Die Groot Evangelie van Johannes - Boek 8
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 209

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94, 95, 96, 97, 98, 99, 100, 101, 102, 103, 104, 105, 106, 107, 108, 109, 110, 111, 112, 113, 114, 115, 116, 117, 118, 119, 120, 121, 122, 123, 124, 125, 126, 127, 128, 129, 130, 131, 132, 133, 134, 135, 136, 137, 138, 139, 140, 141, 142, 143, 144, 145, 146, 147, 148, 149, 150, 151, 152, 153, 154, 155, 156, 157, 158, 159, 160, 161, 162, 163, 164, 165, 166, 167, 168, 169, 170, 171, 172, 173, 174, 175, 176, 177, 178, 179, 180, 181, 182, 183, 184, 185, 186, 187, 188, 189, 190, 191, 192, 193, 194, 195, 196, 197, 198, 199, 200, 201, 202, 203, 204, 205, 206, 207, 208, 209, 210, 211, 212, 213, 214, 215, 216, 217, 218, 219, 220, 221.

Roclus onthul die bedoelinge van die Fariseër

209 Hierdie kort toespraak van Roclus kom natuurlik absoluut nie tegemoet aan wat die twee tempeldienare eintlik hier wou bereik het nie; en daarom weet hulle nou nie hoe hulle met hulle versoek vorendag moes kom nie.

[2] Maar na `n rukkie kom een van die Fariseërs op die idee om die owerste deur dreigemente anders te stem en in `n sekere sin die hel so gloeiend moontlik vir hom te maak, en dus sê die Fariseër, met `n opgeblase gesig: “Luister, jy owerste, wat jou soveel laat gaan op jou waarheid en eerlikheid! In jou ywer het jy iets vergeet - ten eerste wie jy voor jou het, en ten tweede het jy nie alleen teen ons as owerstes in die tempel, maar ook openlik teen die tempel `n bose lastering uitgespreek en het jy jou daardeur in die hoogste graad strafbaar gemaak! As ons jou nou sou wil vervolg, sal dit vir jou en jou hele aanhang sleg gaan! Laat ons dus onder vier oë met jou spreek en doen dan wat ons van julle verlang, dan sal ons verder nie gebruik maak van dit wat jou ten laste van ons in die hoogste graad strafbaar gemaak het nie!” 

[3] Toe Roclus hierdie woorde hoor, word hy byna gloeiend van woede, kyk die twee met `n priemende ondersoekende blik aan en sê met harde en kragtige stem: “Luister, julle deur en deur geslepe Fariseërs! Sowaar as wat daar `n God leef, wat ek goed ken, maar wat julle nog nie leer ken het nie, en sowaar as wat ek nou hier staan, spreek en leef, sal ek nie doen wat julle, om julle sonde te bedek, onder vier oë van my verlang nie! Julle het gesê dat ek julle en die tempel gelaster het en my sodoende in die hoogste graad strafbaar gemaak het; maar in watter graad het julle julleself dan nie strafbaar gemaak in die oë van God, van die tempel en van die volk deur julle hoerery, egbreuk en seunskendery in die tempel nie?!

[4] Julle het die meisies en maagde, wat julle verkrag het totdat hulle byna beswyk het, die vroue wat deur julle toedoen aan hulle manne ontrou geword het en julle geskende seuns sogenaamd “ter genesing” hierheen gebring; maar julle bedoeling en wil is baie anders! Die oormaat van julle sonde het vir julle in Jerusalem inmiddels `n baie bose reuk gekry en `n groot vrees het julle bekruip, nie soseer vir God, in wie julle nog nooit geglo het nie, maar wel vir die wette van Rome. Daarom het julle met hulle wat hulle nou sleg versorg in die herberg by die groot plein bevind, hierheen gekom en wil nou, om julle baie meer as groot sonde te bedek, nie dat die deur julle siek en ongelukkig gemaakte mense hier genees nie, maar deur ons vermoor en begrawe word of ten minste na `n baie ver land onder wilde mense en diere verban word - en so moet ons vir julle nog die sluitstuk van julle sondes voltooi, waarvoor julle ons `n deel wil afstaan van julle aandeel van die straatrowery, wat julle hier in die geheim agtergehou het.

[5] Julle sê dat ek julle en die tempel gelaster en myself strafbaar gemaak het. Maar hoe staan dit nou eintlik met julle? Maar wat ek, wat van God die vermoë ontvang het om elke mens heeltemal te deursien en sy hart en niere te beproef, hier gesê het, kan ek julle met duisend getuies teenoor God en alle gewone wêreldse regbanke bewys. En as ek dit sal doen, hoe sal dit dan met julle staan? Julle dink om my met julle hoëpriesterlike dreigemente tot `n gruweldaad te dwing; maar nou staan die sake omgekeerd, en ek het julle nou in my mag! Wat sal julle nou doen?”

[6] Heeltemal oorbluf deur die woorde van die owerste, sê die twee: “Ook al sou jy die eerste kan bewys, dan sal dit jou tog moeilik val om te bewys dat ons die siekes met bose bedoelinge hierheen gebring het! En ook al sou jy miskien met behulp van die ou Egiptiese chiromansie (handleeskuns) - en beslis nie met behulp van God nie, op wie jy jou baie beroem en van wie jy moet bedink dat God nie met towenaars omgaan nie -`n bose opset in ons ontdek het, dan sal dit vir die regbank geen enkele waarde hê nie; want die gedagte alleen is nog lank geen daad nie en sou dit selfs nog nie wees, wanneer ons dit hardop aan jouself sou toevertrou het waarvan jy ons nou betig nie! Op die punt sou jy dus niks teen ons uitrig nie; wat die eerste punt betref is alle tempeldienare dieselfde, en dit sou vir jou ten slotte nog wel eens moeilik kan word, ook al staan jy as Griek en halwe heiden in hoë aansien by die Romeine. Want so `n groot en vername kollege van priesters soos ons in Jerusalem, wat `n groot mag besit, is nie so maklik met sukses aan te val nie. Sien dus af van jou dreigement, dan wil ons ook geen gebruik maak en jou ook nie vra om die siekes, wat ons hierheen gebring het, te genees nie; daar is immers elders ook nog genesingsoorde!”

