Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 204

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Roclus verwys die rykes na die Heer

204 Roclus sê: “Kyk, vriende, ek is net so `n swak magtelose mens soos julle self en ek het ook nog nooit die krag en mag besit om `n mens, wat al volkome dood was, weer tot lewe te wek of aan `n siel, wat haar liggaam kwyt was, `n nuwe liggaam te verskaf nie! Dit is slegs vir God moontlik of so `n profeet wat van God se Gees vervul is om die verdwaalde mens weer die verlore weg na die ewige lewe van die siel te toon.

[2] Maar as God Self gebied om die gestorwe mense in sy bepaalde rus te laat, wat deur Hom beslis is, en die lewendes geen nuttelose hoop en ongegronde vreugde te gee deur allerlei magiese kunste nie, dan sal julle ook insien dat ons Essene God moet gehoorsaam, omdat Hy Homself aan ons geopenbaar en getoon het en ons nou eers sien dat Hy is soos wat Hy ook is, en wat Hy met ons mense wil doen. Ons kan ons nou dus nie meer besighou met die ou magie, wat geen enkele waarde het nie, maar wel met die een en enig ware en almagtige God, deur ons liefde vir Hom en ons naaste, en deur Sy wil, wat Hy aan ons geopenbaar het, geheel en al te vervul; en daarom kan en mag ons dan ook nie meer doen wat Hy ons verbied het nie. Maar vra Hom dit self, die ewige groot Heer van die lewe! Wat Hy vir julle sal doen, sal werklik goed wees.”

[3] Een ander goeie spreker uit die groep van dertig sê: “Heer en owerste van die magtige broeders! Maar u het tog enkel deur die oplê van u hande en deur die woorde wat u gespreek het, al die baie gebreklikes in één oomblik genees en één van hulle selfs die hande wat hy verloor het, teruggegee, en sommiges hulle oë, neuse en ore; dit blyk My nog meer as wanneer julle `n dooie kind, wat al sy ledemate nog heeltemal het uit die doodslaap opwek. As jy dit kon gedoen het, is dit vir ons nouliks te glo dat jy nie ook op dieselfde manier ons kinders tot lewe sou kon wek nie, as jy dit maar sou wil.” 

[4] Roclus sê, nou `n bietjie verleë: “Vriende, ek wil nie meer langer om die saak heen draai nie, maar julle onverbloemd die volle, suiwer waarheid vertel en toon! Kyk, julle het nou net openlik julle besluit uitgespreek dat julle na Galilea na die nuwe, groot profeet van die Judeërs wil reis, as julle hier geen hulp sou vind nie! En ek sê vir julle dat julle baie goed daarmee sou doen, as dit nou nodig sou wees. Julle ken die profeet nie, maar ek ken Hom en sê julle dat Hy eindeloos baie meer is as `n profeet. Hy is naamlik Die Een van wie alle profete voorspel het dat Hy in die vlees in hierdie wêreld sou kom, en die mens wat in Hom glo en Hom as die enigste Heer van hemel en aarde en al die lewe bo alles sal liefhê, sal Hy verlos van die slawerny van die ou sonde, die duiwel en die ewige dood!

[5] Sien, dit is die profeet, na wie julle wil gaan! Hy sou julle dooie kinders natuurlik wel weer kan opwek, omdat niks vir Hom onmoontlik is nie - en, luister verder: alleen in en deur Sy Naam, wat meer as gewyd is, het ek die gebreklikes op Sy bevel gehelp; daarom prys die geneesdes ook Hom alleen en nie vir my nie! Begryp julle nou hierdie hoogs wonderbaarlike saak?”

[6] Nou lyk die dertig baie verbaas, en die spreker vra onmiddellik aan Roclus: “Waar, waar bly Hy dan nou, die Almagtige, sodat ons na Hom toe kan gaan en Hom die eer gee wat Hom alleen toekom?”

[7] Roclus sê: “Luister, vriende! Wanneer `n mens wel eers onverwags vlak voor `n groot gebeurtenis staan en met sy verstand en dikwels ook met sy oë en ore nie waarneem wat se groot en buitengewone ding daar baie naby hom is nie, het die mens in sy hart `n baie spesiale sintuig, wat mense aanvoelingsvermoë noem. As dit, wat sonder dat die mens dit weet, naby hom is, en iets buitengewoon goeds is wat geluk en seën bring, raak die hart deur die aanvoelingsvermoë baie vrolik en opgewek gestem, maar in die teenoorgestelde geval verdrietig en bedruk. Gaan raadpleeg nou julle innerlike aanvoelingsvermoë! Hoe is dit gestem? Wat voel julle harte?”

[8] Die spreker sê: “Vir my altans voel dit so bly, asof die Allerver­hewenste en Mees Heilige hom êrens naby bevind en - selfs in hierdie herberg. Daarom voel ek `n besondere blydskap in my, hoewel my hart, net soos die van al my metgeselle, nou nie bepaald enige rede kan hê om bly gestem te wees nie; want ek alleen het - let wel - al vier dooie kinders die lang weg hierheen gebring, in die hoop dat hulle hier opnuut tot lewe gewek sou word, en het nou twee volle maande tevergeefs daarop gewag! Dit is tog verseker `n omstandigheid, wat om baie begryplike redes, nie die hart vrolik en opgewek kan stem nie; en tog is ons vandag reeds vanaf vanmôre vroeg, merkwaardig genoeg, baie opgewek en vrolik en kan ons ou verdriet nie meer voorstel nie. Ja, in my hart het ek selfs die gevoel asof iemand my die versekering gee dat ek my vier kinders lewend na Kaïro sal terugbring!” 

[9] Daarop sê al die ander ook: “ Ons voel ook dieselfde; en dit skyn ons toe dat dit inderdaad so en nie anders sal wees nie! Maar ons harte het nou in `n vreugdevolle begeerte ontbrand, laat ons dus, o meester, nie langer in die duister nie en sê ons waar die Allerverhewenste hom in Sy persoonlikheid nou bevind! In die gees is Hy oral teenwoordig, soos ons as ou Judeërs ook nog goed weet oor die God van Abraham, Isak en Jakob; Hy sien alles, hoor alles, weet alles, skep alles en hou alles in stand. Maar aangesien Hy nou Self, ooreenkomstig die ou beloftes, in menslike gedaante onder die mense van hierdie aarde bly en hulle groot weldade bewys, sou ons - natuurlik helaas altyd as groot sondaars in God se oë - die ou Skepper en Vader van die mens tog ook graag met ons liggaamlike oë wil sien en met ons bevuilde ore Sy Vaderstem wil hoor, sodat ons tuis vir alle mense kan sê: “Ons het God gesien en gespreek en het uit Sy eie mond Sy wil verneem, waarvolgens alle mense moet handel en lewe!” - Sê ons, groot meester en owerste van die ouds bekende wonderinstituut, waar Hy Homself nou bevind, miskien selfs vlak naby ons, Hy, wie se Naam geen menslike tong, nóg die tonge van alle engele kan uitspreek nie!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205