ook die mees volkome selfbewussyn, die hoogste intelligensie, wysheid en mag, en as dit nie so sou gewees het nie, dan sou daar ook nooit iets geskape gewees het nie; want wat in sigself niks is nie, kan hom ook nooit as iets manifesteer nie.

[8] In God is dan ook die hoogste intelligensie en die mees verligtende selfbewussyn ewig aanwesig en werksaam teenwoordig. As dit nie so sou gewees het nie - wie sou dan die engele en mense `n lewe met intelligensie en selfbewussyn kon gegee het? Of is dit dalk moontlik om vir iemand iets te gee, as mens dit self nie het nie? Kan `n stom en ruwe krag `n volmaakte lewe gee?

[9] Jy het in jou lewe tog al verskeie kere allerlei blinde en in sigself stom kragte deurmekaar sien woed en raas; maar het jy ook al eens êrens `n orkaan sien woed, wat deur middel van sy baie groot mag- en kragontwikkeling ook maar so `n armsalige skaapstal of varkhok verwoes? Of het daar wel eens `n bliksem, wat asof vanuit `n wolk in die aarde geslaan het, ooit iets anders as `n hoogs wanordelike vernietiging teweeggebring?

[10] As jy nou na al die stom kragte en magte kyk, dan sal jy as produk van hulle ruwe werksaamheid nooit iets ontdek, waarin jy op sigself ook maar die kleinste vonkie van een of ander intelligensie en insig sou kon sien nie! Ja, `n wyse ondersoeker sal selfs in die ruuste werksaamheid van die blinde en stom kragte en magte `n bepaalde ordening en `n wyse plan ontdek; maar dit is nie die eiendom van die blinde en stom kragte en magte nie, maar die eiendom van God, wat vanuit Sy hoogseie en eindelose wyse mag van Sy wil dergelike kragte voortbring, om vir die een of ander deel van die aarde `n goeie doel te bereik.

[11] As jy nou na die plante, diere en in die besonder na die mens kyk, dan sal jy in alles die grootste orde en `n wyse opgestelde plan, in samehang met die grootste doelmatigheid aantref; en dit het hierdie lewende dinge nie alles vir hulleself gegee nie, omdat hulle immers vooraf as op sigself bestaande dinge tog nie is nie en nooit gewees het nie! Maar as jy nou bestaan, en hulle bestaan met sekerheid verwys na `n baie wyse Grondlegger, dan is dit tog ook duidelik dat net Sy hoogste intelligensie, Sy mag en Sy absoluut volmaakte selfbewussyn dergelike baie uiteenlopende wesens vanuit Homself tot lewe geroep het.

[12] Die mens het selfs in sy geestelike nog onontwikkelde sfeer van suiwer natuurlik lewe reeds `n verligtende, verreikende intelligensie, waaruit sy insig en verstand homself ontwikkel soos ook `n boom uit `n saadkorrel, en met behulp daarvan realiseer hy baie vinnig baie opmerklike en goed geordende werke.

[13] Wie, behalwe God, sou aan die mens, wie se liggaam reeds `n baie kunstige organisme en baie wys ingerigte lewensmasjien is, intelligensie, selfbewussyn, insig, verstand, liefde en `n geheel vrye wil met die ooreenkomstige daadkrag kan gee en dit in stand kan hou en vervolmaak?! Vriend, wanneer jy ook maar enigsins helder nadink oor wat Ek jou nou slegs baie kortliks geskets het, dan sal jy daarin ook maklik die natuurlike weg ontdek waarlangs die mens, as hy maar net wil, God en met Hom die ewige waarheid kan vind! En as hy hierdie weg opgaan met alle liefde vir Die Een wat hy soek, sal hy Hom ook vind; en as hy Hom gevind het, dan sal die Gevonde hom ook baie gou Sy wil meedeel.

[14] As die mens vervolgens in ooreenstemming hiermee handel, sal dit ook helderder en ligter in sy siel word, wat haar deur die liefde tot God wat gevind is en Hom herken het, steeds meer verenig met die Gees uit God.

[15] En kyk: Wanneer hierdie toestand by die mens ingetree het, dan het hy self tot waarheid geword, omdat hy die waarheid in homself gevind het; en daarmee sal jy nou goed kan insien wat die waarheid is, hoe sy gesoek moet word en hoe en waar sy ook altyd sekerlik te vinde is.

[16] En as jy die waarheid so gevind het en daardeur dan ook vry en suiwer geword het, dan word alles wat jou ook omring, daardeur tot waarheid, suiwerheid en vryheid gebring; want vir die waaragtige is alles waar, vir die reine is alles rein en vir die vrye is alles vry. Meer het jy voorlopig nog nie nodig nie. Maar vra jouself nou af of jy ook alles begryp het wat Ek jou nou meegedeel het!”

[17] Kado sê: “O my beste Heiland, Heer en Leraar! U het my en ons almal nou groot dinge en waarhede verkondig en met baie lig onthul; die ou sluier van Isis is opgelig, die Augiasstal* in my is van sy ou vuilheid gereinig en die Gordiaanse knoop is deurgehak - en dit het ons almal aan U te danke! Ek het nou `n ware Hercules geword - egter nie die een wat besluiteloos op die tweesprong staan nie, maar die een wat vasbeslote die weg van die ware deug opgegaan het en daarop ook tot by die verligtende doelwit sal voortgaan. (*sien Boek 1)

[18] Ek het U gesoek, soos U ook weet, en het U ook gevind, al is dit ook in die nag; maar dit is veel beter en het veel meer betekenis, aangesien ek U in die dag waarskynlik nooit êrens sou gevind het nie, omdat dit in myself nag en duister was. Maar nou het daar in my `n geweldige oggendskemering aangebreek, en die morerooi sal volg, en die son sal hom ook bo die horison van my lewe verhef! En ek glo dat dit nou al nader is as wat my siel tot nou toe nog in staat was om te vermoed. Kortom, ek het U, o beste Heer en Leraar, gesoek en het U dan ook gevind; en aangesien ek nou van U gehoor het hoe mens God, en in Hom die waarheid, moet soek en ook vind, sal dit ook met my slaag.

[19] En as ek dit nou goed en helder oordink, sê daar iets in my hart: “Kado, jy het alles gevind en sal verder nie baie meer hoef te soek nie!” Ek bedoel: U, o goeie en beste Heer en Leraar, en Hy, wat ek nog moet soek, staan volgens die gevoel wat nou in my ontwaak, nagenoeg sonder twyfel op één en dieselfde vlak, en wie U gesoek en ook gevind het, het Hom tewens al gevind, wat hy nog moet soek. Want die tekens wat U doen, en die woorde wat U spreek, kan geen mens spreek en doen nie. Hier wil ek saam sê: Heer en Leraar, U Self is die waarheid, die weg, die lig en die lewe! Wie U gevind het, het alles al gevind! - Het ek nou onwaar geoordeel?” 


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205