[7] Na hierdie woorde maak die twee aanstaltes om weg te gaan; maar Roclus sê vir hulle: “Om hierheen te kom is wel maklik, maar om weer van hier af terug- en tuis te kom is baie moeiliker, en ons sal julle nie uit hierdie plek laat vertrek, voordat julle uitgevoer het wat ons julle in die Naam van JaHWeH sal voorskryf nie. Julle is in ons mag, en dit sal julle swaar beval om julle daarteen te verset.

[8] Die siekes sal hier genees word en julle sal met julle skatte vir hulle verdere lewensonderhoud sorg! Waar die geneesdes egter `n goeie en veilige inkomste sal kry, dit sal my sorg wees.

[9] Die straatrowery, wat deur julle hier in stand gehou word, sal volkome gestaak word, en alle geroofde skatte sal na hierdie plek gebring en teruggegee word aan die baie wat nog hier is! Want daar staan geskrywe: “Jy mag nie steel nie, en die besit van jou naaste nie begeer nie!”

[10] Is julle nie die ergste godslasteraars, as julle sê dat julle die vernaamste dienare van God is nie, en dat Hy alleen julle gebed verhoor, en dat julle die mag gegee is om vir die siele van die mense die poorte van die hemelryk te open? Julle self het nog nooit in `n God geglo en Hom in julle harte die korrekte eer gegee nie; maar wel het julle nog altyd elkeen hewig vervolg, wat gewek en vervul van God se Gees, noodsaaklikerwys teen julle gaan getuig het!

[11] Ek het self na die klein woestyn by die Jordaan gegaan en het na die boeteprediker Johannes geluister. Ek het elke woord van hom maar al te waar gevind en het my dan ook daarvolgens gerig; julle het ook wel na hom geluister, maar het vervolgens van haat vervul geraak en hy moes die baie smadelike slagoffer van julle onversadigbare wraaklus word. Maar noudat die groot beloofde Messias gekom het, vol van die hoogste wysheid en goddelike krag en mag, wat Hy in woorde en dade toon, wil julle Hom ook probeer doodmaak! Watter tipe mense is julle eintlik op die manier?!

[12] Julle verkondig die mens weliswaar die wette van Moses, maar self neem julle nie één in ag nie, en begaan alle sonde wat die duiwel, wat julle egte vader is, julle ook maar in julle boosaardige harte lê; julle lieg altyd teenoor God en alle mense; julle bedrieg, sweer valse ede; julle steel, roof, dood en moor, soos ek julle ook teenoor God en elke wêreldse regbank met wel duisendmaal duisend getuies sonklaar kan bewys - en julle waag dit om Hom `n godslasteraar te noem en hom dan ook te vervolg, wat, gewek deur die ware Gees van God, teen julle getuig en wat julle selfs nog van die afgrond van die ewige verderf wil red?!

[13] Sê en oordeel self, of die Sodomiete dit ooit so bont gemaak het as julle - en tog het God hulle met vuur uit die hemel van die aarde laat verdelg! Wat sal Hy binnekort dan wel met julle doen?

[14] Hieraan kan julle sien dat ons Essene julle, swart tempelnarre, maar al te goed ken en ook goed weet hoe goed en eerlik julle dit met ons mense het en hoe julle die arme Judeërs in die ban doen, wat enigsins aantoonbaar hulp by ons sou soek en ook sou vind; maar tog kom julle self, as dit sleg met julle gaan, na ons toe en verlang hulp! Sou dit die arme Judeërs nie net soveel baat as vir julle nie? O julle slegte huigelaars en geveinstes, julle slange- en addergebroedsel! As julle julle lewe nie grondig gaan verbeter nie, sal julle van die vloeke en ewige verdoemenis oor julle heen kry! Julle weet nou wat julle ten minste hier te doen staan!

[15] As julle nie aan my wens, wat vir God en alle mense geregverdig is, sal voldoen nie, sal ek julle met die verleende mag wat aan my deur God geskenk is, weet hoe om julle op `n manier te tugtig, waarvoor selfs alle duiwels sou vlug! - Het julle my begryp?”

[16] Die inwendig deur en deur woedende Fariseër sê: “O ja, vriend, dit verseker, en ons sal hier ook wel volgens vermoë aan jou wens voldoen; maar hoe die hele tempel later sal reageer op die onreg wat ons hier aangedoen is, dit weet ons nie. Want ons sal alles wat ons hier oorgekom het, in die groot raad bring, net soos - en daar het vir ons nou eers `n lig oor opgegaan - die feit dat sowel Johannes die boeteprediker, en nou veral ook die beroemde Nasarener, uit julle instelling afkomstig is en die Nasarener uit julle vandaan kom.

[17] Maar ons is nou bereid om alles te doen wat jy van ons verlang het en dit blyk vir ons dat dit nou die tyd is dat ons dadelik aan die werk moet gaan, omdat ons vandag nog wil vertrek. Laat ons dus na ons herberg gaan, waar ons siekes hulle bevind, en dan kan alles daar in `n kort tydjie gereël word!”

[18] Die owerste Roclus sê: “Baie goed; so wil ek dit ook hê, laat ons dus daarheen gaan!”


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205