Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 179

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Die droom van die dorpspriester

179 (Kado:) “Ons wou onsself, net soos die ander, dadelik na die maaltyd ter ruste begewe, maar dit gebeur hierdie keer nie heeltemal soos ons ook gedink het nie; want daar kom enkele mense uit die dorp na ons toe, hulle vra of hulle my kon spreek. Onder hulle is ook ons dorpspriester, wat in `n klein tempel van Apollo en Zeus gedien het en bowendien die ure van die dag, die planete, die sterrebeelde en ook die winde moes bestudeer, om aan die hand daarvan bepaalde noodsaaklike voorspellings te doen.

[2] Hierdie priester was al `n vergrysde man en het nooit `n vrou en kinders gehad nie, omdat hy lewenslange kuisheid gesweer het aan sy gode, sodat hulle hom in ruil daarvoor diep wysheid sou skenk in alle dinge wat hy voortdurend met groot ywer gelei het. Hy was die eerste wat dadelik allerlei vrae aan my gestel het, natuurlik met betrekking tot die tweede keer dat die ligwolkie verskyn het; die eerste keer het dit hom naamlik nie besonder opgeval nie, omdat hy in die mening verkeer het dat ek die wit lig wel met behulp van die bekende Indiese ligmateriaal tot stand gebring het. Maar omdat hy gedurende die dag meermale op onmiskenbare wyse gehoor het hoe die wolkie bo ons toringhuis op die berg gekom het, laat die verskynsel van vandag hom nie met rus nie en voel hy hom gedrewe om na my toe en teen die berg op te gaan, saam met nog enkele van die vernaamste vissers en hawe opsigters.

[3] Toe hy dus by my kom, sê hy: “Vriend Kado, hoe is dit tog met die wolkie, wat nou al vir die tweede keer op dieselfde tyd verskyn het? Ek het vandag hier en daar verskillende dinge gehoor, maar het geen groot belang daaraan geheg nie, omdat ek al soveel gehoor het oor allerlei maniere om lig te maak, waartoe ons voorouers al baie goed in staat was. Maar omdat die verskynsel van gister hom vandag op dieselfde tyd op nog baie opvallender wyse herhaal het, laat dit my nou nie meer met rus nie, daarom het ek na jou toe gekom om hier vir myself iets meer daaroor te hoor. In die naam van ons Zeus en Apollo, wees so goed om vir my die waarheid te sê, wat jy bykans sekerlik beter sal ken as ek, omdat die verskynsel skynbaar hoofsaaklik jou berghuis uitverkies het om hom te manifesteer!

[4] Daarop sê ek vir die priester: “Kyk, daar is my ou, troue dienaar, en hy is in hierdie dinge baie meer ervare as ek; vra dit vir hom, dan sal hy jou die beste uitleg kan gee!”

[5] Hierop rig die priester hom met sy vraag tot die dienaar, en hy vertel die priester baie openhartig `n volle uur lank alles wat hy weet, en vergeet ook nie die uiters belangrike woorde nie, wat ons almal uit die ligwolk gehoor het.

[6] Toe ons ou priester dit alles met werklik groot respek aangehoor het, sê hy: “Dit is werklik iets buitengewoon uitsonderlik en daarom ook baie gedenkwaardig! Ongetwyfeld het die gode voorheem `n inniger verbinding en omgang met die mens gehad as in hierdie tyd, waarin die mens hom bykans heeltemal van hulle afgekeer het, en selfs by die weiniges wat nog enige geloof het, is dit tog geen werklik lewende geloof nie, maar slegs `n geloof uit gewoonte - en so is dit nou in ons geheel en al verdorwe wêreld en tyd, ook sonder enige twyfel waar dat die altyd goeie en wyse gode hulle weer `n keer oor die mens ontferm het, om hulle weer op die korrekte en ware lewensweg te bring, omdat alle wyses op die hele aarde nie meer daartoe in staat sou gewees het nie.

[7] Maar nou moet ek by hierdie geleentheid tog verslag doen van `n ongewone droom, wat ek die vorige week op dieselfde wyse drie dae agter mekaar gekry het, en wel, om so te sê, steeds asof op `n klaarligte dag. Na my oggendwaarnemings van die sterre en die winde, die beweging van die wolke en van die see, die visse en ook die voëls in die lug, wat altyd enkele ure vóór sonsopkoms moet gebeur, is ek gewoond om na sonsopkoms ook `n paar uur op my goeie rusbed te gaan lê en, omdat ek al `n ou man is en vinniger vermoeid raak, `n tydjie uit te rus van my werk en inspanning. En toe ek my, soos ook gesê, op die genoemde drie dae se oggende ter ruste begewe het, slaap ek dan ook dadelik in en het ek die volgende droom gehad, wat driemaal agtereenvolgens dieselfde was:

