Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 206

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Wat die Heer van Syne verlang

206 Die spreker sê: “O Heer en Leraar! U is werklik eindeloos goed en wys, en is by al U goddelike heerlikheid onuitspreeklik sagmoedig, vol deemoed en minsaam, en vervul van die hoogste en grootste geduld! En dit versterk ons des te meer in ons geloof dat U werklik Die Een is wat aan ons, deur die mond van die profete, deur JaHWeH beloof is, en dat Hy `n egte Godsryk op hierdie aarde sal vestig, en hoe Hy dit sal doen. En omdat ons dit nou sonder enige twyfel glo, glo en verwag ons ook dat U so barmhartig sal wees om ons dooie kinders weer lewend terug te gee, wat ons voortaan seker wyser sal opvoed as wat die geval tot nou toe was!”

[2] Ek sê: “Ja, dit sal Ek vir julle doen - maar luister eers goed na wat Ek nou vir julle gaan sê! As julle dooie kinders lewend aan julle teruggegee word, baar dan geen opsien nie, nóg hier nóg op die terugreis nóg tuis, en maak My en ook die Essene nie verder bekend nie! Want van nou af aan sal daar geen dooies meer opgewek word tot die aardse lewe, wat die vlees betref nie, maar wel baie geestelike dooie siele tot die ewige lewe, waarvoor die mens geskape is. Van hierdie laaste daad in hierdie plek moet, behalwe My leerlinge, julle en enkele ander wat sal getuig, ook niemand iets te hore kry nie! Want Ek wil nie dat dergelike dinge ooit weer hier sal plaasvind nie.

[3] Wie in die vervolg tog nog dooie kinders of ander gestorwenes hierheen sal bring, sal nie alleen vergeefse moeite doen nie, maar sal bowendien allerlei ander ongemak te verduur hê. Maar as daar allerlei siekes in die ware geloof in My Naam ter genesing hierheen gebring word, sal hulle die genesing ook vind. - Daarmee weet julle nou wat julle moet doen en in ag moet neem!

[4] Gaan vanaand onder begeleiding van die een of ander Esseen na die krippe en open die geslote doodskiste, dan sal julle kinders julle dadelik lewend en volkome gesond volg! Maar vertrek more vroeg vinnig, sodat julle gedurende die dag geen opsien baar by die baie mense wat hulle nou hier in Essea bevind nie!

[5] As julle op weg na die huis mense met dooie kinders sal teëkom, wat julle vra hoe dit hier gaan, sê hulle dan openlik wat Ek vir julle gesê het, met betrekking tot die wederopwekking van dooie kinders, wat in die toekoms nie meer sal plaasvind nie, dan sal hulle geen verdere en vergeefse reise hierheen maak nie!

[6] Besoek tuis ook geen afgodetempel meer nie, en as mense julle ter verantwoording sal roep, sê dan dat julle nou die een, enige ware en lewende God gesoek en ook gevind het, wat julle getrou, openlik, duidelik en lewend getoon het wat julle moet doen! As mense julle daarna met rus sal laat, bly dan, maar as mense julle sal dwing, trek dan verder! Want Die Een wat julle hier help, kan julle ook altyd en oral help, as julle in Sy Naam sal glo en Hom volkome vertrou! As julle dit begryp het, kan julle hierdie herberg nou weer verlaat!”

[7] Daarop sê die spreker, wat My in sy hart vir alles bedank: “O Heer en Leraar, omdat ons nou al soveel barmhartigheid by U gevind het, wil ons ons dankbaarheid daarvoor so goed ons kan mettertyd met dade tot uitdrukking bring! Wees so barmhartig om vir ons te sê, watter offers ons hier uit groot liefde vir U moet bring en verrig!” 

[8] Ek sê: “Aan My en ook die Essene hoef julle geen ander offer te bring nie as dat julle voortaan alleen in die een ware God sal glo en Hom uit alle mag sal liefhê en julle arm naaste soos julleself, en dat julle julle hart beskerm teen selfsug, teen gierigheid en afguns, teen liefde vir die wêreld en teen hoogmoed; want alles wat in die oë, ore en harte van die wêreld groots en glansend is, is - luister goed! - in My oë `n gruwel!

[9] Neem van My `n voorbeeld! Ek alleen is die Heer en Leraar, en hemel en aarde lê in My mag en heerskappy, en tog is Ek van ganser harte sagmoedig, vol deemoed, geduld, liefde en erbarming, en laat My deur niemand eer soos ook die Fariseërs, die priesters van die heidene en ander ingebeelde grotes van die wêreld dit verlang nie.

[10] Bring My dus hierdie offers, dan sal julle julle voortdurend in My liefde en barmhartigheid kan verheug! En wat julle in liefde vir die arm mense in My Naam sal doen, sal steeds deur My beskou word asof julle dit vir Myself gedoen het, en daardeur sal julle vir julleself vir ewig groot skatte in My hemele versamel. Dit is die offers wat Ek van julle verlang.”

[11] Die spreker sê: “O Heer en Leraar, hierdie offers sal ons U altyd bring, en alles baie gewetensvol opvolg! Moet ons die yster doodskiste hier laat of moet ons dit ook weer saamneem?” 

[12] Ek sê: “Dit was `n dwase vraag! As julle julle lewend geworde kinders weer het, waarvoor het julle die doodskiste dan verder nodig? As julle mense sou ontmoet en die sou die leë kiste sien, sou dit ten eerste verraai wat julle hier ten deel geval het - en dit is nou waarvoor Ek julle nadruklik afgeraai het. Daarom is die vanselfsprekend wat daar met die oorbodige doodskiste moet gebeur. Die broeders Essene sal dit in hulle smelterye tot ploegskare en grawe laat omsmee en dit vir beter doeleindes gebruik. - Nou weet julle alles wat julle te doen staan; verlaat hierdie herberg dus met verligte harte!”

[13] Daarop bedank hulle My almal nog eens hardop en gaan weg.

[14] Maar teen die aand, toe die meeste mense hulle al in die herberg bevind het, stuur Ek `n Esseen na die krippe, waar die dertig al wag, saam met nog ander, wat ook hulle dooie kinders na Essea gebring het. Die dertig dink egter dat Ek dit nie op prys sou stel nie. Maar die Esseen het in die geheim al die opdrag van My gekry om alle doodskiste te laat oopmaak, maar tewens vir elkeen te sê wat Ek Self vir die dertig gesê het. - En so word alle dooie kinders weer tot lewe gewek.

[15] Dat hierdie daad meer as groot opsien by die betrokkenes gebaar het, is vanselfsprekend en dit hoef nie verder beskrywe te word nie. Al hierdie vaders en ook enkele moeders dank My in hulle harte en neem `n versterking in `n herberg, wat ongeveer `n halfuur buite Essea langs die weg na Egipte gelê het, om in die plek self geen opsien te baar nie, en reis vroeg in die oggend weer na hulle huise. 

[16] Die weer tot lewe gewekte kinders word allerlei dinge deur hulle ouers gevra, hoe dit vir hulle in die wêreld van die geeste was en of hulle hulleself iets daarvan kon herinner. Maar die kinders sê dat elke herinnering van hulle weggeneem was en kan hulle daarom geen uitsluitsel gee nie; en dus word hierdie kinders dan ook met rus gelaat en word hulle verder niks meer gevra nie. So is hierdie wonderdaad baie rustig verrig en byna sonder dat die mense, wat nog in die plek was, iets daarvan gemerk het.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205