[8] Ek bevind my op `n onafsienbare wye vlakte; dit was versier met `n hele spul tempels vir allerlei gode, op verskillende afstande van mekaar. Daaronder sien ek al ons bekende godetempels, maar ook `n hele spul ander, wat aan volkere en nasies behoort het, wat aan my heeltemal onbekend was. Ek kyk met genoeë daarna, hoewel die hele omgewing slegs verlig was soos by ons ook ongeveer op `n baie grou wintersdag, wanneer daar `n digte reën uit die donkergrys wolke op die aarde val. Behalwe myself sien ek geen mens nie, wat na `n rukkie `n ietwat somber indruk gee, en ek begin vir Zeus en Apollo te vra of hulle my nie `n mens wil laat ontmoet nie.

[9] Daarop kom daar dan ook `n man na my toe wat na `n Judeër lyk en hy sê ernstig: “O jy ou dwaas, waarom bid jy so sinloos tot gode, wat nooit was en nooit sal wees nie? Bid liewer in gees en in waarheid tot die een, ware God van die Judeërs, dan sal jy gegee word waarom jy vra!

[10] Kyk, al hierdie tempels met hulle dooie, deur mensehande gemaakte gode sal weldra van die aarde weggevee word, en daar sal maar één lewende tempel bly vir die enige en alleen ware, lewende God, en hierdie tempel word nou deur God Self opgerig onder die Judeërs en die heidene en onder alle volkere op aarde. Hierdie tempel sal sy lig soos `n son oor die hele aarde laat skyn, en diegene wat van Sy lig deurdring word, sal die ewige lewe ontvang en kinders van die Allerhoogste genoem word. Maar ek sal jou nou `n vonkie van die lig van die tempel laat sien, en al hierdie tempels sal deur die mag van die ligvonkie in stof en as verander word.”

[11] Hierop trek hy `n klein boekie uit `n sakkie wat hy op sy bors dra, open dit, en ek sien daarin die woorde: “Wie in sy hart in My glo, sal die ewige lewe hê; want Ek, die enig ewige en ware God, is die lig, die waarheid, die weg en die lewe.”

[12] Daarop begin die woorde wat ek nou uitgespreek het, geweldig te skitter, en die lig stroom soos `n magtige stroom oor die hele wye vlakte - en kyk, hoe vreeslik, al die tallose baie tempels stort met gode en al werklik tot stof en as inmekaar. Daarna sien ek mense, wat as ware broeders en susters met mekaar in wit geklee rondwandel, en aan die hemel sien ek `n mens, vol lig in `n son staan, en almal wat met mekaar op die wye vlakte wandel, roep hierdie Een mens toe: “Liewe, heilige Vader!”

[13] Onmiddellik daarna word ek wakker en was ek volkome versterk en vol gesonde en goeie moed, en ek het die gevoel dat ek geen sterflike mens meer was nie.

[14] Hierdie droom het ek, soos ook reeds opgemerk, drie opeenvolgende dae onveranderlik dieselfde gehad, en gister en vandag die verskynsel van die wonderbaarlike ligwolkie en bowendien die woorde wat julle vanuit die wolkie gehoor het, en daar sal in die toekoms iets baie anders ontwikkel as wat ons nou in ons ou vroomheid glo. Maar die nabye toekoms sal leer of ek nou waar of onwaar geoordeel het!” 

[15] Daarop neem die priester afskeid, net soos almal wat saam met hom na ons toe gekom het, en ons kon nou rus; en my ou dienaar sê: “Dit is eienaardig dat die baie vroom en aktiewe priester, wat mens wel op sy woord kan glo, so iets drie keer agtereenvolgens gedroom het! Sou dit dan deur `n nuwe woord-lig egter afgeloop wees met ons ou gode? Hm - hm - hm! - Ja, ja - alles is moontlik! Dit is merkwaardig dat daar nou in die ryk van die Judeërs dergelike mense wat aan gode gelyk is opstaan; waarom nie ook by ons nie, aangesien ons volgens die droom van die priester hierdie een, ware God gladnie ken nie en ons tog baie meer geneig is om te glo as die Judeërs, waarvan mense sê dat hulle geloof in hulle een God al uiters swak geword het, terwyl ons nog min of meer in baie gode glo en raad en troos en hulp by hulle soek?”

[16] Ek (Kado) sê: “Vriend, vir vandag sal ons nou eindelik eens gaan slaap, want dit het ons almal nodig; maar môre sal daar wel velerlei geleenthede voordoen, waarby ons nog baie oor hierdie saak sal kan praat en oordeel.”

[17] Daarop begewe ons onsself dan ook almal dadelik ter ruste; die volgende dag was ons reeds vóór sonsopkoms op die been en gaan ook vinnig aan die werk.”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205